DIE GEVEGTE BY SILKAATSNEK

Na die besetting van Pretoria in Junie 1900 het Brittanje baie van die grootste dorpe in Transvaal beheer maar die Boere was nog steeds sterk in die plattelandse gebiede van die Magaliesberg en Rustenburg was nog feitlik beleër.

Daar is twee passe ’n paar kilometer uitmekaar op die pad tussen Pretoria en Rustenburg, naamlik Silkaatsnek en Kommandonek en kontingente van die Royal Artillery en die Scots Greys-kavallerie onder bevel van lt.kol. WP Alexander het hierdie twee strategies belangrike plekke teen die Rietfontein-kamp, vandag die suidoostelike kant van die Hartbeespoortdam, beskerm. Op 11 Julie 1900 het die eerste Slag van Silkaatsnek plaasgevind toe Alexander en sy manskappe hulle by ’n berede peloton van omtrent dieselfde grootte onder bevel van genl.maj. Smith-Dorrien wat van Krugersdorp af gekom het, aangesluit het. Die gedagte was dat hierdie twee pelotons die Boere van hul vestings in die Magaliesberge moes verdryf en die druk op Rustenburg moes verlig.

Die aand voordat hulle sou vertrek het kol. HR Roberts, wat nie verwant aan Lord Roberts was nie, ’n bataljon van die Lincoln-regiment gestuur om Alexander se Scots Greys by die Rietfontein-kamp te vervang. Die Lincoln-regiment het by Silkaatsnek, omtrent tien kilometer van Alexander se posisie uitgekamp maar Roberts het nagelaat om wagte op die kruine van die twee hoogste kranse wat die nek oorskadu het, te plaas. Daarom was sy hele verdediging by die suidelike ingang van die nek geleë.

Intussen het genl. De la Rey se kommando’s, wat in die bosveld aan die noordekant van die nek bymekaargekom het, sluipagtig teen die berg wat Roberts nagelaat het om te bewaak, uitgeklim. Teen dagbreek het die Britse soldate die Boere op die kruin raakgesien maar hulle was allesbehalwe gereed om weerstand te bied.

Die Britte se seintoerusting is aan die Boere se geweervuur blootgestel en daarom kon hulp nie ontbied word nie. Toe die Boere die nek wou binnegaan om aan te val, het De la Rey se troepe na die suide toe beweeg en hulle in ’n plek met ’n lae muur op die lae koppie in die middel van die nek vasgekeer, soos wat in die foto hieronder gesien kan word.

Skets van die eerste slag by Silkaatsnek

Alexander het intussen niks gedoen nie, al was hy binne hoorafstand van die geweervuur wat teen dagbreek begin het. Om nege-uur die oggend het ’n soldaat hom bereik en om hulp genader. Alexander het die Boere bo-op die berg bestook; dit het gehelp om die druk op die Lincolns wat onder vasgekeer is, te verlig. Alexander het daarna om ’n onverklaarbare rede besluit dat die dag verlore was en sy ondersteuning onttrek om die moontlikheid van ’n nederlaag te vermy. Teen twaalfuur het hy die res van sy troepe opdrag gegee om die gebied te ontruim. Hy het na Pretoria teruggewyk en Roberts en sy troepe aan hul lot oorgelaat.

Roberts en sy troepe het teen daardie aand oorgegee en op daardie stadium was 72 van die 240 troepe gewond, sommige van hulle noodlottig. Die Boere het ook verliese gely en De la Rey se neef was een van die ongevalle, maar daar kon geen twyfel oor die Boere se oorwinning bestaan nie. Hierdie oorwinning, asook die Boere se welslae by Dwarsvlei en Onderstepoort vroeër dieselfde dag het die Boere se moraal dwarsdeur Transvaal ’n groot hupstoot gegee.

Die grafte van diegene wat by Silkaatsnek geval het, is in die pas begrawe, maar later na die Krugersdorp-begraafplaas geskuif.

Tweede Slag van Silkaatsnek, 2 Augustus 1900

In Augustus 1900 het Lord Roberts besluit om Rustenburg en al die gebiede wes van Kommandonek te ontruim en op die oostelike deel van Transvaal, waar hy gemeen het dat die Boereregering inmekaar sou stort, te konsentreer. Kol. Baden-Powell, wat toe in die Rustenburg-omgewing was, het die besluit betwis aangesien hy van mening was dat die besetting van Rustenburg van groot sielkundige belang was. Roberts het sy besluit egter omgekeer en genl. Ian Hamilton is van Pretoria af met ’n groot taakmag gestuur om Silkaatsnek en Kommandonek weer te beset en die ontruiming deur Baden-Powell en Kekewich van ’n veilige begeleiding te voorsien.

Terwyl Hamilton gereed gemaak het om Pretoria te verlaat, het hy besluit om sy mag in twee te verdeel. Een groep het Silkaatsnek van die noordekant benader en die ander een, waarvan Hamilton deel was, van die suidekant. Na sy oorwinning drie weke tevore het De la Rey die kommando in bevel van kommandant Coetzee gelaat, maar Coetzee het nie dieselfde taktiese vindingrykheid wat gewoonlik ’n kenmerk van die Boeremagte was, getoon nie. Hamilton se troepe het die Boere deur die pas teruggejaag en teen twaalfuur moes hulle na die noorde toe vlug. Die noordelike deel van die Britse magte kon hulle egter nie afsny nie en die kommando het ontsnap.

Die Boere het Kommandonek nie verdedig nie en nadat albei passe in Britse hande beland het, het Hamilton in die rigting van Rustenburg begin beweeg. Op 6 Augustus 1900 het Kekewich sy versterkings by Olifantsnek begin aftakel en die volgende dag het hy en Hamilton hom by Baden-Powell aangesluit en hul reis in ’n oostelike rigting begin.

Skets van die tweede Slag van Silkaatsnek

Bron: Vincent Carruthers op The Heritage Portal; vertaal deur Daantjie Badenhorst