BROMLEY CAWOOD (1948-2021)
Ses maande na die afsterwe van die legendariese aktrise Elize Cawood se afsterwe is haar broer, Bromley, in die ouderdom van 72 jaar oorlede.
Daar is min biografiese inligting oor hom bekend, behalwe dat hy op 12 Augustus 1948 gebore is. Volgens Elize se dogter, Jenna Dunster, is hy op Nuwejaarsdag 2021 oorlede nadat hy omtrent twee weke tevore geval het, waarna hy in die hospitaal opgeneem is en sy gesondheid agteruitgegaan het.
Cawood het in 1983 sy debuut as televisieregisseur gemaak met die tweede reeks van Skooldae, waarin akteurs soos Ben Kruger, Dulcie van den Bergh, Theunis van Rooyen en Patrick Mynhardt te sien was. Hy was ook die regisseur van die derde en laaste reeks, wat in 1984 vervaardig is. Die eerste rolprent waarvan hy die regie behartig het, was Hannes Pretorius se komedie Wolhaarstories, met Leon Schuster, Hannah Botha, Al Debbo en Amanda Strydom. Nóg ’n komedie waarvan hy die regisseur was, was Tawwe Tienies, met Jacques Loots, Marie Pentz, Dulcie van den Bergh en Hennie Smit in die hoofrolle.
Pieter-Dirk Uys se komedie, Skating on thin Uys, het in 1985 gevolg; Pieter-Dirk Uys het dit nie net self geskryf nie, maar sy alter ego, tannie Evita Bezuidenhout, het “haar” verskyning hierin gemaak. Hy het daarby ook die rolle van Dr. Hasie Bezuidenhout, asook die kinders, Billie-Jeanne en Izan vertolk, terwyl politici soos dr. Connie Mulder, die PFP-parlementslid mev. Helen Suzman en dr. Piet Koornhof hulself vertolk het. In 1986 was hy die regisseur van die jeugreeks Die swart kat, waarvan Cor Nortjé, wat in 2020 oorlede is, die draaiboek geskryf het. Dit het die verhaal vertel van die seun van ’n polisiespeurder, gespeel deur Kerneels Coertzen, wie se tienjarige seun snags misdade opgelos het sonder dat sy ouers of sy ouer suster, gespeel deur Michelle Botes, daarvan geweet het. Die tweede en laaste reeks het in 1988 gevolg.
Bles Bridges se lewensverhaal is in die rolprent The devil and the sing, waarvan Cawood die regisseur was, vertel. Bles self het die hoofrol vertolk, met Janet du Plessis teenoor hom. Die draaiboek is deur niemand minder nie as PG du Plessis geskryf. Hoewel Bles op daardie stadium op die kruin van sy gewildheid was, was die rolprent, met ’n Engelse draaiboek, dalk nie so suksesvol nie. Die volgende jeugreeks waarvan Cawood die regisseur was, was Wenners in 1992, waarin Chris Chameleon, Francois Coertze, Marcel van Heerden, Marcel Schoeman en Chantell Stander te sien was.
Egoli-plek van goud was die eerste oorwegend Afrikaanse sepie wat daagliks van Maandae tot Vrydae uitgesaai is, en Cawood was die regisseur van een episode in 1993 en nóg drie in 1996. Later, toe die rolprent, gebaseer op dié sepie, getiteld Egoli- Afrikaners is plesierig, vervaardig is, het Cawood weer die regie behartig. Hierdie rolprent is in 2010 vrygestel. In 2004 het nóg ’n jeugreeks, The Res, met David Dukas, Brendan Pollecutt en Donna Moseley, gevolg. In 2010 was hy die regisseur van Susanna van Biljon, wat die verhaal vertel het van ’n sangeres, gespeel deur Karen Zoid, wat van die Karoo af gekom het en van ’n sangloopbaan gedroom het. Marié du Toit, Nico Panagio, Sharleen Surtie-Richards en Hannes van Wyk het die ander hoofrolle vertolk.
Die laaste televisiereeks waarvan Cawood die regie behartig het, was die komedie Moeggeploeg, met Rina Nienaber, Ben Kruger, Hanna Grobler, Leandie du Randt en wyle Cobus Visser in die hoofrolle.
deur Daantjie Dinamiet