
BALMORAL-KONSENTRASIEKAMP
Ligging: Op die plaas Eensaamheid langs die Witbank-snelweg
Koördinate: -25.867611,28.96725
Die Balmoral-konsentrasiekamp het relatief laat in die Anglo-Boereoorlog ontstaan; dit het op 25 Junie 1901 tot stand gekom en is ’n week later in gebruik geneem.
Die kamp is geskep om die oorvloed mense vanaf die Middelburg- en Belfast-kampe te huisves. Later het uitgehongerde mans wat in die Bronkhorstspruit-distrik in die veld oorleef het, ook by die kamp aangekom. Teen November 1901 het die eerste mans van die Lydenburg- en Barberton-distrikte by die kamp begin aankom en selfs so laat as 27 April 1902 het 125 mans en vroue by die kamp aangekom.
Die Balmoral-kamp was oorspronklik op die terrein van die ou militêre kamp suid van die treinstasie. Omdat die gebied deur blokhuise beskerm is, is die kamp nie omhein nie. Die tente het misvloere gehad en rommel het oral rondgelê. Daar was gereeld sandstorms en die hewige reënstorms het gemaak dat stormwaters dwarsdeur die tente gestroom het. Die tente het selfs in ’n stadium omgewaai.
Op 18 September 1901 het ’n storm uitgebreek en een van die drie hospitaaltente het aan die brand geslaan. Dit het gebeur terwyl die nagverpleegster, Hester Vermeulen, na kinders in die tweede tent omgesien het. Die brand is eers opgemerk nadat die derde hospitaaltent omgewaai het en altesaam vier kinders is in die voorval dood.
Teen Desember 1901 was daar tien hospitaaltente en 18 personeellede om na die pasiënte om te sien. Nogtans wou vroue hul kinders nie daarheen stuur nie omdat daar geen besoektye was nie. Die vroue het ook in hul eie tente geboorte gegee en daar was menige septiese komplikasies ná die geboortes.
Op 14 Januarie 1902 het die militêre bevelvoerder, genl. Maxwell, die kamp besoek en aanbeveel dat dit na hoër grond, omtrent ’n myl daarvandaan, geskuif word. Hoewel die hospitaal reeds in April verskuif is, het die kamp, blykbaar weens ’n tekort aan osse, muile en vervoermiddels, eers in Junie geskuif.
Toe daar in April na die nuwe hospitaalterrein getrek is, was die toestande steeds primitief, met miershoopvloere. Die tente was nie warm genoeg nie en ’n saal van baksteen en sinkplaat is opgerig vir diegene met borsprobleme. Die maselsepidemie het gemaak dat ’n kwarantynkamp geskep is en teen die einde van Augustus 1902 is elf gesinne daar geïsoleer. Hulle kon geen besoekers ontvang nie. Met die koms van die somer het ingewandskoors uitgebreek.
Hoewel die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 gesluit is, kon die vroue en kinders nog nie die kamp verlaat nie. Hulle kon eers huis toe gestuur word nadat hulle met hul mans herenig is en van die mans was in buitelandse konsentrasiekampe vir krygsgevangenes. Baie weduwees moes eindelik alleen na hul verwoeste plase en afgebrande huise terugkeer.
Teen die einde van Oktober 1902 was daar net 87 inwoners oor en die kamp is teen die einde van November gesluit.
deur Daantjie Badenhorst