GEORGE MEIRING (1939-2024)
Genl. George Meiring was die laaste hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en die eerste hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
George Lodewyk is op 18 Oktober 1939 op Ladybrand in die Vrystaat gebore en sy pa was skoolhoof van ’n klein plaasskooltjie. Hy het dikwels op die plaas leiding geneem toe sy pa by die skool moes wees. Hy het sy MSc-graad in fisika aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf. Daarna het hy hom in 1963 as ’n seinbeampte by die destydse Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit. In 1974 is hy as direkteur van die sein-afdeling (D Sigs) van die Suid-Afrikaanse Leër aangestel.
Hy was van 1982 tot 1983 adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër en van 1983 tot 1987 was hy die bevelvoerende generaal van die Suidwes-Afrika Gebiedsmag. Daarna was hy hoof van Verre Noord Bevel, en weer adjunkhoof van die Leër, voordat hy van 1990 tot 1993 hoof van die Leër was. In 1993 het hy hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag geword, en nadat die Regering van Nasionale Eenheid in 1994 aan bewind gekom het, was hy die eerste hoof van die hernoemde Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
In 1998 het hy die Suid-Afrikaanse Orde van die Ster (Goud) ontvang, waarna hy die Orde van “Cloud and Banner” (4de klas) van Taiwan ontvang het. Nadat hy hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag was, het hy hoof van militêre inligting geword. In hierdie hoedanigheid het hy ’n verslag aan oudpresident Nelson Mandela oor ’n organisasie bekend as die “Front People’s Liberation Army” oorhandig. Hierdie verslag het ’n aantal hooggeplaastes in die regering van sameswering tot ’n staatsgreep geïmpliseer. Volgens die verslag sou die president en sekere regters vermoor word, waarna die parlement en uitsaaistasies beset sou word en chaos gesaai sou word. Later, nadat die saak ondersoek is, het dit geblyk dat die verslag foutief was of miskien toegesmeer is. Hy het sy outobiografie, Soldaat en mens, in 2020 self uitgegee. Hy was jare lank die hoofouderling van die NG-gemeente Kameeldrift in Pretoria.
Hy is op 3 September 2024 oorlede en word oorleef deur sy vrou, drie seuns, drie dogters asook sy kleinkinders en agterkleinkinders.
Daantjie Badenhorst