BARBERTON-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Munisipale begraafplaas, Gospelstraat

Koördinate: -25.777556,31.0448673

Die Barberton-konsentrasiekamp is in Februarie 1901 geopen maar het stadig gegroei. Teen die einde van Augustus daardie jaar was daar net 2000 inwoners, heelwat minder as dié van ander kampe. Die kamp was geleë aan die suidwestekant van die dorp.

Dr. Kendal Franks, asook die dameskomitee, was beïndruk met die ligging van die kamp; naby die grens met Swaziland en omring deur hoë heuwels. B Graumann, wat die superintendent dwarsdeur die oorlog was, het bondige verslae deurgestuur, met die gevolg dat dit moeilik was om te veel oor die lewe in die kamp agter te kom. Dit het egter gelyk of hy ’n doeltreffende man was, en toe Kendal Franks die kamp in Augustus 1901 besoek het, het hy hom heelwat lof toegeswaai.

Die kamp is mooi opgeslaan en die tente is met oorleg uitgelê; dit het die Britse owerhede altyd beïndruk. Die kamp het ’n algehele indruk van orde en sindelikheid geskep. Aan die begin van Augustus 1901 was daar ’n instroming van Boere, met die gevolg dat ’n tweede kamp op die plaaslike landbouskougronde opgerig is.

Onder hierdie nuwe groep was daar 121 swart persone, onder wie vroue en kinders, en 47 van hulle het rantsoene ontvang. Hulle het geruime tyd saam met hul werkgewers geslaap, maar eindelik het Graumann hulle na ’n afsonderlike ligging wat aan die kamp gegrens het, geskuif, aangesien hy nie van die idee van “onnodige bekendheid” gehou het nie. Hul rantsoene is aangepas en hulle het minder vleis en mieliemeel eerder as gewone meel ontvang. Nogtans het sommige van hulle steeds in dieselfde kamp as hul werkgewers geslaap. Graumann het hulle verder weg verskuif en die nuwe kamp omhein. Daar is ’n inspeksiestelsel ingestel om te verseker dat mense teen “ligte uit” in hul eie kampe geslaap het.

In sommige opsigte was die Barberton-kamp buitengewoon gemaklik. Daar was houtvloere in die tente en die meeste mense het beddens, gemaak van hout wat deur die owerhede voorsien is, gehad. Een rede hiervoor was dat daar baie wit miere was, en die dameskomitee het dit as ’n bedekte seën beskou. Die feit dat die wit miere die vloere gevreet het, was geen verrassing nie en die superintendent het gekla dat hul vernietiging eindelose probleme veroorsaak het.

Dr. Kendal Franks en die dameskomitee was ewe beïndruk met die manier waarop rantsoene in die kamp uitgedeel is. Dit was ’n redelik uitgebreide stelsel ingevolge waarvan die rantsoene in hokkies voorberei is en vinnig aan elke gesin uitgedeel is. Elke gesin het ’n sak gekry waarin dit geplaas is, en hulle het dit elke keer teruggebring. Pasiënte in die hospitale is oordeelkundig gevoed, met groente, botter en hawermout saam met konfyt en sago. Die nuwe mediese offisier, dr. Longden, het in sy eerste verslag in November 1901 opgemerk dat dit gelyk het asof dit maklik was om groente in die hande te kry. Die kamp het vroeg in 1902 sy eie groentetuin begin; anders as in ander kampe was dit ’n sukses en teen Mei het die inwoners genoeg voorraad van groente wat in dié tuin gekweek is, gekry. Nogtans was daar die gebruiklike probleme met die kos, veral die vleis wat teen September met die uiters ongewilde soutvleis vervang is. Teen die middel van 1902 is bevrore vleis, wat heelwat beter as enigiets wat plaaslik geproduseer is, gebruik. Vars melk was nie beskikbaar nie en die dameskomitee was bekommerd dat die kondensmelk dalk te afgewater was. In 1902 het die rantsoene aansienlik verbeter toe alle inwoners botter, suiker en groente gekry het. Kinders onder twaalf jaar het vars melk gekry en die volwassenes geblikte melk. Die sopkombuis wat die dameskomitee aanbeveel het, was volgens berigte ’n reusesukses. Op daardie stadium was warm water te alle tye beskikbaar. Later is ’n openbare bakkery ingestel, en vroue is in diens geneem om brood vir die hele kamp te bak.

Die gesondheid van die inwoners was oor die algemeen goed, ondanks die teenwoordigheid van malaria, wat algemene swakheid veroorsaak het. In een geval het ’n gesin van sestien lede die siekte van Komatipoort af saam met hulle gebring. Die kamp het nie die maselsepidemie vrygespring nie, maar die skade was gering. Swart inwoners het nie die dood vrygespring nie; twee is in Augustus 1901 dood en sewe in September. Teen 1902 was daar byna geen sterfgevalle nie en min siektes, maar in April was daar ’n uitbraak van kinkhoes wat die kinders uit die skool gehou het. Nuwe aankomelinge is twee weke lank in kwarantyn geplaas om die verspreiding van epidemies te keer, maar daar was ’n enkele geval van skarlakenkoors wat weens onmiddellike isolasie nie versprei het nie. Een beperkende aspek van die kamp wat sekerlik uiters ongewild was, was die beperkte toegang tot pasiënte in die hospitaal. In April 1902 is daar berig dat besoeke beperk wou word tot twee keer ’n week, naamlik Maandae en Donderdae. Die sterftesyfer is baie laer as die gemiddelde syfer in Transvaalse kampe. Die maselsepidemie het gemaak dat die sterftesyfer onder kinders ’n rukkie lank hoër as die gemiddeld in die kamp was.

Die kamp is nie heeltemal van die dorp afgesny nie; sommige inwoners van die dorp het rantsoene by die kamp gekry en sommige vroulike inwoners van die kamp het as huishulpe in die dorp gewerk. Werk was egter soms ’n rede vir konflik. Die Britse owerhede het saamgestem met die Victoriaanse opvatting dat ledigheid die duiwel se oorkussing is en daarom het hulle elke moontlikheid om die inwoners, veral die mans, besig te hou, ondersoek. Daarteenoor was die Boere ’n landelike volk wat nie aan gebruiklike of konstante werk gewoond was nie. Die superintendent het gekla dat die Boere ’n weersin gehad het in die idee om langer te werk as wat nodig was om die geld wat vir voorgenome aankope nodig was, te verdien. Op agtuur elke oggend is daar appèl geneem en die pligte is aan die mans uitgedeel. Dit is opgeskort nadat die vredesooreenkoms gesluit is en enige beperking op beweging deur die inwoners is opgehef. Graumann het gekla dat die mans nie gretig was om te werk te midde van verhoogde vergoeding nie as gevolg van die vooruitsig dat hulle huis toe sou gaan.

Die feit dat die hoof van die skool in die kamp ook die hoof van die dorpskool was, het die dameskomitee glad nie beïndruk nie. Sulke verdeelde verantwoordelikheid was nie bevorderlik vir doeltreffende onderrig nie, het hulle gemeen. Al die klasse het in een vertrek plaasgevind, dissipline was swak en die onderwysassistente het swak Engels gepraat. Die komitee het opgemerk dat die leerlinge nie so oplettend en leergierig was soos kinders in ander kampe nie. Aan die begin van die nuwe jaar is ’n nuwe voltydse onderwyser, wat energiek en geesdriftig was, aangestel.

Soos met ander kampe was die vervoer vir werk wat op die kamp gedoen moes word, moeilik om te kry; geen diere was in militêre kringe beskikbaar nie en die inwoners het ook nie diere gehad nie en daarom moes Graumann osse by dorpsmense huur. Op die ou einde het hy sy eie muile in die hande gekry; daar moes egter vir hulle harnasse in die kamp gemaak word omdat hulle daarsonder aangekom het.

In Junie 1902, kort nadat die Vrede van Vereeniging gesluit is, is daar ’n kroningsfees gehou en volgens berigte het almal dit geniet. Dit het onder meer ’n konsert vir die volwassenes en kinders wat deur die personeel aangebied is, ingesluit, asook ’n dinee vir ouer mense en ’n dans. Daar is ook ’n sportdag en ’n piekniek vir die kinders gehou en Graumann het ’n tennisbaan vir die personeel van die kamp opgerig.

Terselfdertyd het die inwoners die kamp begin verlaat; dit het ’n nadelige uitwerking op die klasbywoning in die skool gehad. Daar was groot vreugde toe families en gesinne met mekaar herenig is. Die inwoners het die kamp verlaat met ’n tent, rantsoene vir ’n maand, asook eetgerei, kombuisware en komberse wat hulle in die kamp bymekaargemaak het. Die personeel en inwoners is op ’n goeie voet uitmekaar en aangesien daar geen verslag vir November 1902 uitgereik is nie, lyk dit asof die kamp in daardie maand gesluit is.

Daantjie Badenhorst