DIE SLAG VAN BRONKHORSTSPRUIT

Die Slag van Bronkhorstspruit het op 20 Desember 1880 plaasgevind.

Dit was die heel eerste veldslag wat plaasgevind het nadat die Eerste Vryheidsoorlog uitgebreek het. Nadat die Boere op 13 Desember 1880 besluit het om vir hul onafhanklikheid te veg, het die Transvalers die Britse garnisoen by Potchefstroom beleër en ’n voorlopige regering op Heidelberg ingestel. Intussen was die 94ste regiment onder bevel van lt.kol. Anstruther onderweg van Lydenburg om hulle by die Britse magte in Pretoria aan te sluit. Die opdrag vanaf Heidelberg was dat die Britse magte, wat uit nege offisiere en 154 manskappe bestaan het, verhoed moes word om Pretoria te bereik.

Die Boeremag onder bevel van kmdt. Frans Joubert het naby Bronkhorstspruit gelê en wag en hier het hulle Anstruther skriftelik versoek om om te draai. Anstruther het egter geweier en in die geveg van tien minute wat gevolglik uitgebreek het, het 56 Britse soldate gesneuwel terwyl nog 91 gewond is. Altesaam 21 van die gewondes, onder wie Anstruther, is later dood.

Onder die Boeremagte het slegs twee soldate gesneuwel terwyl vyf gewond is.

Kaart van die Slag van Bronkhorstspruit (Jackie Grobler-versameling)