BLOEMFONTEIN

Ligging: Pres. Brand begraafplaas, Presidentstraat, Oranjesig

Koördinate: -29.1255468,26.2162793

Ligging: Memorium begraafplaas, De la Reylaan, Bloemfontein

Koördinate: -29.1461783,26.206193

Een van die grootste konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog is in Bloemfontein opgerig; dit was die eerste een en het baie van die res van die kampe verskil.

In 1890 het die totale bevolking van Bloemfontein slegs uit 3379 mense bestaan. Nog voordat die Britse magte in Maart 1900 beheer van Bloemfontein oorgeneem het, het vlugtelinge die dorp, soos dit destyds was, begin binnekom. Die kamp is formeel op 22 September 1900 opgerig. Die kamp was omtrent drie kilometer buite die dorp geleë en omdat die dorre veld geen skuiling gebied het nie, het die son fel daarop neergebrand.

Teen 15 November 1900 het daar reeds 519 mense in die kamp gewoon; binne ’n paar dae het dié syfer tot omtrent 800 gestyg. Toe Emily Hobhouse in Januarie 1901 daar aangekom het, het die getal tot omtrent 2000 gegroei. Teen die einde van Maart was daar ongeveer 3000 inwoners.

Gesondheid en watervoorsiening was ’n aanhoudende probleem, veral omdat die Britse magte swaar op die beperkte watervoorraad staatgemaak het. Daarby het die soldate ’n ernstige tifus-epidemie na die kamp toe gebring. Nogtans was dit nie die slegste kamp nie; dit was onder beheer van die sentrale kampadministrasie.

Hoewel daar met versigtigheid met die verhale van die Boervroue omgegaan moet word, het ’n vroeë brief van ’n vroulike inwoner aan haar seun wat self gevange geneem is, daarop gedui dat die lewenstoestande aan die begin maar primitief was. Toe sy die brief geskryf het, was daar dertien gesinne in die kamp, en elke tent het twaalf mense gehuisves. Daar was geen brandstof nie en die vroue moes die veld deursoek om gras bymekaar te maak om mee vuur te maak. Nog ’n vrou het vertel dat die inwoners verbied is om dorp toe te gaan om voorrade aan te vul. Sy het wel vertel dat haar broer meubels gestuur het om die lewe in die tente gemakliker te maak.

Emily Hobhouse het by die kamp aangekom terwyl dit nog onder militêre administrasie was, en sy het nie haar mond oor die militêre ingesteldheid gehou nie. Sy het dit as loutere manlike onkunde, onnoselheid en hulpeloosheid beskryf. Sy het soveel sout as moontlik in die wonde gevryf en sy het haar verlekker toe die magte besef het dat hulle ’n gemors gemaak het en dat die probleem onoplosbaar was. Sy het weke lank gesukkel om die owerhede te oortuig om matrasse en seep te voorsien en om klere aan die mees hulpbehoewendes te verskaf. Bowenal was beter watervoorraad noodsaaklik en sy kon tenks laat installeer sodat die water in die kamp te midde van die tifus-epidemie gekook kon word.

Hobhouse het die superintendent van die kamp, kapt. Arthur Hume, met minagting bejeën. Sy het hom by die adjunkadministrateur van die ORC, maj. HJ Goold Adams gaan verkla. Adams het Hume berispe en hom tot ’n toestand van gedienstige onderdanigheid verminder. Ter versagting het Hume ’n ongeorganiseerde kamp sonder enige rekords oorgeneem. Omdat daar kort-kort ’n nuwe superintendent was, is geen roetine gevestig nie. Hy het wel goeie bedoelings gehad.

Hy kon egter nie sy goeie werk voortsit nie; verslae het herhaaldelik daarop gedui dat die kamp onversorg was. Die eerste kamp, wat naas die tente ook vyf lang sinkhutte gehad het, is nie behoorlik opgeslaan nie. Dit is nie gereeld skoongemaak nie en die toilette was gedurig vuil. Die onhigiëniese toestand van die kamp was ’n groot bron van kommer, maar hy was so besig met administrasie dat dit nie vir hom moontlik was om toesig oor die skoonmaak van die kamp te hou nie. Dit was ’n teken van ’n onbevoegde superintendent, veral aangesien hy ander mense die skuld gegee het. Hy het die skuld op die Boere-korporaals gepak, wat hy op ’n paar uitsonderings na as waardeloos beskou het. Hy het gesê dat hy net ’n aantal onderoffisiere, asook ’n paar manne waarop hy kon staatmaak om bevele te gehoorsaam, nodig gehad het om die kamp skoon te maak.

Ondanks die tekortkominge van sy administrasie is Hume nie uit sy pos verwyder nie. Die rede hiervoor was heel moontlik die ingesteldheid teenoor die kampe aan die begin van 1901. Kostebesparing was die wagwoord en versoeke om geriewe beskikbaar te stel, is summier verwerp. Hy het byvoorbeeld geweier om vir die vroue wat wasgoed gewas het, skuiling te gee, want hy het gesê die Afrikanervroue was gewoond daaraan om onder moeilike omstandighede wasgoed te was omdat hulle hul lewens lank op die platteland gewoon het. Hy het ook met ’n verwaande houding gesê dat die winter nader gekom het, met die gevolg dat die son nie meer so helder sou skyn nie. Soos wat al hoe meer mense die kamp begin bewoon het, het versoeke om meer tente vir die inwoners op dowe ore geval omdat die troepe self tente nodig gehad het. Die militêre owerhede het daarop aangedring dat die inwoners, soos die militêre personeel, vyftien mense in een tent moes slaap. Die hoofsuperintendent was nie tevrede hiermee nie en het gesê dat vroue en kinders ander behoeftes as die militêre personeel gehad het. Die buitensporige besnoeiingsmaatreëls het verhinder dat ’n tweede dokter aangestel word, maar teen April 1901 moes die owerhede bes gee nadat die superintendent en die inwoners ’n petisie opgestel het.

Selfs nog meer ontstellend was die reaksie op dr. Pern se verwerping van sommige van die vleis wat in April 1901 vir die inwoners voorgesit is. Minstens een koei het aan “pleuris” gely en Pern het die vleis as oneetbaar beskryf. Volgens die superintendent was Pern nie lank genoeg in die land om veel van longsiektes te weet nie.

Kostebesnoeiing was nie die enigste probleem nie. Die senior owerhede wou Lord Kitchener nie konfronteer nie; niemand het gedink dat die oorlog so lank sou duur of dat soveel mense na die kamp gestuur sou word nie. Hulle het verdedigend op kritiek gereageer deur die groeiende krisis te ignoreer en die skuld vir die onwelriekende toestand van die kamp op die Boere te pak. Toe die hoofsuperintendent voorgestel het dat ’n kommissie aangestel moes word om toestande in die kamp te ondersoek, het Goold Adams gesê dat die meerderheid van die toestande onvermydelik was, onder meer as gevolg van die onhigiëniese gewoontes van die inwoners. Hy het niks daaraan gedoen nie.

Die kamp in Bloemfontein was kwesbaar vir siektes en veral tifus en masels het heelwat vroeër as in ander kampe uitgebreek. Die maselsepidemie het in April en Mei 1901 uitgebreek en tifus het in die somermaande aan die einde van daardie jaar gereeld voorgekom. Teen die middel van Februarie het kinders aan masels gesterf en daar was byna veertig gevalle van tifus in die hospitaal. Aangesien inwoners van die kamp in Februarie se hitte slegs toegelaat is om ’n halwe liter gekookte water per dag te drink, was tifus onafwendbaar. En slegs verbeterde watervoorraad kon toestande verbeter. Pern was oortuig, en het gesê, dat die Modderrivier-waterwerke die hoofoorsaak van die sterfgevalle was. Hy het die superintendent daaraan herinner dat honderde soldate in die Bloemfontein-omgewing reeds in die voorafgaande twaalf maande dood is. Pern het minstens twee keer tifus tydens sy termyn in die Bloemfontein-kamp opgedoen. Suster Kennedy, die enigste opgeleide verpleegster in die vroeë maande, het gewerk totdat sy fisies uitgeput was. Emily Hobhouse was vol lof vir haar werk; sy het nie net die hospitale tot stand gebring nie, maar ook jong Boervroue suksesvol as verpleegsters opgelei.

Die sterfgevalle in Bloemfontein het nie voor 1902 afgeneem nie, terwyl daar twee piektydperke was. Hierdie tydsduur was ongewoon want ’n hoë sterftesyfer het net vir ’n kort tyd in ander kampe voorgekom. Die epidemies het ook heelwat vroeër as in ander kampe uitgebreek, lank voordat masels in die ander kampe voorgekom het. Die tweede vlaag sterfgevalle was selfs groter as die eerste een, wat nie verbasend was in ’n kamp waar tifus gereeld voorgekom het nie.

Teen Mei 1901 het die aantal inwoners wat die kamp binnegekom het, nog verdere druk op die owerhede geplaas as gevolg van oorbevolking. Die superintendent het gekla dat die personeel gedreig het om te bedank as die toestande nie verbeter het nie. Die besluit om alle gesinne nader aan hul plekke van herkoms te verskuif, het die moeë personeel se werk nog moeiliker gemaak.

Met al hoe meer mense wat die kamp binnegekom het, was tifus en masels nie die enigste siektes wat voorgekom het nie omdat sommige van die aangehoudendes hulpbehoewend was en aan malaria gely het. Die kleuters het met diarree saamgeleef omdat hul ma’s gedwing is om hulle te gou te speen. Daar was ook te min gekondenseerde melk om in hul behoeftes te voldoen. Gevalle van griep en geelsug het ook toegeneem. Daar is ’n waarskuwing uitgereik dat die sterftesyfer onder ouer mense sou toeneem tensy die voorraad van melk, botter, klerasie en tente sou verbeter.

In Julie 1901 het Hume die kamp eindelik verlaat toe hy die inwonende landdros van die Vrystaatse dorp Boshof geword het. Sy plaasvervanger, kapt. JH Bennett, was baie meer bevoeg. Hy het bykomende mediese personeel gewerf, en die hospitaal is tot so ’n mate verbeter dat ma’s bereid was om hul kinders daarheen te stuur. Die kampe is verder mooi gemaak toe 4000 bome aangeplant is. Hoewel die kampe baie skoner was, was daar steeds probleme. Die watervoorraad het verbeter maar soos die somer nader gekom het, het die stroom van die boorgate opgedroog. Dit het gemaak dat gevalle van onder meer tifus weer toegeneem het.

In hierdie tydperk is Viktoriaanse sensuur toegepas; in ’n dorp vol soldate was die Bloemfontein-kamp ’n bron van belangstelling en vermaak. Aanvanklik kon soldate vrylik kom en gaan, maar die superintendent het gekla dat die besoeke “om losbandige redes” plaasgevind het. Die “losbandige vroue” moes van die kamp geïsoleer word en die kamp was buite perke vir die soldate. Die doel van die polisiëring was net soveel om die soldate buite te hou as om die gevangenes in te perk. Die vrou van Heilbron se landdros, mev. Roos, het gekla dat sy saam met mense van lae waardes in ’n tent moes woon, met die gevolg dat sy met ’n onaangename siekte besmet is.

Swart en wit mense het die kamp binnegekom en ’n aantal Boeregesinne het hul diensknegte saamgeneem. Aanvanklik het hierdie diensknegte rantsoene ontvang, maar Hume het dit gestaak en die Boere moes self vir hul werknemers sorg. Daar is egter ’n afsonderlike kamp vir swart mense opgerig, en teen Februarie 1901 was daar reeds 900 inwoners.

Toe die oorlog ten einde geloop het, het die gesinne stadig teruggekeer huis toe, maar omdat die kamp in Bloemfontein so groot was, het die kamp normaalweg voortgegaan. Ter viering van die kroning van koning Edward VII is ’n dans vir jongmense en ’n teedrinkgeleentheid vir ouer mense en kinders gehou, maar albei het misluk. Watertoevoer en vrot vleis het ’n probleem gebly totdat die kamp finaal op 3 Januarie 1903 gesluit is.

deur Daantjie Badenhorst