ANDRÉ SCHOLTZ (1945-2024)
Die televisie- en rolprentvervaardiger André Scholtz is op 30 September 2024 in die ouderdom van 79 jaar aan kanker oorlede.
Hy is in Discovery aan die Wes-Rand van Gauteng gebore en het aanvanklik in Zambië grootgeword waarna die gesin na Koffiefontein in die Vrystaat, waar sy pa op ’n plaas in die distrik geboer het, verhuis het. Sy pa het vroeër by die kopermyn in Chingola gewerk en sy ma was ’n onderwyseres. Hy het ’n B Comm-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Sy eerste werk was by die Ontvanger van Inkomste in Bloemfontein; later het hy onder meer by Barclays-bank en by Gallo Records gewerk. Hy het saam met omtrent elke sanger of sangeres in die destydse musiekbedryf gewerk. Voordat hy met die vervaardiging van rolprente en televisiereekse begin het, was hy die finansiële- en beplanningsbestuurder van Ster-Kinekor en het hy die regte van alle plaaslike produksies vir dié maatskappy bekom. Streng sensuur in Suid-Afrika het gemaak dat hy die filmrolle van onder meer Last tango in Paris, Jesus Christ Superstar en A clockwork orange nog in hul blikke na Swaziland vervoer het en dit daar vertoon het om vertoningskontrakte met die oorsese vervaardigers na te kom. Hy het met plaaslike vervaardigers soos Tommie Meyer, Emil Nofal, Koos Roets, Elmo de Witt en Daan Retief gewerk. Hy het Elmo de Witt gehelp om Jan Scholtz se bekende rolprent Môre môre te versprei. Volgens Elmo moes die rolprent oral in die land op dieselfde tyd begin draai, al was dit nie destyds die gewoonte nie. Dit het egter gebeur en Môre môre was gevolglik ’n sukses. In hierdie tyd het hy ook sy Meestersgraad in Besigheidsleierskap (MBL) aan UNISA verwerf. Sy verhandeling het oor die bemarking en verspreiding van rolprente gegaan.
Sedert 1976 het hy die vervaardiging van omtrent dertig Suid-Afrikaanse rolprente en sewe drama-en komediereekse vir die SABC, M-Net en kykNET behartig. Hy was onder meer die vervaardiger van die televisiereekse Fees van die ongenooides en Pandjieswinkelstories asook die rolprente Toorbos, Babalas, Suurlemoen, ’n Paw paw vir my darling, Andries plak en Die wonderwerker. Hy en Leon Schuster het saam aan verskeie rolprente gewerk, onder meer die twee You must be joking-rolprente en Panic mechanic. Hy het in 2019 sy vyftigste jaar in die bedryf gevier en tydens verlede jaar se Silwerskermfees is hy met ’n toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die bedryf vereer.
Hy was getroud met Riana Pienaar, wat onder meer in die rolprente Tant Ralie se losieshuis en Skelms te sien was. Hulle is getroud nadat sy saam met André, asook Jan Scholtz, in die Boland aan die rolprent Herfsland gewerk het. Twee seuns en drie dogters is uit die huwelik gebore. Hy laat ook ses kleinkinders agter.
Daantjie Badenhorst