ELIZE BOTHA (1922-1997)

’n Ma vir die troepies …

Soos aambeeldyster en fynsilwer was hulle twee. Hy, die onversetlike beroepspolitikus met die streng wysvinger en sy die sagte, moederlike, waardige vrou wat altyd naby hom was. Asof sy hom moes temper en ondersteun. Want in haar lewe was dit haar grootste doel en vreugde: Om vrou en moeder te wees.

Ouma Smuts het altyd gepraat van “die Oubaas”, tant Mynie Hertzog het gepraat van “die Generaal”, Maria Malan weer van “Doktor”, maar as sy na PW verwys het, was hy altyd: “my man”. Dis hoe sy dit wou hê.

Anna Elizabeth Rossouw was ’n pastoriedogter van die Vrystaat. Haar pa was die bekende ds. Servaas Rossouw en haar ma ’n nooi Duvenage. Van kleinsaf was sy ’n fynlakenmens met haar blonde kop en helder blou oë.

Aan die ander kant, was daar Pieter Botha, die seun van ’n bittereinder in die Anglo-Boereoorlog. Sy ma was verwant aan generaal De Wet. Stoere Boeremense. Pieter Willem jnr. matrikuleer in 1933 op Bethlehem en skryf in as regstudent aan die Universiteit van die Vrystaat (toe nog bekend as Grey University College). Na drie semesters loop hy. Sy kop staan politiek toe en hy word ’n organiseerder vir die Nasionale Party in Kaapland. Hy sluit hom ook aan by die Ossewabrandwag, maar draai ook sy rug daarop toe die OB toenemend aktivisties begin raak.

In die Vrystaat organiseer hy die Nasionale Party soos min ander mense. Dis vir hom ’n lewensroeping. En op sy reise loop hy die pastoriedogter van Senekal met die blou oë raak. Sy is ses jaar jonger as hy. Dis die jare van SAP en NAT en PW maak ’n punt daarvan om ’n SAP-vergadering te verongeluk. Op Kroonstad gaan hy een aand so tekere dat oubaas Krog die vergadering stop en sy twee seuns roep. “Kêrels,” sê hy, “gooi dan vir ons daai donner met die rooi das by die deur uit lat ons kan klaarmaak hier.” PW Botha laat hom nie by deure uitgooi nie. Van daar af is dit volstoom vorentoe.

In die middel van die oorlog, op 13 Maart 1943, trou PW en Elize. Uit die huwelik word uiteindelik vyf kinders gebore. Rossouw, Pieter en die drie dogters, Elanza, Amelia en die laatlam, Rozanne.

Dwarsdeur die jare van PW se politiek opgang is Elize by. Sy maak die kinders groot, luister geduldig, gee raad wanneer sy daarom gevra word, maar bemoei haar nooit met sy werk nie. O, sy het haar eie idees en sy debatteer politiek net so goed as hy, maar dis nie haar taak nie. Haar taak is om sy hande hoog te hou. En dit doen sy.

Saam met die bewindsoorname van die Nasionale Party in 1948 word PW uiteindelik Parlementslid. Hy verteenwoordig George – ’n kiesafdeling en ’n gemeenskap waarvoor Elize baie lief word. Tussen die rowwe en stormagtige dae deur breek hulle weg na die berge en die bos en die bruin waterstrome van die Grasveld aan die Outeniqua. En dit is ook daar waar hy “Die Anker” koop – ’n gerieflike woonhuis langs die Wildernismeer.

In Verwoerd se kabinet word PW adjunkminister van binnelandse sake en onder John Vorster word hy eers Minister van Kleurlingsake en later Minister van Verdediging. Vir die res van sy termyn in die politieke arena sou daar ’n hegte band tussen hom en die soldate van Suid-Afrika bly. Dis ’n verantwoordelike en veeleisende taak, want die Grensoorlog woed op sy felste.

En in die middel hiervan, op die mees onverwagse oomblik, breek die Inligtingskandaal los en John Vorster bedank as Eerste Minister. Dit is 1978 en PW en Elize word die 8ste Premierspaar van Suid-Afrika. Daar is heelwat beskuldiginge dat PW vir John Vorster uit sy amp gestoot het. Verseker is hy, steeds konserwatief volgens sy opponente, ’n veel groter pragmatis as sy voorganger. In sy kop het hy planne vir grondwetlike hervorming wat groter outonomiteit aan die tuislande sal gee en politieke verteenwoordiging aan die Kleurling en Indiërbevolking. “Adapt or die!” sê hy in die parlement.

Lanklaas is ’n Eerste Minister so geskel soos PW Botha. Maar tipies van die “Groot Krokodil” hou hy koersvas op die pad wat hy gekies het, Elize altyd ’n tree agter hom. Sy raak bekend vir haar smaakvolle uitrustings, haar swierige hoede en haar intense betrokkenheid by mense. Sy loop in die modder rond na die Laingsburg-vloed, sy klouter oor die puin na die Kerkstraat-bomontploffing en sy reis die wêreld vol saam met hom.

Tussen die vroue van die wêreldleiers staan sy nie terug nie. Sy neem haar plek in langs Nancy Reagan, Raisa Gorbachev, mev. Shulamit Shamir, madame Danielle Mitterand en frau Hannelore Köhl. Die besoeke aan Israel is vir haar besonders. Sy het in ’n pastorie grootgeword en om te wandel in die voetspore van Christus is vir haar ’n lewensdoel. Een van haar kosbaarste besittings is ’n klein kruik wat opgegrawe is langs die trekpad van die ou volk van Israel uit die dae van Moses. Dit is ’n geskenk van die Israelse Eerste Minister, Yitzhak Shamir, op haar verjaardag. Wanneer hulle in Switserland is en PW saam met Pik Botha vinnig oorvlieg Londen toe vir kort samesprekings met die Britse Eerste Minister, is Margaret Thatcher se telefoniese versoek duidelik: “Please bring your wife along, I would so love to see her again.” Sy vergeet haar trouring op die handwasbak in Nr. 10 Downing Street, maar Margaret Thatcher sorg dat dit met ’n British Airways-vlug na Switserland geneem word en persoonlik by haar afgelewer word.

En saam met PW draai sy in Durban voor die Rubicon om.

In 1984 word sy, na Tinie Vorster, die tweede vrou wat ook Staatspresidentsvrou word. PW se driekamerparlement word met ’n referendum goedgekeur en hy word die eerste uitvoerende staatspresident van die Republiek. Die jare hierna is gevul met die noodtoestand, sanksies en buitelandse druk, terrorisme en die fyn spel van diplomasie om Suid-Afrika op koers te hou. Die kinders word groot, trou en die kleinkinders begin kom.

En vir almal is Elize ma en ouma. Op donker, nat Kaapse reënnagte is dit sy wat die seuns van die SAP se wageenheid wat hulle moet bewaak by die kombuisdeur inroep vir ’n warm melkdrankie en ietsie soet. Sy soek altyd iemand om te bederf. En ongemerk gaan die jare verby.

Na 46 jaar saam in die politieke kryt kom die einde in Januarie 1989. PW kry ’n ligte beroerte. Hy sit met groot verdeeldheid in sy kabinet wat hom verkwalik oor sy hantering van die Wêreldleiersberaad in Moskou waartydens hy toegegee het aan die druk van Reagan en Gorbachev om Resolusie 435 te aanvaar en Suid-Afrikaanse troepemagte te onttrek aan Suidwes-Afrika. Die beroerte verhoed hom om die beraad met Namibiese leiers by te woon en Chris Heunis gaan in sy plek. PW is nie tevrede met Heunis se hantering van die saak nie en dit lei tot ’n plofbare situasie. ’n Hele paar vuurwarm kabinetsvergaderings volg. Dit is hier waar FW de Klerk, die Minister van Onderwys, sy posisie in die party begin konsolideer.

Net soos DF Malan, jare gelede vir Klaas Havenga as opvolger begin voorberei het, begin PW nou vir Barend du Plessis voorberei as opvolger. En net soos wat Hans Strijdom die kroon voor Klaas Havenga weggeraap het, gryp FW de Klerk die leierskap van die Nasionale Party voor Barend du Plessis weg. In Maart 1989 kies die kabinet vir De Klerk as president, maar PW weier botweg om terug te staan. Volgens hom is hy die wettige staatspresident tot 1990 en hy oorweeg dit in elk geval om homself verkiesbaar te stel vir ’n volgende termyn ook.

Maar die oormag is te veel. Met groot verbittering kom hy ooreen met De Klerk dat hy in September sy uittrede sal aankondig. Die situasie is egter onuithoudbaar en toe hy verneem dat De Klerk, sonder sy medewete, ’n besoek aan Kenneth Kaunda gebring het, neem hy sy besluit blitsig en kondig op die aand van 14 Augustus sy bedanking aan.

Elize protesteer nie. Sy het nooit probeer om PW se besluite te beïnvloed nie. Sy pak in en verhuis rustig saam met hom na Die Anker. Tot die einde bly sy almal se ma. Haar voordeur staan oop vir enige volksgenoot wat wil kom kuier.

Ek was in daardie jare in die uitsaaiwese betrokke en het gereeld by Die Anker aangedoen vir koffie. Maandae-oggende tienuur, klokslag, was haar foonoproep daar om te hoor hoe dit gaan en wanneer ek ’n slag kom kuier. En dan gesels sy oor die kleinkinders en die worshonde en die mooiste sonsondergange oor die meer.

Aan die agterkant van Die Anker was ’n private pad met die bordjie: “Residents Only”. Vir ons jong KP-outjies was dit groot pret om ’n “P” voor die “Residents” te gaan verf sodat daar staan “Presidents Only”. Met ’n vonkel in die oog sou tannie Elize my, kastig vreeslik streng, daaroor aanspreek. Maar oomblikke later weer hartlik lag wanneer een van die worshonde my skoenveter beetkry en uittrek. By haar was altyd die heerlikste tee en vrugtekoek. En net soms het die Groot Krokodil uit sy studeerkamer gekom en by ons kom sit.

“Meneer Botha,” vra ek eendag, “as daar enigiets is wat u anders sou doen, wat sou dit wees?” Hy het nie eens ’n oomblik nagedink oor sy antwoord nie: “Ek sou nooit vir De Klerk in my kabinet opgeneem het nie,” sê hy. “Nooit.”

Tannie Elize sterf op 6 Junie 1997 aan ’n hartaanval. Sy is 75 jaar oud. Langs die klein kerkie van Hoekwil, op die kop waar jy ver kan uitkyk oor die see, begrawe hulle haar. Daar is baie mense by die roudiens, maar wanneer hulle haar aan die aarde toevertrou is dit net die kinders en kleinkinders wat ’n ma en ouma kom groet. Oor hulle grafskrifte het hulle self lankal ooreengekom. Op hare sal staan: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Op syne eenvoudig: “Die Here regeer.”

’n Jaar later trou PW met Barbara, 25 jaar jonger as hy en so totaal anders as tannie Elize. Maar sy gee vir hom die steun en versorging waarvoor Elize vir die 54 jaar van hulle huwelikslewe nooit afwesig was nie. Op 31 Oktober 2006 volg hy haar. Thabo Mbeki bied ’n staatsbegrafnis aan, maar die familie weier. Dis genoeg dat die vlae landswyd halfstok hang.

Langs die kerkie by Hoekwil rus die laaste Premierspaar van Suid-Afrika. Hulle was meer as ’n halfeeu saam, dis gepas dat hulle daar ook saam is.

deur Daniël Lötter