EMGEE PRETORIUS (1923-2007)
Ons almal onthou seker nog vir Veldsman van Koöperasiestories, wat saam met Mietie en Genis op die stoep gesit het.
Dié rol is deur die veteraanakteur Emgee Pretorius, wat op 30 November 1923 gebore is, vertolk. Hy het sy debuut as akteur in 1946 in die rolprent Die wildsboudjie gemaak en het daarna by André Huegenet se toneelgeselskap aangesluit, saam met wie hy deur die land getoer het. Hy was van 1948 tot 1952 verbonde aan Suid-Afrika se Nasionale Teater, maar het die vermaaklikheidswêreld daarna verlaat.
Met die koms van televisie het dit egter verander, en hy het gou ’n bekende gesig onder televisiekykers geword. Sy eerste televisierol was dié van die skelm “predikant” De Jongh in Nommer asseblief. Die een rol na die ander het gevolg. In die televisierolprente De la Rey en Die vrede van Vereeniging het hy die rol van genl. Louis Botha vertolk. Een rol waarvoor hy altyd onthou sal word, is dié van Priester, een van die gevangenes in die uiters gewilde televisiereeks Vyfster, waarin George Ballot, Paul Eilers, Patrick Mynhardt en Danie Joubert ook te sien was. In dieselfde jaar, 1982, was hy ook te sien as Fouché Morkel in Jan Scholtz se televisiereeks Sterretjie, saam met Jan Schutte, Joanie Combrinck en Ryno Hattingh.
In die reeks Het van Verlangekraal, wat uit drie episodes bestaan het, het hy die rol van mnr. Du Plessis vertolk; Sally Campher het die titelrol vertolk en Schalk Jacobsz was die nare skoolhoof. Dit is egter sy rol as Veldsman in PG du Plessis se Koöperasiestories waarmee hy onsterflike roem verwerf het. Dié uiters suksesvolle reeks het gelei tot die rolprent Liewe hemel, Genis, waarin Jacques Loots, Marie Pentz, Alex Heyns en Willie Esterhuizen weer saam met hom te sien was. In 1994 was hy in die reeks Grondbaronne te sien in die rol van Gert Schutte, saam met Petru Wessels, Francois Coertze, Lieb Bester en Elma van Wijk. Benewens sy televisierolle was hy in rolprente soos A case of murder en Stander, die lewensverhaal van die veroordeelde bankrower André Stander se lewe.
Pretorius is op 1 Mei 2007 in die ouderdom van 83 jaar aan ’n hartaanval oorlede.
deur Daantjie Badenhorst