ANTON GOOSEN (1946-)

Anton Goosen was die voorlooper van die Musiek en Liriekbeweging wat in 1979 ‘n rewolusie in Afrikaanse musiek veroorsaak het.

Anton Lodewyk Goosen is op 5 Maart 1946 op Middelburg in die Oos-Kaap gebore. Nadat sy gesin na ’n kleinhoewe verhuis het, het hy sy skoolloopbaan aan die Volkskool op Kroonstad begin. Toe hy in standerd 6 was, wou sy pa gehad het dat hy moes leer om klavier te speel maar hy het op rugby besluit, en was later spyt daaroor. Terwyl hy op skool was, het hy sy eerste rock-orkes gestig en hoofsaaklik Engelse liedjies gesing. Na aanleiding daarvan het ’n skoolsielkundige hom meegedeel dat daar vir hom geen toekoms in musiek was nie.

Na skool het hy by die Heidelbergse Onderwyskollege gaan studeer; hy het ’n diploma in psigopatologie vir spesiale onderrig vir verstandelik gestremde kinders verwerf. Daarna het hy tot die onderwys toegetree, eers by Laerskool Suidheuwels en toe by Alberton English Medium Primary. Van 1970 tot 1974 was hy ’n Afrikaans-onderwyser by St. Stithians Preparatory School terwyl hy saans in kroeë opgetree het. Die leerlinge het in hierdie tyd die musiekblyspel “Jantjie ko’ huis toe”, wat hy geskryf het, opgevoer. Hy het hom in hierdie tyd ook as krieketskeidsregter bekwaam.

In 1974 het hy die onderwys verlaat en as deeltydse musiekresensent by die nuutgestigte dagblad Beeld gewerk. Hy was terselfdertyd in dieselfde hoedanigheid by Huisgenoot betrokke, waar hy onder die skuilnaam Jantjie Blom geskryf het. In hierdie tyd het hy ook kitaar- en pottebakkerylesse gegee. In hierdie tyd het Sonja Herholdt groot sukses met haar debuut-enkelsnit “Ek verlang na jou” behaal. In sy hoedanigheid as musiekjoernalis van Huisgenoot het Anton haar ontmoet en ’n onderhoud met haar gevoer. Sy het hom vertel dat sy besig was om aan haar debuutalbum te werk, en dat sy op soek was na liedjies. Hy het haar vertel dat hy ’n liedjieskrywer is, en onderneem om weer by haar uit te kom en sy liedjies saam te neem. Hy het so gemaak, en die eerste liedjie wat sy gekies het, was “Jantjie”. Dit was die begin van ’n uiters suksesvolle tyd in albei se loopbane; Sonja het op haar eerste vier albums liedjies wat Anton geskryf het, ingesluit. Ironies genoeg was dit ’n oorsese liedjie waarvoor Anton die Afrikaanse woorde geskryf het, wat in 1977 die Treffer van die Jaar op Edwill van Aarde se radioprogram Afrikaanse Treffers op die SAUK se Afrikaanse radiodiens was. Op Sonja se gelyknamige tweede album, waarop hierdie liedjie voorgekom het, was daar egter ook van Anton se oorspronklike komposisies, onder meer “Hanoverstraat”, “Jy is my lewe” en “Umfaan”. In dieselfde jaar het Anton met Tinus Esterhuizen, wat toevallig op dieselfde dag as Anton verjaar, saamgespan vir Vicki du Preez se trefferliedjie “Tot siens auf wiedersehen”. Vicki het tot Springbok Radio se Top 20 toegetree met hierdie liedjie.

Anton het ook vir ander kunstenaars liedjies begin skryf. Carike Keuzenkamp het die Top 20 gehaal met Anton se komposisie “Hoeka toeka”, en sy veelsydigheid as liedjieskrywer is verder beklemtoon met “My life’s in good hands”, wat hy vir Gene Rockwell geskryf het. Hy het egter gou swaarde met die sensors gekruis; hy het “Ster van Bethlehem” vir Cora-Marie geskryf, maar hierdie liedjie is summier verbied omdat dit “te vrolik” was. Nóg twee van Anton se komposisies wat gewild geword het, was “Vergeet my nie” en “Byeboerwa”, wat hy onderskeidelik vir Gé Korsten en Carike Keuzenkamp geskryf het.

In 1979 is die rolprent Pretoria o Pretoria, met Cornelis Eesterhuizen, Ben Kruger en Zack du Plessis in die hoofrolle, vrygestel en Anton het “Kruidjie roer my nie” as temaliedjie geskryf. Weer eens het die sensors sy kreatiwiteit aan bande gelê deur die liedjie dadelik te verbied, en Anton het die woorde herskryf. Die “aangepaste” weergawe is op ’n kortspeler uitgereik, en Anton het Springbok Radio se Top 20 vir die eerste keer as sanger daarmee gehaal. Dit was ook die Treffer van die Jaar op Afrikaanse Treffers. Anton het met die regisseur Chris Kritzinger saamgespan om die heel eerste Afrikaanse album waarop die sanger die woorde en musiek van alle snitte gekomponeer het, op te neem en vry te stel. Die sensors wou Anton weer nie met rus laat nie; “Boy van die suburbs”, die titelsnit van die album, is verbied omdat dit die Afrikaner as “platvloers” uitgebeeld het, en “Begrafnistyd in Zeerust” is verbied omdat dit “’n bespotting van ’n hartseer geleentheid gemaak het.” Die album het ook die eerste Afrikaanse rock-liedjie, “Blommetjie gedenk aan my”, opgelewer. Nog ’n treffer was “Waterblommetjies”, wat ook die titelsnit van Sonja Herholdt se derde album was. Onder die ander snitte op hierdie album wat Anton geskryf het, was “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie Boeredans”, “Die trein na Matjiesfontein”, “Kyk hoe dans ek” en “Katryn-Katryntjie”.

Dit was die begin van die Musiek-en-Liriekbeweging. Verskeie komponiste en kunstenaars het wegbeweeg van die Afrikaanse musiek waaraan mense tot op daardie stadium gewoond geraak het; die lirieke het meer om die lyf as die meeste destydse Afrikaanse liedjies gehad en die wysies was oorspronklik, eerder as die bestaande oorsese wysies wat toe nog gereeld gebruik is. Dit het gemaak dat ’n televisiereeks waarin die liedjies wat hieruit ontstaan het, deur vier kunstenaars gesing is. Hulle was Mynie Grové, Sias Reinecke, Des Lindberg en die destydse nuweling Laurika Rauch, wat ’n groot treffer met die temaliedjie uit die televisiereeks Phoenix en Kie, naamlik Koos du Plessis se komposisie “Kinders van die wind”, gehad het. Merwede van der Merwe het die regie behartig.

Laurika se eerste album, Debuut, is in 1979 vrygestel en ’n paar van Anton se komposisies, onder meer “Aai aai”, “Straattroebadoere”, “Vergeet om my te vergeet” en die omstrede “Atlantis” is op hierdie album ingesluit. Die volgende jaar was Anton baie bedrywig as sanger en liedjieskrywer. Laurika se tweede album, ’n Jaar in my lewe, het Anton se komposisies “Neanderdalman” en “Kelkiewyn” ingesluit. Dit was egter ook die jaar toe sy suksesvolle samewerking met Sonja Herholdt tot ’n einde gekom het. Die titelsnit van die album Harlekyn, die laaste album waarop Sonja van Anton se komposisies gesing het, was die Treffer van die Jaar op Afrikaanse treffers. Anton se ander komposisies wat op hierdie album voorgekom het, was “Josie Josie”, “Straattroebadoere” en “Oberammergau”, wat ook later in Duits vertaal en ’n treffer vir die Duitse sanger Heino geword het. Anton se tweede album, 2de Laan 58, is in dieselfde jaar vrygestel, met “Josie Josie” as die treffersnit. Anton het egter nog ’n omstrede snit ingesluit, naamlik Lucy Jennifer Jefferson, waarin hy gesing het van ’n Amerikaanse gospelsangeres wat in Suid-Afrika opgetree het maar weer eens het die sensors dit verbied. Later dieselfde jaar is sy album Liedjieboer (vandaar sy bynaam) uitgereik, met die treffers “Brief vir Simone”, “Danzer” en “Dik Zo”.

In 1981 verskyn sy volgende album, Jors Troelie, met die temaliedjie van die televisiereeks Trompie. Die snit “Boude/Anna Jordaan” het weer eens omstredenheid veroorsaak. Toe die predikant en sanger Jan de Wet daarteen beswaar gemaak het, was Anton se antwoord: “Waarop sit die dominee dan?” Vir die eerste keer het Anton ’n liedjie ingesluit wat hy nie self geskryf het nie, naamlik “Die Bosveldbul”, wat deur Chris Blignaut gewild gemaak is. Een van die grootste treffers vanaf die album was “Die mense wat ek liefhet”, wat hy saam met Stephan Bouwer geskryf het, en ook deur Laurika Rauch en Sonja Herholdt opgeneem is. In 1983 het Anton die regie waargeneem van die debuutalbum van Wildebeest, wat onder meer die treffer “Bossies” opgelewer het. In dieselfde jaar het hy saam met die veteraan-akteur, -komediant en sanger Al Debbo gewerk op Debbo se album Hier’s ek weer. Anton was die regisseur van hierdie album, wat snitte soos “Ta’Ralie laat om Alie wip” (op die wysie van Dr. Hook se treffer “Baby makes her blue jeans talk”) en “Ba bap la” (op die wysie van Trio se treffer “Da da da”) ingesluit het. Daarbenewens het Debbo sy bekende treffers soos “Sonbrilletjies”, “Brakke van Turffontein”, “Riksjabooi” en “Hasie” weer opgeneem. In dieselfde jaar het Anton se album Tussen twee rooi mure, met die treffer “My Stellenbosse nonnatjie”, verskyn.

Anton se volgende album, Lappiesland, wat in 1985 verskyn het, was vol treffers, onder meer “Potjiekos”, “Pas getroud” en “Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein”. Ter viering van Johannesburg se eeufees in 1986 het hy die album Liedjieboer innie city/stad vrygestel. Dit het die treffers “Klein bietjie wyn”, “Geelperskereën” en “Magalies, o Magaliesberg” opgelewer. Soos met sy komposisie “Die Kaap is weer Hollands” het Anton weer van die geskiedenis gesing, en “Die siel van Eugene Marais” en “Silver de Lange”, wat albei op hierdie album voorgekom het, het treffers geword.

In 1988 het Anton met Lucas Maree, Helena Hettema en Karlien van Niekerk saamgespan vir Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek. Hul debuutalbum Winde van verandering, het ’n politieke boodskap oorgedra en is dadelik verbied. Die album het die treffers “Kalbassies”, “Huis toe met ’n waitress”, “Moya” (opgedra aan sy dogter) en nog ’n omstrede snit “Gatvol aarde” (die 1990 Gat-vol-aarde boereblues) opgelewer. Lucas Maree het nie van die politieke strekking van Anton se lirieke gehou nie en die groep het ontbind. In 1990 was Anton die hooforganiseerder van die Houtstok-rockfees in Pretoria; dit is gehou uit protes teen die Afrikaanse konsert wat tydens die 150ste herdenking van die Groot Trek aangebied is. In 1992 het Anton ook in Engels begin sing en die titelsnit vanaf die album, Danzer, waarop die reggae-sanger Lucky Dube saam met hom gesing het, het die eerste plek op Radio 5 en Radio Metro se trefferslyste behaal. In 1999 is sy album Putonnerwater vrygestel; dit het sy treffers, asook nuwe snitte soos “Die seewater is blou”, “Voete van Johannesburg” en “Gansbaailapa” bevat. Sy album, ’n Vis innie bos, wat in 2001 verskyn het, het die treffers “SMS”, “Beste Henry” en “Pampoene op die dak” opgelewer.

In 2003 is die konsert Anton Goosen en vrinne in die Staatsteater in Pretoria gehou; hierin het Anton saam met ’n paar van sy kollegas en vriende in die musiekbedryf soos André Swiegers, Jorhné van Huyssteen, Alta Joubert, Beeskraal, Karen Zoid en Theuns Jordaan opgetree en almal het van Anton se komposisies gesing. Op sy Groen Blomme-projek-album in 2005 het hy nuwe snitte soos “Patat” (saam met Dozi), “Soete bitterblou”, “Tot die perde eendag horings kry” en “Siele op wiele” ingesluit, asook sy opname van “Forever young” wat Bob Dylan geskryf het. Nadat drie trefferversamelings wat ses CD’s bevat het, in 2008 uitgereik is, was hy lank stil totdat sy album Padkos in 2017 verskyn het. Die groot treffer was “Diep blou see”, maar Scotty Smith was nog ’n bewys dat Anton weet hoe om ’n ware verhaal te vertel. Hierdie album het ook die temaliedjie van die rolprent ’n Paw paw vir my darling, wat hy geskryf het, ingesluit.

Anton het sy veertigste jaar in die musiekbedryf gevier met sy album 40 jaar; Liedjieboer innie langpad, wat in 2019 verskyn het; die oorspronklike verbode weergawe van “Kruidjie roer my nie”, is onder meer hierop ingesluit, asook ’n rock and roll-weergawe van “Boy van die suburbs” en ’n nuwe treffer, “Skippetjie skommel”.

Anton kan met reg as seker die veelsydigste liedjieskrywer in die geskiedenis van Afrikaanse musiek beskou word; hy kan enige tipe liedjie skryf en die bydrae wat hy tot dusver as sanger en liedjieskrywer gelewer het, is van onskatbare waarde.

deur Daantjie Badenhorst