DIRK MUDGE (1928-2020)

Die bekende Namibiese politikus, Dirk Frederik Mudge, is op 26 Augustus 2020 in die ouderdom van 92 jaar aan COVID 19-komplikasies oorlede.

Hy is op 16 Januarie 1928 op die plaas Rusthof naby Otjiwarongo gebore en was ’n boer van beroep. In 1947 het hy egter ’n BCom-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en as ’n rekenmeester in Windhoek gewerk. Tussen 1952 en 1960 was hy ’n beesboer.

In 1955 het hy ’n lid van die Nasionale Party geword en in 1961 was hy een van sewe volksraadslede wat die destydse Suidwes-Afrika verteenwoordig het. In 1965 het hy ’n lid van die Uitvoerende Komitee vir Suidwes-Afrika geword. Toe AH du Plessis, die leier van die Nasionale Party (NP) in Suidwes-Afrika, tot minister verkies is, het Mudge as leier waargeneem. In daardie tyd het hy begin verskil van die NP se standpunt oor die onafhanklikheid van Suidwes-Afrika. Hy het met die Herero-stamhoof, Clemens Kapuuo, bevriend geraak, planne vir selfregering vir Suidwes-Afrika met die destydse Suid-Afrikaanse Eerste Minister, mnr. John Vorster bespreek en betrokke geraak by die Turnhalle- konstitusionele konferensie van 1975 tot 1977. Hierdie konferensie was ’n poging om ’n breë spektrum van die inheemse bevolking te oortuig om geringe hervormings en kompromieë te aanvaar en hul steun aan SWAPO se gewapende stryd te onttrek. Die oogmerk was om die skeiding van Suidwes-Afrika se etniese groepe te verseker deur die toekomstige staat Namibië te stig; ’n grondwet hiervoor is by die Turnhalle-konferensie geskryf. Die konferensie het tot gevolg gehad dat baie van die afgevaardigdes daartoe ingestem het om hul klein etniese partye te laat saamsmelt en een groot liggaam te skep om SWAPO aan te durf. Kort voordat die konferensie ten einde geloop het, het die Republikeinse Party, wat Mudge gestig het, deel geword van die Demokratiese Turnhalle-Alliansie (DTA), wat op 5 November 1977 gestig is, met Clemens Kapuuo as eerste president en Mudge as voorsitter. Mudge het ook Die Republikein, tot vandag toe Namibië se enigste Afrikaanse koerant, en die uitgewer daarvan, Democratic Media Holdings (vandag Namibia Media Holdings) gestig.

In 1978 is die eerste wetgewende verkiesing in Suidwes-Afrika gehou, en die DTA het 41 van die 50 setels gewen. Hoewel dit die eerste veelrassige verkiesing in Suidwes-Afrika was, was daar aantygings van intimidasie, veral weens die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse troepe in die noorde van die land. Die veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het die verkiesing nietig verklaar. Op 1 Julie 1980 het Mudge die voorsitter van die ministersraad geword. Die ministersraad het in 1983 bedank en Suid-Afrika het weer die administrasie van Suidwes-Afrika oorgeneem.

In November 1989 het Mudge die Demokratiese Mediatrust van Namibië gestig; dit was ’n agentskap wat die druk van media in Namibië met die oog op die versekering van vrye en regverdige verkiesings befonds het. In dieselfde jaar is hy tot die Namibiese grondwetgewende vergadering verkies. Namibië het amptelik op 21 Maart 1990 onafhanklik geword.

Mudge het in 1993 uit die politiek getree en na sy plaas Ovikere naby Kalkfeld in die Otjozondjupa-streek van Namibië teruggekeer. Hy was getroud met Steinie Jacobs; hulle het vyf kinders, 16 kleinkinders en 23 agterkleinkinders gehad. In Mei 2015, op 86-jarige ouderdom het hy sy outobiografie, Dirk Mudge: Enduit vir ’n onafhanklike Namibië, gepubliseer. Dit is later onder die titel All the way to an independent Namibia in Engels vertaal.

Daar is verskillende menings oor die rol wat hy in die onafhanklikheid van Namibië gespeel het. Daar is diegene wat meen dat hy die proses van onafhanklikheid vertraag het, die lyding van die inheemse inwoners laat voortduur het en rasseskeiding verskans het. Aan die ander kant was hy verantwoordelik vir Namibië se veelpartystelsel.

Hy is in ’n hospitaal in Windhoek oorlede nadat hy ’n longinfeksie opgedoen het; die toestand is deur Covid-19 vererger.

deur Daantjie Badenhorst