BART PRETORIUS-BEGRAAFPLAAS

Hercules Albertus (Bart) Pretorius was die jonger broer van die Voortrekkerleier Andries Pretorius en is op 22 Augustus 1803 gebore.

Hy is op 4 April 1836 as veldkornet van die Voor-Sneeubergwyk beëdig en het as laerkommandant saam met die Wenkommando teen die Zoeloes uitgetrek. Hy was een van vyf ruiters wat uit die Bloedrivier-laer gejaag het om die Zoeloes uit te lok om weer te storm. Bart was Andries se adjudant toe Andries met die Slag van Bloedrivier kommandant-generaal was.

Hy en sy broers Piet en Wynand het hulle in 1840 by die huidige Broederstroom naby Hartbeespoort, wat na hulle vernoem is, gaan vestig en Bart het in 1845 ’n huis gebou wat nou nog staan. Andries Pretorius het sy broers in 1848 na dieselfde omgewing gevolg maar is vyf jaar later oorlede. Andries se seun, Marthinus Wessel Pretorius, na wie Pretoria vernoem is, het hom in dieselfde omgewing gevestig.

Bart is op 25 September 1889 in die ouderdom van 86 jaar oorlede. Die begraafplaas naby Broederstroom waar hy ter ruste gelê is, dra sy naam. Benewens sy graf is daar ’n aantal ongemerkte grafte en Piet Retief se kleindogter is ook hier begrawe. Die ongemerkte grafte is waarskynlik dié van Pretorius-afstammelinge wat tydens die Spaanse griep in groot getalle oorlede is en haastig begrawe moes word.

In Maart 2023 het die FAK se Brits en Hartbeespoort kultuurnetwerke met die Koersvas-Voortrekkerkommando saamgespan om hierdie begraafplaas skoon te maak en op te knap om saam te val met die 185ste herdenking van die Groot Trek. Die naambord van die begraafplaas was voorheen toegegroei, maar dit is weer oopgesnoei en opnuut stewig opgerig.