DIE SLAG VAN KALKHEUWEL
Aan die begin van die Anglo-Boereoorlog in 1899 het die Boere ’n reeks oorwinnings behaal, maar vroeg in 1900 het die gety begin draai en teen Junie het die Britte onder bevel van Lord Frederick Roberts gereed gemaak om Pretoria binne te val.
Terwyl Lord Roberts met die hoofpad van Johannesburg al hoe nader aan Pretoria gekom het, het ’n peloton van 4500 berede soldate onder leiding van luitenant-generaal Sir John French die hoofstad van die westekant af omsingel. Die peloton het bestaan uit verskeie gevierde berede regimente soos die Royal Horse Artillery asook verskeie soldate van Australië en Kanada.

Generaal French se kolom nader Kalkheuwel
Hulle roete het die huidige R512 na Broederstroom gevolg. Die Engelse het vroeër ’n konvooi waens wat voorraad aan die Boere voorsien het, raakgesien en die Britse peloton het hulle tot by die Kalkheuwel-pas gevolg. In 1900 was die pas baie nou en meer geskik vir ossewaens met rande besaai met dolomietrotse en daarom moes die berede soldate die wapad wat die stroombedding gevolg het, gebruik. In die winter het die lang middagskaduwees die geharde landskap nog meer intimiderend gemaak en genl. French wou deur die pas kom voordat dit donker geword het.
Die Britte was nie bewus van die seshonderd Boere van die Wolmaransstad- en Groot Marico-kommando’s onder bevel van veldgeneraal Sarel du Toit wat naby die huidige Leeu-en-Safaripark gelê en wag het nie. Verder aan met die pas naby Broederstroom het die Boere twee Krupp-veldgewere opgestel.

Ligging van die Slag van Kalkheuwel in die Magaliesberg Biosfeerreservaat
Soos wat die peloton nader aan die pas gekom het, het French ’n eskader van die 6de Inniskilling Dragoons beveel om die steiltes van Kalkheuwel uit te klim om die res van die peloton te ondersteun namate hulle met die onderste pad beweeg het. Die Inniskillings het hul perde agtergelaat en die bopunt omtrent 16:30 bereik, net toe die hoofpeleton by die smalste deel van die pas uitgekom het. Op daardie oomblik het die Boere hulself geopenbaar en begin skiet. Twee manne in die voorste linies is onmiddellik doodgeskiet en nog een is noodlottig gewond. Vir ’n kort rukkie was daar pandemonium; lt. JW Morton het in sy dagboek geskryf: “Die geraas was oorverdowend: gewere, pom-poms, Mausers en ons eie wapens; die eggo’s het oor een oor tussen die heuwels weerklink.”
Maj. Lee van die New South Wales Lancers het homself egter onderskei deur sy manne bymekaar te kry en hulle te beveel om in die stroombedding of agter die dooie perde wat hulle op ’n manier teen die dodelike Boer-geweervuur beskerm het, te skuil. Verder terug, naby die huidige Alpha-opleidingsentrum het die Royal Horse Artillery teëspoed ondervind deurdat hul perde oor die ruwe terrein gestruikel het en erg onder die skrapnel en die Boere se geweervuur deurgeloop het. Stadigaan is die orde herstel, maar sluipskuttery van albei kante af het tot na donker voortgeduur soos die manne op mekaar geskiet het. Vader Knapp, ’n kapelaan, het dwarsdeur die nag tussen die Britse troepe beweeg; hy het die gewonde soldate bygestaan en hulle bemoedig.
Die maan het net voor middernag ondergegaan en die Boerekommando’s kon stilweg onder die dekmantel van algehele duisternis onttrek. Onder die 25 waens is elf vernietig en die ander veertien kon die Bosveld anderkant die Magaliesberg veilig bereik. Die slag het sy tol geëis maar soos gewoonlik het die Boere die gevalle soldate van die slagveld verwyder en hulle op hul familieplase begrawe. Daarom is dit onmoontlik om vas te stel hoeveel Boere gesneuwel het.

Die Koninklike artillerie kon nie die gewere posisioneer nie
Die volgende oggend het French bestek van die situasie opgeneem; en dit was moeilik om te glo dat net drie manne, sers. W Belshaw, kpl. A Blackman en weerman Hall gesneuwel het. Verskeie ander soldate is gewond en ’n groot aantal perde moes geskiet word om hulle verdere lyding te spaar. Die drie soldate wat gesneuwel het, is in die nabygeleë begraafplaas ter ruste gelê. In 1962 is alle liggame van Britse soldate weens vandalisme opgegrawe en in die Rietfontein militêre begraafplaas naby Hartbeespoortdam herbegrawe. Hul name is op ’n senotaaf in die middel van die begraafplaas aangebring.
Die volgende bekende persone het aan die Slag van Kalkheuwel deelgeneem:

Sir John French
Generaal Sir John French, die Britse bevelvoerder, het later die hoofbevelvoerder geword van die ekspedisieweermag wat Frankryk aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 binnegegaan het.
Edmund Allenby, die bevelvoerder van die 6de Inniskilling Dragoons by Kalkheuwel, het later Veldmaarskalk Burggraaf Allenby geword; hy het Jerusalem in 1917 na jare se Ottoman-heerskappy bevry.
Majoor (later kolonel) James Stevenson-Hamilton van die Inniskilling Dragoons het later die Nasionale Kruger-wildtuin gestig.
Kaptein Lawrence Oates van die Inniskilling Dragoons was deel van die mislukte Scott-ekspedisie na Antarktika in 1915. Hy het met bevriesing gesukkel en besluit om eerder in die sneeustorm te sterf as om die ekspedisie te belemmer.
Bron: Vincent Carruthers op The Heritage Portal; vertaal deur Daantjie Badenhorst