DIE SLAG VAN NOOITGEDACHT
Soos wat die oorlog teen die einde van 1900 bly voortwoed het, het die Britse magte al hoe harder probeer om die plaaslike ondersteuning van die Boere se guerrillamagte af te sny.
Plase waar die Boerekommando’s na bewering gehuisves is, is afgebrand terwyl oeste en lewende hawe vernietig is. Die verskroeideaardebeleid is verder verskerp, en dit het die grootste veldslag in die Magaliesberg-omgewing, wat ’n oortuigende oorwinning vir die Boeremagte sou wees, verhaas.
Sedert Oktober 1900 het die Britse magte met omtrent 1500 manskappe, nege gewere en ongeveer ’n honderd waens onder bevel van genl. RAP Clements die Magaliesberg-vallei begin plunder. Clements is gewaarsku dat daar ’n groot Boereteenwoordigheid in die gebied was en terwyl hy vir versterkings van Krugersdorp af gewag het, het die manskappe op die plaas Nooitgedacht aan die voet van die krans in die bergreeks uitgekamp; ’n steil kloof het toegang tot die bokant van die berg gegee waar Clements ’n seinkorps en wagte van sowat 150 man aan weerskante van die sloot geplaas het.
De la Rey en Smuts het die oprigting van die kamp vanuit versteekte waarnemingspunte dopgehou. Die geïsoleerde wagpos op die kranse kon maklik oorwin word en dit sou die kamp heeltemal kwesbaar gelaat het. Genl. Christiaan Beyers, De la Rey se eweknie van die noorde, het Bethanie met nog 1500 manskappe benader. Hierdie toevoeging het beteken dat die Boere se magte dubbeld die grootte van dié van Clements was en met hierdie voordeel was die Boeremagte vol vertroue dat hulle ’n groot oorwinning sou behaal.
Broadwood se ruiters het egter naby Kromrivier tussen die twee Boere-afdelings kamp opgeslaan en sy intelligensiediens het hom van Beyers se teenwoordigheid in die gebied ingelig. Beyers se oplossing was om sy voorneme om Rustenburg aan te val, onder die plaaslike bevolking bekend te maak. Binne twaalf uur het die verkeerde inligting by Broadwood uitgekom en hy het sy kolonne in ’n westelike rigting gelei om die dorp te beskerm. Hy het egter nagelaat om sy kennis van die nuwe Boere-aankomelinge aan Clements oor te dra. Dit het rampspoedige gevolge vir die Britse magte tot gevolg gehad.
Beyers en De la Rey het op 12 Desember ontmoet en hul gekombineerde aanval in werking gestel. Twee van Beyers se kommando’s onder bevel van kmdt. Van Staden en kmdt. Krause het teen die noordelike hellings opgeklim om die wagposte op die westelike steunpilaar van Nooitgedacht se kranse te verower. Nog ’n paar kommando’s onder bevel van kmdt. Kemp en kmdt. Marais het die oostelike steunpilaar verower terwyl nog ’n kommando onder bevel van kmdt. Badenhorst, langs die suidelike onderpunt van die kranse beweeg het en ’n berede infanteriekamp buite Clements se hoofkamp aangeval het. Die res van Beyers se magte het by hul basis gebly in afwagting op Broadwood se moontlike terugkeer van Rustenburg af.
Intussen het De la Rey sy troepe teen die Britte se hoofkamp in die Moot uitgelei terwyl Smuts na die suidooste beweeg het om Clements se terugwykingslyn af te sny. Die aanvalle het voor dagbreek begin. Badenhorst se kommando is aan die onderkant van die krans deur die berede infanterie-buitepos verslaan op wat vandag as Africa Hills Safari Lodge bekendstaan. Die Britse bevelvoerder van die buitepos, kol. N Legge, is in ’n verwoede aanval noodlottig gewond. Bo-op die berg het Beyers se manne gewankel te midde van sarsies geweervuur vanuit die verskanste wagposte. Deneys Reitz het egter in sy skrywe oor dié veldslag gesê dat die troepe wat hulle op die berg getrotseer het, ’n groot fout gemaak het; toe hulle gesien het dat Badenhorst se troepe in verwarring teruggewyk het, het hulle luide oorwinningskrete aangehef. Hul hele mag het, aangevuur deur hul krete, op een of ander skielike impuls, op hul voete gekom en vorentoe beweeg terwyl hulle gegil en geskree het en manne vrylik laat val het so ver as wat hulle gegaan het. Amper voordat hulle dit geweet het, het hulle oor die mure gewemel en by hand-tot-hand-konflik betrokke geraak. Teen sewe-uur die oggend het die Boere beheer van die kruin geneem en meedoënloos op die onderste kamp begin vuur. Gevolglik het Britse soldate verward in alle rigtings uitmekaar gespat. Clements het ’n afdeling van die Cameron Highlanders beveel om die smal paadjie uit te klim om weer besit van die kruin te neem maar hulle is genadeloos afgeskiet. Sers. Donald Farmer het ’n Victoria Cross-medalje verower nadat hy ’n gewonder soldaat op daardie verraderlike pad na veiligheid gedra het.
Anders as wat ’n mens sou verwag, het De la Rey sy aanval of die hoofkamp effens vertraag en later verduidelik dat hy gewag het vir bevestiging van Reitz se sukses voordat hy sou aanval. Hierdie vertraging het Clements in staat gestel om weer beheer van sy paniekbevange soldate te neem en ’n gedissiplineerde terugwyking te reël.
Ook Smuts was traag in sy afsperring van die Britse toevlugsoord; dit het gemaak dat Clements, wat die verkeerde besluit rondom sy keuse van ’n kampplek geneem het, uiteindelik uiters bevoegde leierskap getoon het. Ondanks die aanvanklike chaos van die verrassingsaanval het hy sy gekweste peloton op ’n kalm manier na ’n klein heuwel met die naam van Vaalkop (wat vir die Britse magte as Yeomanry Hill bekendgestaan het) gelei. Hy kon ’n terugvegpoging, wat Smuts verhinder het om skade aan te rig, loods.
By die ontruimde kampplek het die Boere hulle besig gehou met wat Smuts later beskryf het as “pandemonium waartydens die sing van Psalms, plundery en algehele vrolikheid gereeld met geweervuur en bomontploffings gemeng het.” Laasgenoemde was van brandende ammunisiewaens afkomstig. Clements kon terugwyk, met ’n derde van sy manskappe wat gewond was of gesneuwel het.
Meer as vyftig jaar lank is die soldate wat by Nooitgedacht gesneuwel het, in stil begraafplase begrawe, een aan die voet van die kranse, twee op die kruin en een by Vaalkop. Die Jennings-, Sanders- en Hinds-families wat Nooitgedacht besit het, het die begraafplase onderhou. In haar ongepubliseerde verhaal oor die plaas het Muriel Sanders die volgende oor lt. Mudge, wat saam met sy kamerade op die kruin begrawe is, gesê: “Daar is gewoonlik elke jaar rondom Kersfees ’n takkie heide van die familieplaas by Sydney Plampton gestuur om op sy graf geplaas te word.” In 1965 het vandale die graf egter geskend. Gevolglik het die Britse Magte-komitee van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte gereël dat die oorblywende oorskot opgegrawe word en in die Tuin van Herinnering in Krugersdorp hervestig word; ’n klein monument wat deur genl. Clements opgerig is, staan nou nog by die ou begraafplaas onder die nek en ’n gedenkplaat verduidelik waar die ander grafte is. Die enigste graf wat ongeskonde gelaat is, is dié van veldkornet T van Zyl, wat ’n Boereverkenner was. Die ander Boeresoldate wat tydens die Slag van Nooitgedacht gesneuwel het, is by Breedtsnek begrawe.
Die 16de Desember is nie net heilig vir die Afrikaner as gevolg van die Slag van Bloedrivier nie, maar ook omdat dit die dag is toe die volk sy onafhanklikheid op daardie dag in 1880 by Paardekraal naby Krugersdorp opnuut verklaar het. Ter viering van daardie dag asook die oorwinning by Nooitgedacht het Beyers, De la Rey en Smuts hul manne suidwes van die slagveld gelei na die plaas Nauwpoort, wat behoort het aan kmdt. Steenkamp van die Rustenburg-kommando. Die plaas was hoog teen die Witwatersrand-rif geleë en het ’n manjifieke uitsig oor die Moot tot by Olifantsnek gehad.
Benewens die soldate het vroue en kinders vanaf plase oor die hele omgewing bymekaargekom om in die geleentheid te deel. Elke generaal het breedvoerig gepraat en almal wat teenwoordig was, opgeroep om die gelofte van 1838 te herbevestig. Daarna het elke persoon ’n klip geneem en dit op ’n klipstapel gepak, soos wat twintig jaar tevore by Paardekraal gebeur het. Ds. AP Kriel het in ’n gebed van danksegging voorgegaan en die plek die naam Ebenhaezer, rots van ons verlossing, gegee. Die klipstapel is tot vandag daar en staan by ’n monument wat in 1958 opgerig is. Die Boeremagte het die volgende dag terug na Hekpoort beweeg. Clements se peloton, wat dubbeld so groot soos voorheen was, het daardie dag gekies om sy vernedering te wreek. Terselfdertyd het genl. French vanuit die suide met ’n mag van dieselfde grootte op Hekpoort toegesak. Te midde van hierdie oorweldigende oormag het die drie Boeregeneraals afsonderlik in ’n westelike rigting teruggeval. Die Britse magte het twee maande lank probeer om hulle te volg, en mindere skietgevegte het plaasgevind maar daar was geen ernstige gevolge nie. Teen Februarie 1901 het De la Rey ’n goed versteekte basis in Swartruggens gevestig, Smuts was by Gatsrand naby Klerksdorp bedrywig en Beyers het na die noorde van Transvaal teruggekeer.
Bron: Vincent Carruthers op The Heritage Portal; vertaal deur Daantjie Badenhorst