DIE SLAG VAN DIAMOND HILL

Skets van die Slag van Diamond Hill

Die Slag van Diamond Hill het op 11 en 12 Junie 1900 plaasgevind. Sir Ian Hamilton, een van die generaals wat aan hierdie slag deelgeneem het, het dit as ’n keerpunt in die Anglo-Boereoorlog beskou.

Lord Roberts, die bevelvoerder van die Britse magte, het gereedgemaak om Pretoria op 5 Junie 1900 te beset. Genl. Louis Botha het die oorblywende lede van die Boereleër bymekaar gekry. Pres. MT Steyn van die Vrystaat het Botha oortuig om met die oorlog voort te gaan en die nuus dat Christiaan de Wet se kommando’s in die Vrystaat verwoesting onder die Britse kommunikasielyn tussen Pretoria en Kaapstad gesaai het, het hulle verder gemotiveer. Britse kolomme is by Lindley en Heilbron verslaan en die spoorlyne is keer op keer ontwrig. Die Transvaalse kommando’s was moedeloos en uitgeput nadat hulle maande lank verslaan is en baie lede het onder die wanindruk verkeer dat die oorlog verby was en teruggekeer na hul plase toe. Botha se deursettingsvermoë en die nuus van die Vrystaat af het gemaak dat omtrent 5 000 burgers steeds bereid was om voort te veg. Hulle het by die Donkerhoek-pas, naby die hedendaagse N4-snelweg, 30 km oos van Pretoria, bymekaargekom.

Hoewel die omstandighede in die Vrystaat die Boere moed gegee het, het Lord Roberts al hoe meer bekommerd geraak. Ondanks sy oorweldigende militêre oorheersing was Roberts deeglik daarvan bewus dat hy hom in ’n vyandige omgewing bevind het en dat die verlies van sy toevoerlyn ernstige gevolge sou hê. Hy het twee van sy voorste generaals, Lord Kitchener en Lord Methuen, gestuur om De Wet se bedrywighede te onderdruk; terselfdertyd het hy gesante uitgestuur om Botha te probeer oorreed om oor te gee. Albei taktieke het misluk en toe hy besef het dat die Boerekommando’s ontplooi is om oorlog te maak, het hy 14 000 manne gestuur om hierdie oorblyfsel van Boere-weerstand te onderdruk.

Botha is gekonfronteer met ’n leër drie keer groter as syne, en hy het verwag dat die Britte ’n knyptangbeweging sou probeer uitvoer om hom te probeer omsingel. Dit sou vir hom die grootste bedreiging wees en daarom het hy sy magte oor ’n breë gebied wat die Magaliesberg aan weerskante van die Donkerhoekpas oorbrug het. Botha het geweet dat Roberts nie van aanvalle van voor af gehou het nie en daarom het hy nie veel moeite gedoen om die pas te verdedig nie en sy beperkte mannekrag eerder vir die lang verdedigingslinie aangewend. Genl. De la Rey het beheer van die regterflank wat 20 km noord van Donkerhoek gestrek het, geneem en Botha self het beheer geneem van die linkerflank wat oor dieselfde afstand suidwaarts gestrek het. Dit het beteken dat slegs 5 000 mans ’n afstand van 40 verdedig het.

Botha het Roberts se oorlogsplan reg voorspel. Roberts het lt.-genl. Ian Hamilton met 3 000 berede soldate en 2 200 voetsoldate na die voet van die Bronberg-rif toe gestuur. Die gedagte was om ’n hoë plato genaamd Diamond Hill te beset. Genl. French was gereed om met twee berede kolomme en berede infanteriekolomme die Boere vanuit die suide aan te val. Hulle sou naby die huidige Roodeplaatdam en die Premier-myn in Cullinan verby beweeg. In die middel het lt.-genl. Sir Reginald Pole-Carew op die Pienaarsrivier met infanterie- en artillerieafdelings gewag. Sy opdrag was dat hulle nie moes beweeg totdat die twee arms van die knyptang agter die Boere se linies toegemaak is nie.

Van die begin af was die Boere se oorlogstaktiek beter as dié van die Britte. Hul verdedigingslinie het ver verby die punte waar die Britse flankbewegings aangeval het, gestrek en die knyptange aan die noorde- en suidekant is in kwaai Boere-kruisvuur vasgevang. In die suide, waar Botha self beheer van die Boere se verdediging geneem het, is Hamilton se kavallerie byna omsingel terwyl sy infanterie op die hellings van Diamond Hill teruggehou is. In die hitte van die stryd het lt.-kol. David Ogilvy, 11de Graaf van Airlie, die tipiese Victoriaanse kavallerieoffisier wat by Eton opgelei is, ’n dapper aanslag deur die 12th Lancers gelei om die Boere uit hul posisie te verdryf. Hulle het met lanse en swaarde teen geweervuur op ’n kort afstand geveg en Lord Airlie is noodlottig gewond, saam met twee van sy offisiere en verskeie manskappe.

In die noorde was daar ’n soortgelyke dooiepunt bereik. French se kolom van 1 400 kavalleriesoldate, berede infanteriesoldate en artilleriesoldate is deur kommando’s onder genl. De la Rey geïmmobiliseer. Die twee kante het dodelike geweervuur op kort afstand uitgeruil en niemand was bereid om terug te staan nie. In die middel was die Boere se verdediging op sy swakste en Pole-Carew se betrokkenheid was beperk tot ’n ondoeltreffende artillerie-bombardement van die byna leë pas. Daardie nag was die twee leërs vasgevang in ’n situasie waarin daar geen vordering gemaak kon word nie en enigeen kon die veldslag wen.

Op 12 Junie, die tweede dag, is Roberts oorreed om sommige van Pole-Carew se infanteriesoldate toe te laat om Hamilton op Diamond Hill te gaan help. Hy het egter steeds geweier om toestemming te gee vir ’n aanval van voor af op die Donkerhoekpas; dit kon hom gehelp het om die dag in die Britte se guns te beklink. Op Diamond Hill het die Boere voordeel uit die Magaliesberg-terrein getrek en op die Britse soldate wat teen die heuwel uitgeklim het, geskiet. Daar was verskeie ongevalle onder die Britte maar hul offisiere het steeds soldate uitgestuur om teen die goed versteekte Boere te veg, totdat hulle laat daardie middag besit van die heuwel geneem het.

In die noorde het French se berede soldate wat van hul perde ontneem is, in groot moeilikheid terwyl die Boere die oorhand gekry het. In ’n boodskap wat De la Rey aan Botha gestuur het, het hy gesê dat dit moontlik was om French se kolom met versterkings uit te wis. Botha het dit egter nie gedoen nie en French het oorleef.

Hoewel Diamond Hill in Britse hande was, was die stryd nog nie verby nie en breër strategiese uitkyk vir die twee kante het verskil. As die Britte verslaan sou word, sou hulle ’n veldslag verloor maar as die Boere verslaan sou word, sou hulle ’n oorlog verloor. Botha was bewus hiervan en daardie nag het die Boere hul plekke in die berge ontruim en sonder voorval na die ooste teruggeval. Dit was tegnies ’n Britse oorwinning maar hulle het duur daarvoor betaal en die Boeremagte was nog nie naby oorgawe nie. Die moedeloosheid van die onlangse verlede was vergete en genl. Jan Smuts het in sy memoires geskryf: “Só het die Slag van Diamond Hill geëindig; die Boere het verloor maar hul veggees was van so ’n aard dat ’n regte oorwinning nie juis ’n verbetering sou wees nie.”

Die Britse begraafplaas by Diamond Hill. Die grafsteen van die Graaf van Airlie is die groot wit kruis links van die sentrale senotaaf.

Bron: Vincent Carruthers op The Heritage Portal; vertaal deur Daantjie Badenhorst