DIE TROEBADOER (ED VAN WYK) (1951-2023)
Die sanger Ed van Wyk, ook bekend as Die Troebadoer, is in die ouderdom van 71 jaar oorlede.
Edwin Charl van Wyk is op 3 September 1951 in Johannesburg gebore en het sy diensplig in die Suid-Afrikaanse Lugmag verrig. Sy verhoognaam en -persoonlikheid was die idee van Boet Pretorius en André Viljoen van sy destydse platemaatskappy Decibel en hy het altyd ’n kostuum gedra.
Ruben Lennox het sy eerste groot treffer, “Sommer so sonder rede” geskryf. Dit het dadelik ’n treffer geword, onder meer as gevolg van die musiekvideo waarin hy met ’n outydse koets gery het. Dit was die treffersnit van sy eerste album, Ek sing my lied, wat in 1984 verskyn het. Ander treffers op hierdie album was “Skooldaeliefde”, “Ek gaan huis toe”, “Ek is jou troebadoer” en “Ware liefde”. Later het hy treffers gehad met liedjies soos “Angeliere sê”, “Sing troebadoer” en “Ek verlang na ou vergete dae”. Sy sangloopbaan het ’n nuwe wending geneem toe sy kostuum laat in die 1980’s gesteel is, waarna hy onder sy eie naam begin sing het. Hy het die album Met liefde vir ’n nuwe platemaatskappy uitgereik en treffers met “Vir iedereen” (’n jaar voordat André Schwartz sy treffer “Lief vir alles hier” op dieselfde wysie gesing het), “Señorita bonita” en “Liefling jy”, asook sy weergawe van “’n Liedjie vir jou” van Jannie du Toit gehad.
Sy sangloopbaan het egter tien jaar gelede ’n doodloopstraat bereik toe hy en sy vrou die bestuur van die drankwinkel op Keimoes oorgeneem het. Daar was baie min geleentheid vir hom om op die platteland op te tree.
Kanker van die sagte weefsel is in 2021 by hom gediagnoseer, waarna hy bestraling en chemoterapie ontvang het. Hy is op 23 Mei 2023 oorlede.
deur Daantjie Badenhorst