DIE SLAG VAN BUFFELSPOORT
Teen Desember 1900 was die stryd tussen Boer en Brit reeds langer as ’n jaar aan die gang.
Die Boere se voorrade en ammunisie het min geword en hul klere was verslete; die Boere het die Britte aangeval in ’n poging om hul voorrade aan te vul. In Desember 1900 het ’n swaar gelaaide Britse konvooi na Rustenburg teruggekeer nadat hulle voorraad gaan haal het by hul voorraaddepot in Rietfontein naby Silkaatsnek. Genl. Koos de la Rey het besluit om die Britse konvooi op 3 Desember aan te val wanneer hulle Buffelspoort sou bereik. Sy plan was dat genl. Smuts en sy Rustenburg-kommando die voorhoede sou aanval, genl. Boshoff die agterste deel van die voorste konvooi, terwyl hyself en 150 burgers van Krugersdorp die agterhoede sou aanval.
Die moeilike roete oor die Magaliesberg het gemaak dat al die groepe laat by hul posisies aangekom het. Die voorste konvooi het reeds die hoë grond aan weerskante van die nek beset, daar was 21 infanteriste met twee kanonne op die lae koppie en daar was nog ’n honderd infanteriste in die donga wat die roete gekruis het.
Kol. Wolridge-Gordon, die bevelvoerder van die Britse magte, het ’n aanval verwag. Hy heet die konvooi in drie verdeel, in die nag oor Buffelspoort beweeg en sy manne in drie groepe geplaas met 138 waens tussenin. Genl. De la Rey het sy planne noodgedwonge verander en besluit om aan te val.
Na ’n verwoede geveg het hy die infanteriste in die donga verslaan en die Britse troepe op die heuwels vasgekeer. Nadat hy die aanval gestaak het, het hy opdrag gegee dat soveel van die voorraad as moontlik verwyder moes word. Hulle het dit op vyftien waens gelaai en saam met die osse weggeneem terwyl die res van die waens verbrand is. Die buit was waardevol; daar was genoeg klere en stewels, asook lekkernye vir Kersfees.
Op 2 Desember 2000, ’n eeu nadat die slag plaasgevind het, is ’n monument ter herdenking daarvan opgerig. Ds. Ben Prinsloo van Elandskraal was die ontwerper daarvan, met die simboliek van Dawid se oorwinning oor Goliat, waarin Dawid die reus in geloof met ’n slingervel neergevel het voordat hy hom met sy eie swaard onthoof het. Oorblyfsels wat op die slagveld agtergebly het, onder meer ’n wa-band, wa-as en briek is daarvoor gebruik.
Die hardekoolstomp het uit die tyd van pres. Paul Kruger gedateer en is gebruik om die spoorlyn tussen Pretoria en Lourenço Marques te bou. Die stomp was afkomstig van die plaas Nooitgedacht. Die boom is gedeeltelik afgekap maar die stomp het onbenut gebly; dalk omdat dit te dik vir die dwarslêers van die spoorlyne sou wees. Daar is ook ’n gedeelte van die stomp by die museum by Majuba. Die hardekoolstomp is tiperend van die Boerevolk; hoewel daar uiterlik tekens van stryd en swaarkry is, is dit binne ongeskonde. Die skuins gemonteerde wa-as stel die lyding en stryd van die mans, vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog voor. Die laagste en kortste punt van die volledige wa-as weerspieël ons voorgeslag se diep depressie en die ander punt, wat skuins loop, simboliseer loutering en die geestelike verheffing wat daaruit voortgespruit het.
Die vertikaal gemonteerde as is die geloofsvingers, tiperend van die Boere se geloof en afhanklikheid van God.