ANDRÉ P BRINK (1935-2015)
André P Brink was ’n wêreldbekende Afrikaanse skrywer en professor in letterkunde.
André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 op Vrede in die Vrystaat gebore. In 1955 het hy die BA-graad met lof aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys behaal en na verskeie ander grade ’n MA in Afrikaans. Van 1959 tot 1961 het hy aan die Sorbonne-universiteit in die Franse hoofstad Parys gestudeer en hier het sy skryfwerk in alle erns begin.
Vanaf Julie 1961 het Brink aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad begin doseer en nadat sy opspraakwekkende roman Lobola vir die lewe verskyn het, het hy die skrywers van die Sestiger-beweging leer ken en ’n leidende rol in die verset teen die sensuurstelsel vertolk. In 1975 het hy ’n DLitt-graad verwerf na aanleiding van sy reeds gepubliseerde werke, Aspekte van die nuwe prosa, Aspekte van die nuwe drama en Die poësie van Breyten Breytenbach.
Brink het veral na die verskyning van sy roman Kennis van die aand in 1973 midde-in die stryd teen die apartheidsregering beland. In hierdie roman het hy krities gekyk na die dinamika van Suid-Afrika se veelrassige samelewing. Dit het die eerste roman geword wat ingevolge die streng sensuurwette van destyds verbied is. Hy het dit in Engels vertaal en só ’n internasionale teikengehoor bereik. Van daardie tyd af het sy romans tegelyk in Afrikaans en Engels verskyn. Drie jaar tevore het hy tydens ’n Gandhi-gedenklesing naby Durban getiteld “Mahatma Gandhi and his relevance to present-day South Africa”, ’n striemende aanval op die regering se apartheidsbeleid geloods en in 1972 in ’n brief aan Die Transvaler gesê dat geen Afrikaner die naam van ’n Christen werd was nie. In 1974 is die rolprent, ’n Sonneblom uit Parys, waarvoor hy die draaiboek help skryf het, in die Franse hoofstad verfilm. Sybel Coetzee en Babs Laker het twee van die hoofrolle vertolk. Die verfilming daarvan het egter saamgeval met die staatsbegrafnis van pres. Georges Pompidou, wat kort tevore oorlede is. Die meeste van Parys se toeristeaantreklikhede moes uiteraard by die rolprent ingesluit word, maar die owerhede het beswaar gemaak teen die filmspan se teenwoordigheid. Omdat hy Frans magtig was, kon Brink aan die owerhede verduidelik waarmee hulle besig was. In 1975 is hy gevra om ’n praatjie tydens Abraham Fischer se verassingsdiens te lewer. By hierdie geleentheid het hy gesê dat die Afrikaner net sal voortleef weens die bevrydende invloed van mense soos Fischer. Die verbod op Kennis van die aand het gelei tot die stigting van Taurus-uitgewers, onder leiding van Ernst Lindenberg, Ampie Coetzee en John Miles. Die rede hiervoor was dat geen ander gevestigde uitgewer hierna bereid sou wees om sy volgende boek, ’n Oomblik uit die wind uit te gee nie, uit vrees vir finansiële verliese wat met verbanning gepaard sou gaan. Nadat Human en Rousseau, die uitgewer van Kennis van die aand, teen die verbod geappelleer het, is dit opgehef met die voorwaarde dat dit slegs in hardeband uitgegee kon word en slegs aan mense ouer as agttien jaar verkoop kon word. In 1979 is ’n Droë wit seisoen ook verbied weens die politieke strekking daarvan, maar hierdie verbod is ook later opgehef.
In die 1970’s en 1980’s het Brink se politieke oortuigings daartoe gelei dat die veiligheidspolisie hom dopgehou het en hy in verskeie voorvalle met hulle betrokke geraak het. Sy huis en kantoor is per geleentheid sonder wettige magtiging deursoek en een aand is ’n brandbom op sy huis gegooi, maar dit het onskadelik van die dak af gerol. Hy is oral agtervolg en sy lewe is op verskeie maniere ontwrig en versuur. Die veiligheidspolisie het sy reisreëlings gereeld omvergegooi deurdat hulle sy vlugte gekanselleer het. Hy moes gereeld onverrigter sake van die lughawe af terugkeer al het hy ’n geldige vliegkaartjie gehad. Hy is op hierdie wyse ook meer as een keer in die buiteland vertraag. Selfs toe hy oorsee was, is sy bewegings dopgehou. Daarby is elke persoon met wie hy in aanraking gekom het, ondersoek. In 1983 is hy gevra om ’n anti-apartheidsartikel te skryf vir ’n eksklusiewe publikasie wat as katalogus sou dien vir die kunsuitstalling Art against apartheid wat onder die beskerming van die Verenigde Nasies aangebied is. In 1987 was hy deel van ’n afvaardiging wat die destyds verbode African National Congress in die Senegalese hoofstad Dakar ontmoet het om te beraadslaag oor politieke verandering in Suid-Afrika en in 1989 het hy die ANC by die Victoria-waterval ontmoet as ’n deel van die afvaardiging van skrywers. Sy uitgesproke politieke oortuigings het gemaak dat hy in Januarie 1976 moes bedank as lid van die redaksie van Standpunte, ’n publikasie waarby hy sedert die 1960’s betrokke was.
Brink is in 1959 met sy eerste vrou, Estelle Naudé, getroud. Hulle het saam gestudeer, maar nadat ’n seun, Anton, gebore is, is hulle in 1965 geskei. In 1963 het hy vir die eerste keer met Ingrid Jonker kennis gemaak, en hierdie verhouding het in albei se werk neerslag gevind. In 1964 het Jonker die prysgeld wat sy met haar bundel Rook en oker gewen het, gebruik om deur Wes-Europa te toer. Brink het hom by haar aangesluit, maar die verhouding het rampspoedig geëindig en Jonker is weens depressie in ’n hospitaal in Parys opgeneem. In 2015 is ’n versameling liefdesbriewe wat hulle vir mekaar geskryf het, getiteld Vlam in die sneeu, uitgereik. Hy was van 1965 tot 1966 getroud met Salomi Louw, ’n digteres en latere professor aan die Universiteit van die Noorde, maar hierdie huwelik het op ’n egskeiding uitgeloop. Sy langste huwelik was met Alta Muller, met wie hy in 1970 getroud is. Hy het haar in Bloemfontein ontmoet tydens ’n opvoering van een van sy toneelstukke. Voor haar troue was sy in beheer van die garderobe by SUKOVS. Hulle is in 1987 geskei nadat twee kinders gebore is. In 1990 is hy getroud met Marésa de Beer, ’n sielkundige wat hy by die Rhodes-Universiteit ontmoet het terwyl hy daar klasgegee het. Hulle is egter ook mettertyd geskei. Sy laaste huwelik was met Karina Dorn (gebore Szczurek), ’n Pools-gebore PhD-student van Salzburg in Oostenryk, wat baie jonger as hy was. Hulle is in 2006 getroud en sy het hom oorleef.
Nadat sommige van sy familielede gesterf het of aangerand is in die misdaadvloed wat Suid-Afrika sedert 1994 geteister het, het Brink in 2006 belangwekkende artikels oor die droewige stand van sake in die Franse dagblad Le Monde en in The Sunday Independent geskryf terwyl hy toenemend kritiek uitgespreek het teen sekere fasette van die ANC-regering soos wydverspreide korrupsie en beoogde pogings om die media te muilband. In 2006 het hy dit in The Sunday Independent duidelik gestel dat daar, volgens hom, geen hoop meer vir Suid-Afrika was nie en geen rede was om optimisties te wees nie. Die ANC het ’n wet beoog wat inbreuk op vryheid van spraak sou maak onder die dekmantel dat daar inligting is wat “om veiligheidsredes” nie aan die publiek beskikbaar gestel sou kon word nie en wat informante swaar sou straf. In 2010 was Brink en Nadine Gordimer onder die mense wat ’n petisie opgestel het teen wetgewing wat die vryheid van spraak in Suid-Afrika sou bedreig.
Op 6 Februarie 2015 is hy op ’n KLM-vlug van Amsterdam na Kaapstad oorlede kort nadat hy ’n eredoktorsgraad van die Franssprekende Katolieke Universiteit in Louvain-la-Neuve in België ontvang het. Daar word vermoed dat hy ’n aneurisme gehad het. Sy gesondheid het die voorafgaande jare agteruitgegaan en hy moes sy eredoktorsgraad in ’n rolstoel ontvang. Hy was 79 jaar oud.
deur Daantjie Badenhorst