BOET PRETORIUS (1937-)

Boet Pretorius is ’n bekende Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger en -regisseur wat al saam met sommige van die bekendste name in die plaaslike musiekbedryf gewerk het.

Willem Francois Pretorius is op 15 Desember 1937 in Johannesburg gebore en het aan die Hoërskool D.F. Malan gematrikuleer. Nadat hy as klerk in die spoorweë gewerk het, het hy in ’n baskitaarspeler ontwikkel en sy groot geleentheid gekry toe hy saam met Jurie Ferreira, vir wie hy groot bewondering gehad het, gespeel het. Tussen 1955 en 1958 het hy ook saam met die orkeste van Nico Carstens, Peet Pelser, Hendrik Susan en Duffy Ravenscroft opgetree. Hy het daarna begin om ernstig in musiek te studeer, en musiekteorie baasgeraak. Sy leermeesters in orkestrasie was onder meer Art Heatlie, Con Lamprecht, George Hayden en Mike Simpson. Hy het ook vir ’n vierjaarkursus in elektroniese ingenieurswese ingeskryf en homself sodoende toegerus vir ’n loopbaan in die platebedryf. Daarna was hy ’n medewerker aan ’n program op Springbok Radio, en in 1961 het hy ’n betrekking as opname-ingenieur by die Trutone-platemaatskappy aanvaar. Later was hy hoofklankingenieur by Gallo (Afrika) Beperk, wat onder meer Brigadiers se plate gedruk en versprei het. Dit was in hierdie hoedanigheid wat hy kennis gemaak het met Albie Venter en André Viljoen, wat vir hom die bynaam Dimpel, na aanleiding van die diep kuiltjies in sy wange, gegee het.

Hy het hom as platekunstenaar begin vestig en aanvanklik onder sy bynaam Dimpel Pretorius opgetree. Hy het saamsingalbums met ou en nuwe Afrikaanse treffers begin opneem en ’n sanggroep gestig waarvan groot kunstenaars soos Sias Reinecke, Malie Kelly, Mynie Grové, Ben E. Madison, Clive Bruce en Gert van Tonder deur die jare deel was. Dirkie Smit en Barry Jarman het konsertina gespeel; Jarman was die konsertinaspeler van die Suid-Afrikaanse popgroep The Bats. Hy het ook die voortou geneem op die gebied van rugbyliedjies.

Boet was later die hoofopname-ingenieur by Brigadiers, en het die musiekverwerking van rolprente soos Kaptein Caprivi, Sing vir die harlekyn, Broer Matie en Aanslag op Kariba behartig. Na sewe jaar by Brigadiers het Boet in ’n vennootskap met André Viljoen en advokaat Retief van Rooyen aangegaan en die platemaatskappy Decibel gestig. Die eerste album wat Decibel uitgereik het, was Sias Reinecke se laaste album, Meisie, wat sewe maande voor Sias se dood uitgereik is. Hy het ook vorendag gekom met die idee van Leon Schuster se gelyknamige debuutalbum, wat aanvanklik nie as goed genoeg vir die radio beskou is nie, maar die eerste Decibel-uitreiking geword het wat goue status behaal het. Daarna het hy die regie behartig van albums deur kunstenaars soos Rina Hugo, Carike Keuzenkamp, Gé Korsten, Anneli van Rooyen en nog baie ander. Die een kunstenaar wie se sukses hom verras het, was Riaan Nienaber, wie se debuutalbum uitgereik is toe hy net elf jaar oud was, en wat selfs die amptelike Suid-Afrikaanse treffersparade gebaseer op albumverkope gehaal het. Altesaam 85 000 eksemplare van hierdie album is verkoop. Boet het ook ’n leidende rol gespeel in die sukses van Sias Reinecke se treffer “Sproetjies”, aangesien hy vir Gert van Tonder gevra het om Afrikaanse lirieke vir die Oak Ridge Boys-treffer “Freckles” te skryf. Dit is aanvanklik op die keersy van Sias se solus-sewe “Jean-Marie”, wat die platemaatskappy besluit het die treffer moes wees, ingesluit. Net toe dit vrygestel is, het Johan Stemmet op die program Platepraatjies met Sias gesels, en toe “Jean-Marie” gespeel is, het die plaat vasgehaak. Die plaat is omgedraai, “Sproetjies” is gespeel en die res is geskiedenis. Decibel het tot in die jaar 2000, toe die platemaatskappy verkoop is, ongeveer 400 albums vrygestel, waarvan minstens agt platinumstatus bereik het.

Hy is in 2007 met ’n SAMA-toekenning vereer vir sy lewenslange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf.

deur Daantjie Badenhorst