FRED MOUTON (1947-2022)
Die bekende spotprenttekenaar Fred Mouton is in die ouderdom van 74 jaar aan kanker oorlede.
Frederick Jacobus Mouton, wat op 27 Augustus 1947 in Kaapstad gebore is, was slegs die derde spotprenttekenaar in die 107-jarige bestaan van die Kaapse dagblad Die Burger, en het in die voetspore van onder meer die skepper van Oom Kaspaas en Adoons-hulle, TO Honiball, gevolg. Sy eerste spotprent vir Die Burger het in 1972 verskyn na aanleiding van ’n belangrike tussenverkiesing wat daardie jaar plaasgevind het. Honiball het met die prent, met volstruise as tema, begin, maar nadat hy siek geword het, het Mouton dit voltooi. Hy het nie net vir Die Burger geteken nie, maar ook vir Landbouweekblad, en sy uitgangspunt was dat spotprente nie net snaaks moes wees nie, maar ook ernstige kwessies en tragiese gebeurtenisse onder mense se aandag moes bring.
Dit was die destydse sportredakteur, Victor Holloway, wat Mouton se talent eerste raakgesien het en hom genooi het om sportbyeenkomste wat hy moes dek, saam met hom by te woon. Die rede hiervoor was dalk dat die Mini Cooper S waarmee Mouton gery het, vinniger was as die Volkswagen Beetles en Peugeot 404’s wat die koerant in sy vloot gehad het. Hulle het onder meer atletiekbyeenkomste wat ’n uur lank geduur het en waartydens bekende atlete soos John van Reenen, Danie Malan en Marcello Fiasconaro deelgeneem het, bygewoon. Later, toe Holloway die kunsredakteur geword het, het Mouton hom na onder meer konserte, rolprentfeeste en toneelopvoerings vergesel. Holloway het Mouton betaal vir sketse van bekendes soos Percy Sledge en José Feliciano, totdat Die Burger daarvan uitgevind het.
In 1972 het Mouton sy eerste politieke spotprent geteken nadat TO Honiball siek geword het. Honiball het sedert die 1940’s met die destydse redakteur Piet Cillié gewerk het. Cillié en Honiball was albei van Stellenbosch afkomstig en in dieselfde skool. Mouton was in sy vroeë twintigerjare en Cillié was dalk die mees invloedryke redakteur in Suid-Afrika; hy het geweet hoe om ’n spotprent in te span in die stryd tussen Nat en Sap.
Mouton het aanvanklik met ’n pen geteken maar later na ’n kwassie oorgeskakel. Hy het daarop besluit omdat hy nie van lomp, dik lyne gehou het nie. Toe Cillié in 1977 afgetree het, het Wiets Beukes, ’n gesoute koerantman uit die Vrystaat, hom opgevolg. Daarna het nog vyf redakteurs gevolg, naamlik Ebbe Dommisse, Arrie Rossouw, Henry Jeffreys, Bun Booyens en die huidige redakteur Willem Jordaan. Hulle almal het elke oggend ’n roetine gevolg; Mouton het met elke nuuskonferensie gewoonlik op die verste punt van die tafel gaan sit en die spotprent saam met die res van die bestuur, onder meer die redakteur en nuusredakteur, bespreek. Mouton het altyd ’n opgevoude koerant byderhand gehad. Booyens het Mouton se gekrabbel op ’n koerant nie verduur nie, want daar was soveel interessante dinge daarop wat in elk geval later in die dag in die asblik sou beland. Daarom het hy in 2014 vir Mouton ’n notaboekie gegee waarop hy sy sketse kon maak.
Met sy aftrede in 2012 was hy seker die enigste werknemer in die hele Naspers wat nie e-pos gehad het nie, en besoekers het gesukkel om hom in sy kantoor op te spoor. Dit was só goed versteek dat ’n jong personeelbeampte hom nie kon opspoor ten tyde van sy aftrede nie. Daardie personeelbeampte het op ’n besige nuusdag gevra of daar ’n Frederick Jacobus Mouton in die gebou gewerk het. Niemand het geweet nie, want vir almal in die kantoor was hy net Fred. Sy kantoor was sy vesting; hy het snymessies, kleefband, botteltjies Tipp-Ex, potlode, ’n blikbeker met inkwater, ’n paar ou koerante en papierservette. Teen sy mure was prente van mense wat hy gereeld moes teken, met wondergom vasgeplak, maar daar was geen teken van ’n rekenaar of enigiets soortgelyks nie, net ’n transistorradio waarop hy na die nuus kon luister. Hy het wel ’n vlaggie met ’n sosatiestokkie op die rammelkas-lugversorger teen die venster staangemaak, maar dit telkens met elke politieke wending vervang. Daar was selfs ’n tyd lank ’n Untag-vlaggie.
Mouton was ook lief daarvoor om motors te teken, en op die vloer van sy kantoor was daar gewoonlik ’n stapel Auto Trader-tydskrifte wat hom gehelp het om ’n motor korrek te teken. As hy byvoorbeeld ’n Fiat Uno met vyf wielmoere geteken het pleks van vier, sou mense hom dalk gebel het om hom op sy fout te wys. Hy het gewoonlik ’n spotprent binne drie ure voltooi; sommige oggende het hy so lank gesit en teken en uitvee dat hy mettertyd nie meer geweet het wat hy gedoen het nie. Dan het hy maar weer voor begin. Na middagete was hy egter klaar en het hy woordeloos sy skets op die redakteur se lessenaar neergesit en teruggegaan na sy kantoor toe.
Hy was ’n stil mens wat nooit hard gepraat het nie en hy het ’n amperse fobie vir sosiale geleenthede gehad, veral as die kollig op hom geval het. Hy het ’n droë humorsin gehad en het dikwels met homself gespot. Hy het gedurende sy loopbaan omtrent 10 000 spotprente geteken; dit was ’n stuk geskiedskrywing wat ingewikkelde kwessies vir mense meer verstaanbaar gemaak het.
Hoewel kanker reeds in 2018 by hom gediagnoseer is, het hy steeds voortgegaan om nie net vir Die Burger nie, maar ook vir Landbouweekblad, Weg!, WegRy&Sleep en Huisgenoot te teken. Hy word oorleef deur sy vrou Annemarie, twee dogters, ’n seun en twee kleinkinders.
deur Daantjie Badenhorst