DANIE GERBER (1958-)

In 1980 het die wêreld vir die eerste keer kennis geneem van seker die beste buitesenter (nr. 13) wat nog ooit die Springbok-rugbytrui oor sy kop getrek het.

Daniël Mattheus Gerber is op 14 April 1958 in die Oos-Kaapse dorp Despatch naby Port Elizabeth gebore en het aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Hy het sy provinsiale rugbydebuut vir die Vrystaat gemaak terwyl hy sy militêre diensplig aan 1 Valskermbataljon in Bloemfontein verrig het. Daarna is hy terug na sy provinsie van herkoms, en in 1980 is hy gekies vir die toergroep na Suid-Amerika.

Danie het sy toetsdebuut op 18 Oktober in Montevideo in Uruguay gemaak en sy eerste toetsdrie gedruk. Die Springbokke het daardie toets met 22-13 gewen. Hy het dit opgevolg met nog ’n drie in die tweede toets in Santiago, die hoofstad van Chile, wat die Springbokke met 30-16 gewen het. In 1981 was daar twee toetsreekse; in die eerste toets teen Ierland op Nuweland het hy vir die eerste keer twee drieë in dieselfde toets gedruk. Die reeks teen Nieu-Seeland daardie jaar sal om al die verkeerde redes onthou word; veral die betogings, die vliegtuig wat die heeltyd tydens die laaste toets in Auckland oor die veld gevlieg en meelbomme gegooi het en, die belangrikste van alles, die beslissing deur die skeidsregter, Clive Norling, om ’n strafskop binne trefafstand diep in beseringstyd aan Nieu-Seeland toe te ken. Die skeidsregter het gesê die Springbok-skrumskakel Divan Serfontein was onkant en die Nieu-Seelandse heelagter Stu Wilson het die bal tussen die pale deur geskop. Dit het beteken dat die Springbokke nie net die wedstryd met 25-22 ten spyte van die regtervleuel Ray Mordt se drie drieë in die tweede helfte verloor het nie, maar ook dat hulle die reeks verloor het. Die oorsese toer is afgesluit met ’n toets teen die Verenigde State van Amerika wat deur net ’n handjievol toeskouers bygewoon is en waarin een van die Springbokke se losvoorspelers, Thys Burger, as lynregter opgetree het.

In 1982 het Suid-Amerika deur Suid-Afrika getoer en in die eerste toets op Loftus Versfeld het Danie drie drieë gedruk. Die Springbokke se oorwinning van 50-18 was ’n rekord, maar in die tweede toets het hulle met 21-12 verloor, al het Danie ’n drie gedruk. In 1984 het die Springbokke vier toetse, twee elk teen Engeland en Suid-Amerika, gespeel en in die tweede toets teen Engeland op Ellispark het Danie weer twee drieë gedruk. Die All Blacks sou in 1985 deur Suid-Afrika getoer het, maar die toer is afgelas as gevolg van ’n hofinterdik. Die volgende jaar het die Nieu-Seelandse span wel deur Suid-Afrika getoer, maar die span het as die “Nieu-Seelandse Kavaliers” bekendgestaan en die toer het baie amper gemaak dat Suid-Afrika uit die Internasionale Rurbyraad geskors is. Gedurende daardie reeks het Danie net een drie gedruk. Dit was die laaste volwaardige toetsreeks, as ’n mens dit só kon noem, vir ses jaar. Daar was wel twee “toetse” teen ’n wêreldspan in 1989, maar die Springbokke sou geen verdere toetse daarna speel totdat die politieke omstandighede verander het nie.

Teen die tyd wat die volgende toetsreeks in 1992 aangebreek het, het Danie van die Oostelike Provinsie na die Westelike Provinsie geskuif. Die eerste toets daardie jaar was teen Nieu-Seeland en ondanks Danie se twee drieë het die All Blacks met 27-24 gewen. Die volgende week het die Springbokke vir die eerste keer in 21 jaar teen Australië gespeel, en met 26-3 verloor. Danie was op daardie stadium al 34 jaar oud. Sy laaste toer was deur Frankryk en Engeland; hy het sy laaste twee drieë teen Frankryk in opeenvolgende toetse gedruk, en op die ou einde het sy internasionale loopbaan op ’n laagtepunt geëindig toe Engeland met 33-16 in die laaste toets van daardie reeks verloor het. Danie het nog ’n rukkie lank regtervleuel vir die Westelike Provinsie gespeel, maar sy internasionale loopbaan was verby.

Danie hou steeds die rekord vir die beste verhouding tussen drieë gedruk en wedstryde gespeel; in sy 24 toetse het hy altesaam 19 drieë gedruk. Wat sy prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat hy die meeste van sy toetse, van 1980 tot 1986, gespeel het terwyl hy deel was van ’n span wat nog nooit die Curriebeker gewen het nie. Danie is op verskillende maniere vereer; in 1985 het Leon Schuster die liedjie “Doring van Despatch” ter ere van hom geskryf en gesing, en in 2007 is hy in die Internasionale Rugbyheldesaal opgeneem nadat hy in 1984 die Suid-Afrikaanse rugbyspeler van die jaar was en in 1985 en 1992 weer vir die toekenning benoem is.

deur Daantjie Badenhorst