DIE SLAG VAN CHRISSIESMEER

Die Slag van Chrissiesmeer het op 6 Februarie 1901, tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind.

Genl. Louis Botha was seker dat hy die swak plekke in die Britse mondering in die Oos-Transvaal ontdek het, want hoewel genl. HL Smith-Dorrien se konvooi oor baie manskappe bestaan het, is hulle geïsoleer. Dit was juis die groot hoeveelhede ammunisie, wapens en kos wat saam met die kolonne getrek het, wat vir genl. Botha onweerstaanbaar was. As hy ’n nagtelike aanval op die konvooi kon loods, het hy geredeneer, sou hy dalk ’n oorhand oor die Engelse kon behaal. Met hierdie doel voor oë het hy noordwaarts vanaf Ermelo vertrek en op 5 Februarie het hy by Chrissiesmeer aangekom. Teen sononder het hy die offisiere bymekaargeroep en die laaste bevele gegee.

Smith-Dorrien het juis die aand van die 5de aan die noordelike punt by Bothwell uitgekamp; waar die paaie van Carolina, Ermelo en Swaziland bymekaarkom. Smith-Dorrien was baie gerus toe hy op hierdie kampplek besluit het, hoewel hy berig gekry het van ’n groot groep Boere wat in die rigting van Amsterdam getrek het. Kol. Henry het probeer om een van die groepe Boere in te haal maar kon nie daarin slaag nie. Soos gewoonlik het klein groepies Boere hulle gepla, maar ook dit het Smith-Dorrien verder onder die indruk gebring dat die Boere besig was om in die rigting van Swaziland pad te gee.

Die kamp was goed geleë; in die middel van ’n plato wat deur ’n heuwel gevorm is. Die waens, perde en artillerie was in die middel van die kamp. Die infanterie, onder bevel van kol. Spens het die buiteposte beman, met die Cameron Highlanders aan die suidekant, die West Yorkshires aan die noordweste en die Suffolks aan die noordooste. Die manskappe het hulself goed ingegrawe, en hoewel die nodige voorsorgmaatreëls getref is, het nie een van hulle gedink dat die Boere so voorbarig sou wees om so ’n goed voorbereide posisie aan te val nie.

Dit was reeds donker en almal het nog geslaap toe genl. Botha en sy 2000 manskappe om die westelike grens van die meer gerek het. Dit het hom by die West Yorkshires se wagposte gebring. Om 02:55, net voordat ’n offisier van French se hoofkwartier die kamp binnegery het met opdragte vir Smith-Dorrien, het die eerste skote geklap, gevolg deur hewige geweervuur. Hoewel die wagposte kalm gebly het, was daar chaos in die kamp. Die perde van die 5th Lancers en die Imperial Light Horse, wat die teiken van ’n paar goed gemikte skote was, het losgebreek en deur die kamp gebars. Sommige van die soldate wat nog deur die slaap was, het gedink dat die Boere in hul midde was en het blindelings begin vuur op alles wat in die kamp beweeg het. Hulle kon nie verstaan wat aan die gang was nie. Dit was die eerste geveg van baie nuwelinge van die West Yorkshires en dit was juis hulle wat die kwaaiste onder die Boere deurgeloop het.

Die Boere het daarin geslaag om die perde wat tot by hulle deurgedring het, terug te draai in die rigting van die wagposte. Wilhelm Mangold het aanvanklik gedink dit was die kavallerie wat aangeval het. Toe het hulle agtergekom dat dit ruiterlose perde was wat boonop paniekbevange was. “Skiet, kêrels, skiet!” het die bevel gekom. As die perde deur die Boerelinies gebreek het, sou dit chaos veroorsaak het, maar gelukkig het die perde omgeswaai. Die groepie Boere wat midde-in die stormende perde geskuil het, het daarin geslaag om twee van die wagposte te oorval. Verkenner Biccard en sy manskappe het hulle ondersteun. Toe dit gelyk het of die Boere ’n oomblik sou weifel, het Mangold hulle aangemoedig. “Heidelberg! Storm!” Met ’n moedige “Hoera” het hulle voortgestorm. Die voorste Boere het egter te diep tussen die Engelse deurgedring en daar is van drie kante af op hulle geskiet en hulle kon nie vorentoe beweeg nie. Dolf Spruyt het tussen hulle deurgestap; hy het hier bemoedig en daar geraas totdat hy in ’n vlaag van koeëls op sy knieë neergesak het. Op die linkerflank het Biccard daarin geslaag om sy manne met nuwe moed te besiel en hulle het ook vorentoe gestorm. Sy manne het hom amper blindelings gevolg omdat hulle hom geken het. Dit was ondanks die feit dat hy by geleentheid ’n dodelik gewonde kmdt. Kriegler onder die neuse van die Engelse gaan haal het. Biccard het vorentoe gestorm, net om die volgende oomblik dodelik gewond neer te sak. Die Heidelbergers het gekniel en desperaat begin skiet, al is dit gevaarlik om in die donker te skiet aangesien elke skoot jou posisie aan die vyand verraai. Dit het wedersyds gewerk; Petrus Roets is in die nek getref terwyl William Mangold die volgende slagoffer was. Lt. Kunze het gesien wat gebeur het en het vorentoe gestorm om Mangold na veiligheid te bring.

Aan die Engelse kant het lt. Cantor reeds met die eerste stormloop gesneuwel. Die meeste van sy manskappe was dood of gewond. Die Suffolks het egter vasgestaan hoewel die Boere reeds tot teenaan hulle gevorder het. Genl. Botha kon net nie deur die Engelse se verdedigingslinies dring nie. Dit was veral die optrede van die Suffolks wat onder die geledere in die kamp gebring het. Na 45 minute het Botha besef dat sy aanval misluk het. Hy het reeds 80 man verloor, onder wie ses Heidelbergers. Genl. Piet Viljoen is ook ernstig gewond. Omdat hulle so goed verskans was, het die Engelse slegs 75 man verloor. Om 04:30 was die Boere reeds besig om te retireer. Smith-Dorrien het besluit om die terugvallende Boere agterna te sit, maar die digte mis het dit feitlik onmoontlik gemaak. Teen 06:00 het kol. Henry dit reggekry om die spoor van die Carolina-kommando te volg, maar ook hy kon net daarin slaag om met die agterhoede te veg. Ook die res van Botha se mag het in die niet verdwyn.

Twee weke later het die vroue van die Heidelbergers in die konsentrasiekamp in Pietermaritzburg eers berig gekry oor wat by Chrissiesmeer gebeur het, met riemtelegramme oor die tragedie wat soos ’n veldbrand deur die kamp versprei het. Janie Kriegler het op 22 Februarie in haar dagboek geskryf dat sy te hartseer was om te skryf omdat soveel goeie vriende hul lewens opgeoffer het. Vir die Heidelberg-kommando was dit, volgens haar, ’n ernstige en byna onvervangbare verlies.