BRANDFORT-KONSENTRASIEKAMP
Ligging: Keeromstraat, Brandfort
Koördinate: -28.7034276,26.470774
Die Brandfort-konsentrasiekamp het in Januarie 1901 ontstaan en die tweehonderd aanvanklike inwoners was hoofsaaklik van Bultfontein en Hoopstad afkomstig.
Op daardie stadium was die meeste Boeregesinne deur die dorp versprei of hulle het in waens gewoon. Dr. Last, die plaaslike geneesheer, het na die gevangenes omgesien en daar was een opgeleide verpleegster. Sommige van die mense wat in die dorp gewoon het, kon vir hulself sorg en die Britse owerhede was huiwerig om hulle van rantsoene te voorsien. Die owerhede wou hulle ook nie dwing om in die kamp te woon nie; die hoofsuperintendent het aan die superintendent van Brandfort gesê dat die kampe nie gevangenisse was nie en dat die kampbewoners met respek behandel moes word. Toe dr. Kendal Franks in Augustus 1901 besoek afgelê het, is almal in tente gehuisves.
Die mediese offisier was van die begin af bekommerd oor die gesondheid van die kampbewoners. Daar was ’n aantal kinders wat aan diarree gely het, maar daar was geen sterfgevalle nie. Vroue en kinders het sonder beskerming op die grond geslaap en die dokter was bekommerd dat hulle longsiektes sou opdoen weens die nat weer. Hy het gevra dat hutte van geriffelde yster met houtvloere opgerig moes word en dat hulle ten minste van matrasse voorsien moes word. In hierdie vroeë stadium van die burgerlike administrasie was besparing egter aan die orde van die dag. Komberse sou net voorsien word as dit absoluut noodsaaklik was, asook matrasoortreksels. Die mediese offisier is meegedeel dat die vroue hul eie beddens moes opmaak met hul toegelate hooi van 15 pond. Gelukkig het die kampbewoners toe nog hul beeste wat hulle saamgebring het, by hulle gehad met die gevolg dat melk vrylik vir die kinders beskikbaar was. Later het die weiding agteruitgegaan en die vee is verkoop aan die administrasie en na plase nader aan Bloemfontein verskuif. In ander opsigte was die administrasie van die kamp karig en daar was baie min geriewe. Daar was twee ketels wat gemaak het dat kookwater altyd beskikbaar was, maar die kampbewoners het geen bêreplek daarvoor gehad wat kon verhoed dat dit later besoedel geword het nie.
Daar is ’n kamp vir swart inwoners langs die Boere se kamp opgerig en teen die middel van April 1901 was daar reeds minstens 4000 inwoners. Aanvanklik het die swart kampbewoners dieselfde rantsoene as die ander inwoners gekry maar die akkommodasie was meer lukraak. Dit het bestaan uit swak tente wat sommige mense met matte bedek het om dit meer waterdig te kry. Daar was geen sanitasie nie en die inwoners moes by ’n kloof ’n myl van die kamp af aanmeld as “die natuur geroep het”. In Maart 1901 was daar steeds geen beamptes wat betaal is nie. Die superintendent het gekla dat die kamp te ver van hulle af weg was om toesig te hou en hy het aanbeveel dat ene “Peter” aangestel moes word om ’n ogie oor die kamp te hou. Dr. Last het die swart inwoners van basiese mediese dienste voorsien maar daar was geen hospitaalakkommodasie vir hulle nie en dié wat dit nodig gehad het, is in ambulanswaens versorg. Daar was gelukkig min van hulle; die mees ernstige gevalle was melaatsheid en sifilistiese gevalle. Die gesondheid in dié kamp was egter klaarblyklik nie goed nie.
Teen die einde Maart het die superintendent opgemerk dat Peter koors onder lede gehad het en dat die sterftesyfer onder kleuters hoog was. Hy het gemeen dat dit nodig was om ’n blanke superintendent aan te stel. Peter is eindelik gedegradeer en ’n blanke superintendent, mnr. Meintjes, is in sy plek aangestel teen dieselfde belaglike salaris van £ 5 per maand wat voorheen aan Peter betaal is. Daarby is ’n assistent met die naam van Hendrik Khukhu aangestel. Die kinders het in die dorp se lokasie skoolgegaan. Die swart kamp het egter kleiner geword toe ’n aantal Basoetos na Basoetoland teruggekeer het. Teen omtrent September 1901 is daar besluit om die swart kamp weg van Brandfort af te verskuif. Dit het beteken dat nuwe reëlings getref moes word vir die mans wat in die blanke kamp gewerk het, asook vir hul gesinne.
Teen die einde van Maart 1901 het die getal inwoners in die blanke kamp toegeneem en omdat mense sonder waarskuwing daar aangekom het, was daar ’n gebrek aan tente. Gesondheid het agteruitgegaan en ’n tifusepidemie het uitgebreek. Hospitaalakkommodasie was onvoldoende en die waens en tente was oorvol. Die nuwe inwoners het in ’n ellendige toestand by die kamp aangekom. Sommige het maande lank in ’n Boerelaer in die distrik van Hoopstad gewoon; die kinders het omtrent net skaapvelle gedra en rantsoene was skaars. Volgens die hoofsuperintendent was die mense maar te bly om van die kommando’s af weggeneem te word. Pratt Yule was huiwerig om nog mense van besmette kampe soos Bloemfontein te stuur maar die owerhede was onsimpatiek. “Verrot” het iemand in die kantlyn van sy verslag geskryf. Op 9 Augustus 1901 het drieduisend mense aangekom; hul gesondheid was swak en daar was net 25 tente waarin hulle gehuisves kon word. Die mediese offisier het opgemerk dat baie van die nuwe inwoners aan trakoma gely het; dit is ’n oogsiekte wat deur vlieë veroorsaak word en destyds algemeen onder die Nederlanders voorgekom het.
Volgens dr. Kendal Franks was die swak sanitêre toestande op die dorp ’n belangrike oorsaak van siektes. Hy het dit as uiters primitief beskryf. Baie van die drink- en kookwater was van vore afkomstig, ontlasting is in spoelputte naby die waterputte gestort, beeste het vrylik in die dorp rondgeloop en hulle is ook in die dorp geslag. In ’n poging om die kamp te isoleer is kampbewoners verhinder om dorp toe te gaan maar aangesien die militêre kommandant steeds verlofpasse uitgereik het, was ’n mate van kontak onvermydelik. Om sake te vererger, het militêre owerhede omtrent ’n honderd mense uit die dorp na die kamp gestuur. Witseerkeel het teen die middel Augustus deur die kamp versprei maar dit was een siekte wat met ’n teenmiddel wat voorsien is, behandel kon word. Masels het gevolg as gevolg van die ongeërgdheid onder die militêre personeel rondom die voorkoms van siektes.
Die beskikbaarheid van water was gedurig ’n probleem. Die wasgoed is gewas bokant die dam wat die dorp van water voorsien het, maar die dorp het hierteen beswaar gemaak. Aangesien die dorp vuil was, was die kampowerhede onsimpatiek, maar hulle het onderneem om meer boorgate te boor. Hulle was egter bekommerd dat dit die huidige watervoorraad sou verminder. Teen Februarie 1902 het die kampbestuur meer gesofistikeerd geraak en die toestande het verbeter. Die water is vir toetse weggestuur; daar is gemeld dat dit van goeie gehalte maar effens hard was.
Hoewel Kendal Franks hoë agting vir die kampsuperintendent gehad het, was mnr. EJ Jacobs, wat van Kaapse herkoms was, nie gewild onder die vroue nie. Die gehalte van die vleis was swak, want dit was oud, dun en vol ongediertes. Jacobs het verklaar dat die vleis goed genoeg was vir die kampe in Transvaal, en die vroue het gevolglik in opstand gekom. Die voorbokke, onder meer ’n jong Maria Els, is in hegtenis geneem en tronk toe gestuur. Hoewel geskiedskrywers die akkuraatheid van hierdie storie bevraagteken en daar baie weergawes daarvan bestaan, kon daar geen twyfel oor die swak gehalte van die vleis bestaan nie. Die militêre offisiere het dit keer op keer afgekeur en selfs as dit eetbaar was, was dit net goed genoeg om sop mee te maak. Selfs dan sou die sop van ’n uiters swak gehalte wees. Hoe ook al, Jacobs het beheer oor sy kamp verloor en een rede hoekom die vroue hom vyandig gesind was, was die feit dat hy ’n “lojale Afrikaner” was.
Die superintendent se verhouding met die militêre owerhede het agteruitgegaan en beledigings is heen en weer gestuur. Hy het in ’n brief gesê dat dit vir hom gelyk het asof die militêre owerhede elke moontlike geleentheid aangegryp het om hom aan te val; hy sou elke dag kon kla oor hul ongeskiktheid, gebrek aan ordentlikheid en hul begeerte om sy werk op elke moontlike manier te belemmer. Hy het ondersteuning van sy meerderes geëis en omdat hulle geglo het dat hy die kamp doeltreffend bestuur het, het hulle dit aan hom gegee.
Toe die dameskomitee in Oktober 1901 by die kamp besoek afgelê het, was hulle nie krities teenoor Jacobs nie; dit was eerder die hospitaal en die mediese personeel wat hulle ontstel het. Hulle het gekla dat die tente vuil was en dat die verpleging swak behartig is. Die toestande was so erg dat hulle gevra het dat dr. Pratt Yule die saak moes ondersoek en dat dr. Polson afgedank moes word omdat hy pasiënte wat nog siek was, ontslaan het en baie van die medisyne vir sy eie gewin misbruik het.
Dr. Yule het vinnig by die kamp aangekom en hy was redelik tevrede met die toestand van die kamp. Sommige tente was verslete maar die toilette, wat met bakstene gebou is, was mooi skoon en die watertoevoer was goed. Die hospitaal was egter ’n ander saak. Die hoeveelheid alkohol wat gebruik is, was verstommend en dit het gelyk asof die pasiënte byna sonder uitsondering gereeld wyn en brandewyn gedrink het terwyl dit glad nie in elke geval nodig was nie. Die dokters het hulself daarvan voorsien wanneer hulle ook al wou; die susters kon elke twee weke ’n bottel wyn kry en die manlike assistente is op brandewyn getrakteer as hulle nagskof moes werk. Daar was ’n gebrek aan dissipline onder die ordonnanse en die proefgangers.
Teen Desember 1901 het Jacobs die kamp verlaat. George Randle was die waarnemende superintendent en hy het ’n lang verslag oor die toestande in die Brandfort-kamp aangestuur. Hy het die plek as slordig beskou en een probleem was dat die jong, enkellopende korporaals wat aangestel is om die kamp te polisieer, nie die gesag gehad het om die vroue te dwing om die sanitêre reëls te gehoorsaam nie. In Januarie 1902 is J Dwyer as nuwe superintendent aangestel en hy het die vermoë gehad om met mense te werk. Teen Mei het die matrones van die kamp en die hospitaal mekaar gereeld vir tee en ete genooi.
Brandfort was die laaste konsentrasiekamp wat gesluit is en ’n weeshuis is gestig vir die kinders wat hul ouers in die oorlog verloor het en nie familie gehad het wat na hulle kon omsien nie. Die owerhede het probeer sorg dat daar behoorlik na hierdie kinders omgesien sou word. Hulle het ingestem dat die 26-jarige mej. Isabella Pieters, ’n hospitaalverpleegster, haar sewe broers en susters wat wees gelaat is, kon versorg, maar waar kinders ingeneem is deur mense wat nie die middele gehad het om vir hulle te sorg nie, moes druk op hulle uitgeoefen word om oor te gee. Teen Desember 1902 het die weeshuis se getalle gegroei en die skool op die kamp het gefloreer.
Die weeskinders was nie die enigste mense wat in die kamp agtergebly het nie. In September 1902 het die superintendent berig dat die kamp nog omtrent 2000 inwoners gehad het en dat die meeste van hulle nie gretig was om die kamp te verlaat nie. Hy is egter aangemoedig om die mense om te praat om die kamp in groot getalle te verlaat. Teen Januarie 1903 was die meeste inwoners oud en swak, terwyl daar ook weduwees en weeskinders sonder ’n heenkome was. Die laaste inwoners het die kamp in Maart 1903 verlaat en dié wat nie met hul familielede herenig kon word nie, is in weeshuise geplaas. Teen die einde was daar 343 inwoners waarvan sewe oud, blind en swak was, maar huisvesting is vir almal gevind.
Daantjie Badenhorst