HARRISMITH-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Munisipale begraafplaas

Koördinate:

Harrismith was een van die kleinste en mees onbeduidende konsentrasiekampe maar sy ligging, op die grens van Natal, het die kamp ’n unieke karakter gegee.

Die dameskomitee het gemeen dat die kamp op ’n mooi plek en in een van die gesondste plekke ter wêreld geleë was. Die kamp het waarskynlik in Januarie 1901 ontstaan en teen die 8ste Januarie het Emily Hobhouse opgemerk dat daar sewehonderd kampbewoners was. Dit was moontlik ’n wanvoorstelling aangesien die maandelikse verslag van April daardie jaar ’n syfer van 271 inwoners aangedui het. Teen Oktober 1901 het die inwonertal 1500 bereik, steeds heelwat minder as die meeste ander kampe. Swart kampbewoners het die kamp binnegestroom en hoewel die presiese getal onseker is, het Lord Kitchener teen Julie 1901 besluit dat Harrismith se swart inwoners die dorp moes verlaat. Daar was minstens vyfhonderd mense wat hierdeur geraak is. In Oktober is die swart kamp onder die bestuur van die destydse Naturelle-vlugtelingkampadministrasie geplaas, maar geen verdere besonderhede hieroor is bekend nie.

Die kamp het min amptelike aandag in die vroeë maande getrek en die superintendent se verslae was bondig. Aanvanklik was daar maar die gebruiklike probleme van verblyf en rantsoene. In Julie 1901 het die hoofkantoor aanbeveel dat die superintendent hutte van songedroogde bakstene moes oprig aangesien daar geen tente beskikbaar was waarin mense gehuisves kon word nie. Voedsel was egter baie beter as in sommige ander kampe. Aangesien Harrismith effens geïsoleerd was, het die superintendent byna vrye teuels vir die verkryging van rantsoene gehad, op voorwaarde dat dit nie meer as 9d per persoon vir blanke mense sou kos nie, en minder as die helfte daarvan vir swart mense. Tot November 1901 het Harrismith een groot voordeel gehad, naamlik ’n ondernemende Indiese handelaar, mnr. Cadova, wat vis en groente teen ’n laer prys as die gebruiklike kontrakteurs van Durban af ingevoer het. Die kampbewoners het baat gevind daarby, het die superintendent verduidelik. Jaloerse plaaslike winkeleienaars wat nie kon meeding nie, het saamgespan om Cadova te verwyder omdat Indiërs volgens die ou wette nie in die Vrystaat toegelaat is nie. Rassisme was belangriker as die welstand van die Boerefamilies en Cadova se winkel is gesluit op grond van die onaanvaarbaarheid van “Koelie-immigrasie”.

Sommige van die kampbewoners kon hul rantsoene aanvul deur in die dorp te werk. Toe die kampowerhede ’n stokkie daarvoor wou steek omdat dit glo wrywing tussen die kampe en dorpe sou veroorsaak, het die superintendent gesê dat so ’n maatreël armoede en werkloosheid tot gevolg sou hê. Hy het die hoofkantoor verseker dat daar geen wrywing van enige aard was nie. Met die steun van die plaaslike Britse kommandant is daar besluit om ’n uitsondering in Harrismith se geval te maak.

Morele waardes was ook ’n groot kopseer in die Harrismith-kamp en is by verskeie geleenthede ondersoek. Die superintendent is in November 1901 gewaarsku dat die soldate net toegelaat is om die kampe binne te gaan as hulle onluste moes stopsit. Hy is ook uitgevra oor die geboorte van ’n buite-egtelike kind, met dr. Eastwood of Earlwood wat as die pa aangedui is. Mej. Van Jaarsveld het saam met die dokter op die dorp gewoon en was “in die pad van die gesin” voordat sy by die kamp aangekom het, het die superintendent verduidelik.

Ondanks die geesdrif van die dameskomitee was Harrismith nie ’n gesonde dorp nie. Tifuskoors was volop en die plaaslike distrikskommissaris moes geld bedel om die siekte onder die dorpsmense te bestry. Die siekte het gou versprei en teen November 1901 was ’n inwonende dokter dringend nodig. Dit was eienaardig aangesien die meeste kampe toe reeds hul eie dokters gehad het. Die dameskomitee het Harrismith aan die einde van November 1901 besoek en was uiters besorg. Hulle was bang dat die kamp, wat tot dusver besonder gesond was, op die rand van ’n epidemie was. Die haastige ondersoek deur die plaaslike militêre mediese personeel, het bevind dat die kamp in ’n besonder swak toestand was en dat die plaaslike dokter, dr. Beor, die superintendent, mnr. Arthur Bradley, nie so ver kon kry om aandag aan sy klagtes te gee nie. Die militêre personeel was bang dat die kamp ’n bedreiging vir die gesondheid van die soldate en die dorp, waar die epidemie begin het, sou wees en ’n latere ondersoek het bevind dat daar ’n tekort aan water was en dat die kamp deurtrek was van tifuskoors.

Selfs toe dit sleg gegaan het, was die sterftesyfer in die Harrismith-kamp ondergemiddeld, maar omdat die kamp klein was, het die syfers nie die volle verhaal vertel nie. Dit was egter duidelik dat die maselsepidemie, wat in November 1901 uitgebreek het, die hoofoorsaak van sterftes was.

Dr. CJ Rossiter, wat pas uit Brittanje aangekom het, asook bykomende verpleegpersoneel, is inderhaas aangestel, maar die probleme is nie onmiddellik opgelos nie aangesien Rossiter nie met Bradley oor die weg gekom het nie. Daar het ’n struweling ontstaan toe die dokter daarop aangedring het dat alle enteriese gevalle na die hospitaal gestuur moes word. Bradley het homself verontwaardig verdedig en die geval genoem van ’n sterwende kind wat na die hospitaal gestuur is. Hy het verduidelik dat die idee om na die hospitaal gestuur te word, die kind bang gemaak het. Bradley het nog nooit tevore so ’n jammerlike gesig gesien soos toe die kind na die hospitaal gestuur is nie. Die kind is dood voordat ’n bed gevind kon word. Daar het harde woorde tussen hulle geval as gevolg van hierdie voorval en die een wou die ander nie gelyk gee nie.

Hierdie voorval was ’n voorbeeld van spanning wat in die kampe ontstaan het en tot misverstande gelei het. Vanuit ’n mediese oogpunt was Rossiter reg; hy wou die aantal sterfgevalle verminder maar hy het hom van die kampbewoners vervreem. Bradley was ’n voorbeeld van die gawe maar ondoeltreffende superintendent van wie die mense gehou het maar wat nie die aantal sterfgevalle kon beheer nie. Rossiter was gedeeltelik reg oor die gebrek aan dissipline in die Harrismith-kamp. In Januarie 1902 het nog ’n storm losgebars toe die Boerefamilies onbehoorlik en jubelend tydens die begrafnis van een van die Britse soldate betoog het. Lord Kitchener was woedend en het beveel dat drie- tot vierhonderd “onversoenbares” na Ladysmith gestuur moes word. Op die ou einde is die hele kamp oor die Drakensberg gestuur; ’n groot getal is na Ladysmith gestuur en in April is andere na die Wentworth-kamp in Durban gestuur.

Ongeag die gebreke van die Harrismith-kamp het die kampbewoners die “bekende duiwel” verkies. Toe die gesinne van Reitz gedreig is met verskuiwing na die Heilbron-kamp, het hulle vurig protes aangeteken. Hulle het gesê dat hulle tevrede was waar hulle was. Hulle is goed behandel en die gesondheid was oor die algemeen goed. Daarby het hulle baie moeite gedoen en kostes aangegaan om die lewe so gemaklik as moontlik vir hulleself te maak deur onder meer stowe te koop, kombuise in te rig en meubels bymekaar te maak. Hul kinders was goed gevestig in die skole en hulle wou nie verhuis nie.

Die gesinne het hul protesaksies hervat toe hulle gehoor het dat hulle na Ladysmith verskuif sou word. Hulle was heeltemal tevrede in Harrismith, het hulle gemeen. Hulle het van die superintendent gehou en hulle het hulself gemaklik gemaak. Die sterftesyfer weens tifus was gering in vergelyking met ander kampe. Hul besware het egter op dowe ore geval en die hele kamp is in Maart 1902 na Ladysmith verskuif en deur die Britse Leër oorgeneem.

Daantjie Badenhorst