DIE SLAG VAN ELANDSLAAGTE

Die Slag van Elandslaagte het op 21 Oktober 1899 in KwaZulu-Natal tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind.

Dit was een van die min taktiese oorwinnings wat die Britte tydens die oorlog behaal het, maar hulle het hul voordeel weggegooi deur agterna terug te val.

Met die Boere se inval van Natal het ’n mag onder leiding van genl. Johannes Kock die spoorlyn by Elandslaagte tussen Ladysmith en Dundee beset. Elandslaagte is ’n steenkoolmyn en boeregemeenskap omtrent 26 km noordoos van Ladysmith. Die spoorlyn is opgeblaas in ’n poging om die Britte daarvan te weerhou om troepe per trein na Transvaal te stuur. Kock se magte het hoofsaaklik uit manne van die Johannesburg-kommando bestaan, ondersteun deur buitelandse vrywilligers uit Nederland, Ierland, Duitsland, Frankryk en die Verenigde State van Amerika.

Nadat genl. (sir) George White verneem het dat die telegramlyn afgesny is, het hy sy kavalleriebevelvoerder, genl.maj. John French gestuur om die spoorlyn weer in besit te neem. Kort na dagbreek op 21 Oktober het hulle aangekom en French het opgemerk dat die Boere op volle sterkte was en twee veldkanonne byderhand gehad het. Hy het versterkings vanuit Ladysmith per telegram aangevra en hulle het per trein op Elandslaagte aangekom.

Terwyl drie batterye veldkanonne die Boereposisie gebombardeer het, en die Eerste Bataljon frontaal in oop orde gevorder het, het die hoofaanval, onder bevel van kol. Ian Hamilton, om die Boere se linkerflank beweeg. Die lug het geleidelik donker geword weens donderwolke en toe die Britte wou aanval, het die storm gebars. Die Britte moes ’n plaasheining van doringdraad in swak sig en gietende reën trotseer. Verskeie mans is hierin verstrengel en geskiet. Nogtans het hulle die draad geknip of afgebreek en die grootste deel van die Boereposisie beklee.

Sommige klein groepies Boere het wit vlae gewys toe genl. Kock ’n teenaanval geloods het terwyl hy spoggerig met sy beste uitrusting en ’n hoed uitgevat was. Hy het die Britse infanterie teruggedryf maar kol. Hamilton het hulle geïnspireer om te hergroepeer en die Boere weer te bestorm. Kock het aan sy beserings beswyk terwyl ander swaar gewond of gedood is.

Die oorblywende Boere het hul perde opgesaal en probeer om terug te val, maar twee groepe soldate van die Britse kavallerie het met lanse en swaarde tussen hulle gekom en baie van die Boeresoldate afgesny. Dit was een van die min geleenthede waartydens die Britse kavallerie kontak met die Boeremagte gemaak het. Die Boere se veldkanonne het in Britse hande beland, maar in werklikheid het dit aanvanklik buitendien aan die Britte behoort en die Boere het dit in die nadraai van die Jameson-inval afgeneem.

Sir George White het gevrees dat Ladysmith deur 10 000 Boere van die Vrystaat aangeval sou word en daarom het hy die magte by Elandslaagte beveel om daarheen terug te val. Die Britte was moeg en die poging om terug te val, het in wanorde ontaard. Die afdeling by Dundee was geïsoleerd en moes ’n ompad neem om hul veiligheid te verseker. Die Boere het Elandslaagte twee dae later weer beset.

Die Britse magte het genl. Kock gevange geneem en kort na die veldslag het hy aan sy wonde beswyk. Nog ’n offisier wat gevange geneem is, was lt.kol. Adolf Schiel. Hy was van Duitse herkoms maar het sedert 1878 in Suid-Afrika gewoon. Schiel was die leier van ’n Duitse kommando in die veldslag. Na die oorlog het hy na Duitsland teruggekeer en hy is in 1903 oorlede.

Onder die Britse slagoffers was kol. John-James Scott-Chisholme, bevelvoerder van die Imperial Light House. Hy is doodgeskiet toe hy van voor af leiding geneem het en sy troepe aangemoedig het deur ’n veelkleurige serp te swaai. Die veldslag was ook die enigste een waaraan die Hollanderkorps deelgeneem het. Dit was ’n korps wat uit 150 Nederlandse vrywilligers bestaan het en ’n maand tevore tot stand gekom het. Tydens die veldslag het nege lede gesneuwel en die Britse magte het 35 lede gevange geneem. Een van hulle was Willem Frederik Mondriaan, die broer van die Nederlandse kunstenaar Piet Mondriaan. Hy het weg van die slagveld gekruip maar die Britse magte het hom kort daarna gevange geneem. Hy is as krygsgevangene na St. Helena geneem en het in 1903 na Suid-Afrika teruggekeer. Cornelis Vincent van Gogh, die broer van die Nederlandse kunstenaar Vincent van Gogh, het ook aan die veldslag deelgeneem. Hy is gewond en gevange geneem en is kort daarna oorlede.

Die name van die Nederlandse slagoffers is op ’n monument by die slagveld aangebring, maar vandale het dit in 2014 vernietig.