DIE SLAG VAN DWARSVLEI

Teen Junie 1900 het die Britte die meeste groot dorpe in Transvaal beset, maar die Boere was steeds in beheer van die plattelandse gebiede in die Magaliesberg en Rustenburg was so te sê onder beleg.

Op 11 Julie 1900 het ’n peloton van berede infanterie- en artilleriesoldate onder bevel van genl.maj. Smith-Dorrien van Krugersdorp af vertrek om die Boere van hul vesting in die Magaliesberg te verdryf en die druk op Rustenburg te verlig. Die peloton het uit 1300 soldate bestaan; hulle was hoofsaaklik verbonde aan die hoog aangeskrewe Golden Highlanders-regiment. Verdere versterkings van die Rietfontein-kamp het by Hekpoort by hulle aangesluit.

Omtrent 15 km buite Krugersdorp, by die hedendaagse Maropeng-besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom, het genl. Sarel Oosthuizen se Krugersdorp-kommando hulle gekonfronteer. Genl. Oosthuizen het toe reeds bekendheid verwerf vir sy leierskap aan die Natalse slagvelde, veral toe hy Winston Churchill gevange geneem het. Dit was egter die eerste keer wat burgers wat opnuut gewerf is en reeds ’n eed van trou afgelê het, aan ’n veldslag deelgeneem het.

Genl. Oosthuizen het sy eie plaas, Dwarsvlei, as slagveld gekies. Die plek waar die Witwatersberge op ’n kruising van die Krugersdorp-Hekpoort-pad uitkyk, was ideaal vir ’n hinderlaag. Hy het nie ’n groot mag gehad nie; net 750 soldate moes ’n peloton dubbeld so groot trotseer. Hy het hulle egter langs die kruine van die omliggende heuwels ontplooi en hulle het in stilte gewag dat die Britse soldate in hul rigting gemarsjeer het. Toe die Britte die kruising bereik het, het die Boere op hulle losgebrand.

Ligging van die Slag van Dwarsvlei in die Magaliesberg-biosfeerreservaat

Die veldslag wat gevolg het, het buitengewone dade van albei kante af opgelewer. Genl.maj. Smith-Dorrien se artilleriesoldate het in ’n gaping tussen twee koppies naby die bokant van die rif gery, maar die Boere se soldate het hulle aan weerskante ingewag. Binne ’n halfuur is 14 van die 17 kanonniers getref en hul perde is in hul harnasse geskiet. Gewonde manne het agter haastig geboude skuilings vasgevang gelê.

Die afdelingsbevelvoerder, lt. Turner, het alleen aangehou om te skiet, al is hy drie keer gewond. Later het kapt. WE Gordon en kapt. DR Younger van die Golden Highlanders elkeen ’n Victoria Cross ontvang vir hul pogings om self die gewere veilig te maak. Kpl. JF Mackay, wat twee maande tevore ’n Victoria Cross verwerf het, is vir nog ’n toekenning aanbeveel toe hy die gesneuwelde soldate uit die vuurlyn gedra het.

Luitenant Turner probeer om die gewere alleen af te vuur

Die slag het die hele dag plaasgevind en die Golden Highlanders het die Boere se heldhaftige pogings om hul waens en gewere te beset, weerstaan. Teen skemer het genl. Oosthuizen ’n laaste wanhopige aanslag teen die Britse soldate geloods. Net ’n paar meter verder is hy gewond; hy is ’n paar weke later dood. Nadat die Boere hul bevelvoerder verloor het, het hulle teruggeval en die Britte kon terug Krugersdorp toe strompel.

Genl. Oosthuizen en kapt. Younger se grafte is ’n paar meter uitmekaar in die Krugersdorp-begraafplaas geleë. Benewens ’n blou gedenkplaat wat deur genl. Oosthuisen se agterkleinseun onthul is, is daar geen ander monument wat die plek aandui waar die Boere een van hul dapperste bevelvoerders verloor het en waar twee Britse soldate die hoogste toekenning vir hul heldedade verower het nie.

Bron: Vincent Carruthers op The Heritage Portal; vertaal deur Daantjie Badenhorst