BETHULIE-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Nuwe terrein, op dorpsgronde, Bethulie

Koördinate: -30.48475,25.999222

Die Bethulie-konsentrasiekamp het op 22 April 1901 ontstaan nadat die burgerlike administrasie die bestuur van die kampe oorgeneem het.

Die kamp is gestig om die bevolking van die kamp by Springfontein te verminder. Die gevangenes is eers gehuisves in die dorp, wat ’n bevolking van net meer as 550 inwoners gehad het. Die kamp was aanvanklik op die koppies buite die dorp geleë maar dit is twee keer verskuif en teen Junie 1901 was dit naby die rivier geleë. Die dameskomitee het opgemerk dat die ligging van die kamp gemaak het dat die kamp gereeld in digte mis gehul was. Namate siektes toegeneem het en die grond meer besoedel geword het, is die kamp in Maart 1902 weer verskuif na ’n terrein waar die grond minder bevuil was.

Omdat die kamp nie omhein was nie, kon die inwoners kom en gaan soos hulle wou. Daarby was daar ook vir ’n lang tyd geen sekerheidswagte nie. Soos die toestande vererger het, het sommige vroue die situasie misbruik deur stokkies te draai. Toegang tot die dorp is gevolglik van September 1901 af deur middel van permitte beheer en wagte wat uit die gevangenes gekom het, het die kamp gepolisieer.

Daar is baie min bekend oor die swart inwoners van die kamp, maar hulle was wel daar. AGH Daller, die eerste reisende inspekteur, het opgemerk dat daar swart kinders in die kamp was. Hy het ook opgemerk dat die kinders se lewens erg moes wees aangesien hulle geen rantsoene ontvang het nie en op hul werkgewers, wat hulle as slawe gebruik het, moes staatmaak vir kos. Aangesien die swart dorpsmense behoeftig was, kon die swart inwoners van die kamp nie op hulle staatmaak nie.

Die moraal van baie van die inwoners was laag toe hulle by die kamp aangekom het. Hulle is na Springfontein gestuur, net om te verneem dat daar geen plek vir hulle was nie. Soms moes hulle ure, of selfs dae, lank op die stasie by Springfontein wag voordat oorvol huisvesting vir hulle gevind is. By die Vrouemonument in Bloemfontein word ’n kind wat in haar ma se arms sterf, uitgebeeld; dit was sekerlik ’n voorbeeld van wat hier gebeur het. Die kommandant van die Bethulie-kamp, mnr. Russell Dreare, was ’n vriendelike en bedagsame man en ’n groot vertroosting vir dié wat in die moeilikheid was. Een van die kamp se predikante, ds. AD Lückhoff, het opgemerk dat daar ’n gevoel van neerslagtigheid in die kamp was.

Vir Dreare was die aandag wat aan onvoldoende huisvesting gegee moes word, ’n onbegonne taak. Toe die kamp geopen is, moes tweehonderd mense in spoorwegwaens en ’n verdere driehonderd in die dorp gehuisves word. Die stasiemeester kon die tente wat vir huisvesting gestuur is, nie opspoor nie en Dreare kon geen rantsoene in die hande kry nie. Daar was niks in die dorp beskikbaar nie, en hy moes die plaaslike militêre owerhede en verskeie ander ondernemings ompraat om kos te voorsien. Deare se telegramme het sy desperaatheid duidelik gestel: “Doen asseblief navraag oor waar die fout lê oor hoekom daar binne ’n dag kennis gegee is van 1000 gevangenes sonder woonplek of rantsoene,” het sy boodskap gelui. “Daar moet sonder oponthoud nog vyftig tente gestuur word aangesien die plaaslike landdros nie meer die gevangenes in die dorp kan huisves nie,” het hy gesê. Op 21 Mei 1901 het ’n honderd gevangenes aangekom sonder dat daar tente vir hulle was en op 9 Junie 1901 om 19:00 sou nog 300 gevangenes aankom. Hy het ’n honderd tente nodig gehad, anders sou die vroue en kinders in die oop veld moes bly.

Nie net Dreare was ongelukkig nie; die ander plaaslike owerhede ook. In Junie 1901 het Lord Kitchener besluit dat Boere-krygsgevangenes as vlugtelinge na die kamp sou kon gaan as hulle bereid was om ’n eed van neutraliteit af te lê. Die plaaslike landdros op Bethulie was woedend. Hy het ’n garnisoen van sewentig mans gehad, en nou sou hy nog 118 krygsgevangenes vir die kamp ontvang. Teen Julie 1901 was daar 219 krygsgevangenes in die kamp, van wie net 162 “vrywillig oorgegee” het en die eed afgelê het. Die dorp was oorvol en die vyand was in die omgewing. Daar was nie polisie nie en volgens die landdros was daar baie “ongewenste” mans op die dorp. Hy het die owerhede gesmeek om die instroming van mense te beëindig, maar die Weermag het geweier en gesê dit was ’n bevel van Kitchener.

Die tekort aan voorrade het maande lank geduur. Die dameskomitee het opgemerk dat die rakke in Desember 1901 nog leeg was en die inwoners het in ’n petisie geëis dat daar aandag aan die saak gegee moes word. Deare het hul versoek ondersteun; hy het gesê die mans se gesondheid het skade gely omdat hulle nie tabak in die hande kon kry nie en “vaalbos” moes rook. Die dorp was nog erger daaraan toe. Die inwoners van die kamp het oor die vleis gekla, maar in die dorp was vleis glad nie beskikbaar nie. Die burgerlikes op die dorp moes met halwe rantsoene klaarkom; dit was minder as die helfte van dié waarmee die kampbewoners oor die weg moes kom, en hulle moes daarvoor betaal. Melk was glad nie beskikbaar nie, behalwe vir baie jong kinders en die mense op die dorp het oor die algemeen baie swaargekry. Lank nadat omstandighede in ander kampe verbeter het, was die voorrade in die Bethulie-kamp steeds onvoldoende. Toe die nuwe superintendent, WHK Wilson, in Februarie 1902 oorgeneem het, het hy opgemerk dat die kampbewoners ondervoed was; hy het gesinne aangetref wat op die rand van verhongering gestaan het. Die vleis het geen voedingswaarde gehad nie aangesien dit net vel en been was. Hy het geskryf dat die meeste mense swak en ongesond was en nie die epidemie van enteriese koors kon weerstaan nie.

Onder hierdie omstandighede het die gesondheid van die inwoners uiteraard skade gely. Sommige mense wat by die kamp aangekom het, het aansteeklike siektes onder lede gehad. Kinkhoes, wat dodelik kon wees, is eerste bespeur, en Deare het opdrag gegee dat geen gesinne wat aan aansteeklike siektes gely het, na die kamp gestuur moes word nie. Hy het in Augustus 1901 ’n telegram hieroor gestuur en ’n paar dae later het hy sy kommer oor die groot aantal siektes in die kamp uitgespreek. Masels het toe al by die kamp uitgebreek en die wanvoeding en koue weer was ’n dodelike kombinasie en Deare kon dit nie hanteer nie. Hy het voorgestel dat nog ’n dokter, wat Nederlands magtig was, na die kamp gestuur moes word.

Namate toestande versleg het, het Deare gesukkel om geskikte personeel te kry. Toe die dameskomitee die kamp besoek het, was daar net twee verpleegsters wat gedeeltelik opgelei was en die pasiënte is oorgelaat aan jong Boervroue wat as hulpverpleegsters waargeneem het, maak nie saak hoe siek hulle was nie. Die owerhede het Deare se versoek vir nog twaalf hulpverpleegsters bevraagteken want hulle het gesê hy het reeds twintig tot sy beskikking gehad. Nog meer verpleegsters is aangestel en teen die einde van die jaar het Bethulie ook vier dokters gehad. Die dokters in die kamp was egter van die begin af ’n probleem. Hoewel die eerste dokter, dr. Wohlers, die eerste dokter op die dorp, die owerhede se goedkeuring weggedra het, het die kampbewoners hom as onsimpatiek beskou. Die spanning tussen die kampbewoners en sommige dokters was so erg dat ’n saak van aanranding voorgekom het, hoewel die presiese besonderhede daaroor onbekend was. Deare het egter geglo dat Wohlers vir baie van die moeilikheid verantwoordelik was. Dr. FA Madden, een van die dokters wat gestuur is om Wohlers by te staan, is weens onbevoegdheid van sy pligte onthef voordat sy eerste maand verby was. Die tekort aan personeel asook Madden se gewildheid onder die kampbewoners, het egter gemaak dat Deare hom behou het. Deare het geskryf dat hy min vertroue in Madden gehad het aangesien hy nie veel vertroue in homself gehad het nie, maar as die mense wat hy besoek het, wou gehad het dat sy dienste behou moes word, moes Deare daaraan gehoor gee. Madden was egter nie ’n gesonde man nie.

Teen die einde van 1901 was dit duidelik dat die owerhede bekommerd was oor die toename in sterfgevalle. Lord Milner het herhaaldelik versoek dat getalle vir hom gestuur moes word en gevra dat besonderhede oor siek mense en sterftes elke dag na die hoofkantoor in Bloemfontein gestuur moes word. Inspekteur Cole Bowen het die situasie in die kamp as hopeloos beskryf; die tekort aan water was ’n ernstige probleem veral te midde van ’n tifusepidemie. Teen Februarie 1902 het die situasie nog glad nie verbeter nie.

Dr. Pratt Yule het aangekom en die reg in eie hande geneem. Sy baie lang verslag het dit duidelik gestel dat daar op daardie stadium twee probleme in die kamp was wat met mekaar verband gehou het, naamlik die uitspattige vermorsing van brandewyn en ander stimulante en die drankmisbruik van twee van die dokters. Die gebruik van alkohol vir terapie in die kampe was niks snaaks nie. Great Ormond Street Children’s Hospital in Londen het byvoorbeeld die gebruik van alkohol vir die behandeling van siektes soortgelyk aan dié wat in die kamp voorgekom het, voorgestaan. Die gebruik daarvan in die Bethulie-kamp het egter handuit geruk en hospitaalpersoneel in die kamp het maklik toegang daartoe gekry. Gevolglik was hul gedrag wanordelik. Hulle het onder mekaar gestry en minstens twee is betrap toe hulle ’n aand in die Boere-proefgangers se tent deurgebring het. Dr. Barrett was glo ook verlief op mej. Johanna Louw. Daarom was dit geen verrassing dat dr. Yule gemeen het dat ’n algehele verandering van mediese personeel die probleem sou oplos nie. Hy het dr. Dickenson en dr. Barrett weens hul dronkenskap afgedank en die verplasing van dr. Carte en dr. Voortman aangemoedig.

Dit is moeilik om vas te stel wat Deare se verantwoordelikheid vir die toedrag van sake in die kamp was. Hy het klaarblyklik ’n moeilike taak gehad en was glo gewild onder die kampbewoners. In ’n verslag wat in September 1901 gepubliseer is, het Inspekteur R. Harley opgemerk dat Deare nie so doeltreffend was as wat hy kon wees nie. Die tente was oorvol en te naby aan mekaar en die sanitasie van die kamp was foutief. Die dameskomitee het hiermee saamgestem. Die toilette was vuil en die grond buite die kamp was “onbeskryflik vieslik”. Hoewel die maselsepidemie verminder het, het die voorkoms van tifuskoors toegeneem. Die dameskomitee het ook die gebrek aan beddens gekritiseer. Hoewel Deare gesê het hy kon nie materiaal in die hande kry om beddens te laat maak nie, het die dameskomitee geantwoord dat ander kampe plaaslike materiaal vir hierdie doel gebruik het.

Selfs in die laaste dae het die kamp steeds swaargekry. In die winter van Junie 1902 was daar ’n hewige sneeustorm wat gemaak het dat die meeste tente omgewaai het. Die kinders moes in ’n pakhuis vir mediese toerusting gehuisves word en ander bewoners in die skool, wat toe reeds stewige geboue gehad het. Voedsel was steeds ’n probleem en die vleis was oneetbaar selfs al was voorraad makliker beskikbaar. Hoewel die gesondheid van die kampbewoners mettertyd verbeter het, was daar teen November 1902 ’n skarlakenkoorsepidemie. Die kampbewoners het stadigaan huis toe begin gaan maar baie mense van Bethulie het nie plase gehad waarheen hulle kon terugkeer nie. Die armste mense het daarom in die kamp agtergebly en tuisgegaan in tente wat oud en verslete was. Daar moes tuistes gevind word vir die weeskinders, asook swak en bejaarde mense wat niemand gehad het na wie toe hulle kon gaan nie. In Desember 1902 is vyftien sulke mense na die Springfontein-kamp gestuur. Die kamp is op 10 Januarie 1903 finaal gesluit.

Ironies genoeg het Bethulie voordeel uit die bestaan van die kamp getrek. In die laaste maande is ’n aantal stewige geboue wat deur die plaaslike polisie gebruik kon word, opgerig. Die dorp het ook ’n moderne watertoevoerstelsel gekry en die dorp is mooigemaak deurdat 3000 bome aangeplant is.

Daantjie Badenhorst