HENK BIERMAN (1934-2024)

Henk Bierman was ’n Afrikaanse radio-omroeper wat veral bekend was vir sy aanbieding van godsdiensverwante radioprogramme.

Hy is op 25 September 1934 op Lichtenburg in Noordwes gebore en het hom op 1 Oktober 1975 by die destydse Afrikaanse radiodiens van die SAUK aangesluit. Hy en Leon Schuster het trouens saam by die SAUK begin werk. Hy het veral aanklank by Rautenbach se humor gevind. Hy was onder meer die aanbieder van die musiekprogram U eie keuse, wat al jare lank op Saterdagaande uitgesaai word, maar hy sal onthou word vir programme soos Wat sê die Bybel? en Die Bybel leef, wat aan hom die bynaam van Die Pous besorg het. Hy het laasgenoemde program saam met wyle prof. Ferdinand Deist aangebied. Hierin het hulle verduidelik hoe die Bybel aanmekaargesit is en die geskiedenis van die Bybel aan luisteraars verduidelik. Hy was ook ’n tyd lank die aanbieder van die program Die taal wat ons praat. Hy is bekroon met twee Kerkbode-toekennings vir die beste godsdienstige radioprogramme vir programme met verse wat hy vir die Kerstyd en die Paastyd saamgestel het.

Hy was twintig jaar lank verbonde aan die SAUK, en in hierdie tyd het hy saam met legendes soos Leon Schuster, Fanus Rautenbach, Bettie Kemp en Nic Swanepoel gewerk. Na sy uittrede by die SAUK het die Christengemeente Grace Fellowship in Doha, Katar, hom genooi om in die somermaande van Junie tot Augustus as tussentydse pastoor op te tree. Hy het hierdie gemeente se interkulturele en internasionale bediening in ’n Arabiese land waargeneem.

Hy het uiteindelik in Stilbaai gaan aftree en die boek Leer die Bybel stil-stil ken, in hierdie tyd geskryf. Ter viering van sy negentigste verjaardag het die omroeper Johan Rademan ’n onderhoud met hom oor sy loopbaan gevoer en hy het onder meer die hoogtepunte van sy uitsaailoopbaan uitgelig. Hy was met sy negentigste verjaardag reeds bedlêend.

Hy is op 21 Oktober 2024 in die ouderdom van negentig jaar by sy huis op Stilbaai oorlede; hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Daantjie Badenhorst