HEIDELBERG-KONSENTRASIEKAMP

Ligging: Nuwe Munisipale begraafplaas, Jacobsstraat

Koördinate: -26.4873451,28.3708676

Heidelberg was een van die oudste konsentrasiekampe en het dalk reeds in Oktober 1900 bestaan toe gesinne wat Boerekommando’s gehuisves het, in die dorp ingebring is.

Daar was dalk ’n groot aantal hawelose Boere vir wie die Britte voorsiening moes maak. Teen Februarie 1901 was daar reeds meer as 1200 inwoners, maar die kamp was nooit baie groot nie. Teen die einde Junie daardie jaar was daar net 571 inwoners en die getal het onder ’n duisend gebly vir die duur van die kamp en ’n aantal gesinne het later na die Natalse kampe verhuis. Eienaardig genoeg was daar net een superintendent vir die duur van die kamp. Lt. Arnold Allison was van die omgewing afkomstig; hy was 32 jaar oud en getroud met ’n Boervrou. Hy was voorheen verbonde aan die Corps of Guides.

Soos wat die Britse magte gevorder het, het ’n aantal gesinne uit die Vrystaat na Heidelberg gevlug en hulle ook in die kamp bevind. In Mei is hulle egter terug na Kroonstad geneem. Dit het egter langer geduur voordat ’n soortgelyke uitruiling van die Vrystaat af plaasgevind het; aangesien Transvaalse “vlugtelinge” nie aanvaar is totdat Engelssprekende “Uitlander”-vlugtelinge ook weer toegelaat is nie. Dit was ’n aanduiding van hoe sensitief die Britse owerhede was teenoor die angstighede van die verarmde Uitlanders aan die kus. Daar is ook ’n kamp vir swart inwoners vroeg in 1901 gestig, maar min inligting is daaroor bekend. In November 1901 was daar 49 huishulpe , nder wie 20 kinders, in die blanke kamp.

Die kamp het sy aanvanklike plek gou ontgroei en volgens berigte is ’n tweede kamp in Mei 1901 gestig. Die kampe is deur ’n diep sloot en ’n brug van populierbome en klip aan mekaar verbind. Later is ’n derde kamp ook gestig. Dr. Kendal Franks het dit as ’n goeie kamp beskou, met oorgenoeg water. Die kamp is nooit omhein nie, selfs al het dr. Franks en die dameskomitee dit aanbeveel. Dr. Franks was bekommerd oor die “kwak-medisyne” wat die inwoners saamgebring het toe hulle twee keer per week toegelaat is om dorp toe te gaan. Die dameskomitee wou keer dat diere die kamp binnekom. Die Boere se medisyne het nie die goedkeuring van die Britse dokters weggedra wat, weens hul opleiding, aan ’n meer moderne medies gewoond was nie. Beesmis wat met swael gemeng is, het byvoorbeeld diarree veroorsaak en watte is om babas se polse gedraai om stuiptrekkings te voorkom. Die dameskomitee het gekla dat nie al die Boere se medisyne ewe skadeloos was nie. Nog ’n eienaardigheid wat dr. Franks opgemerk het, was twee broers wat dwerge was; albei was getroud en het groot gesinne gehad. Daar was niks met hul kinders verkeerd nie.

Allison was ’n gemaklike en deernisvolle superintendent wat nie gepla is deur die Boere se gewoontes wat die Britse inspekteurs ontstel het nie. Hoewel die tente altyd skoon was, het die kampe slordig voorgekom. Daar was ’n aantal mense wat in sooihuise met dakke van gegalvaniseerde yster gewoon het terwyl ander in hul waens tuisgegaan met tente wat aan die kant opgeslaan is. Namate die kamp uitgebrei het, is die tente op die goedgekeurde manier in netjiese rye opgeslaan. Die fasiliteite was maar karig; daar was geen wasgeriewe vir die vroue nie en daar is weinig voorsiening vir die mans gemaak, soos die dameskomitee in November 1901 opgemerk het. Daarby het Allison die kinders nie gedwing om die hospitaal te besoek nie, want die inwoners het verkies om self hul kinders te verpleeg totdat dit noodsaaklik was om die kinders hospitaal toe te neem. Klein swart seuns is in diens geneem om die toilette skoon te hou, maar dit was ook nie ideaal nie. Die lae getal siektes het hierdie laissez faire-houding moontlik gemaak. In Julie 1901 was daar net elf sterfgevalle; nege daarvan weens masels.

Allison was meer besorg oor die kamp se rantsoene; namate die winterweiding in Julie verminder het, het die gehalte van die vleis agteruitgegaan. Kinders het melk gekry; die kleuters het elke tweede dag ’n blikkie melk gekry maar die gehalte daarvan was wisselvallig. Dié wat van Milkmaid afkomstig was, was van goeie gehalte, maar dié van Sledge was dikwels in ’n toestand van ontbinding. Die melkrantsoene is verhoog na ’n blikkie per dag pleks van vleis. Die dameskomitee was oortuig daarvan dat dit weens ’n misverstand van die opdragte van die hoofkantoor was, aangesien hulle gemeen het dat die kinders ook vleis moes ontvang. Indiërs is toegelaat om groente te smous, maar hoewel die dameskomitee gemeen het dat die pryse vir 6d per pampoen en 1d per raap hoog was, het hulle heel waarskynlik lewens gered. Hoewel lemmetjiesap beskikbaar was, was die aanvanklike pogings om tuin te maak, nie juis suksesvol nie. Dit het gelyk asof sommige van die inwoners van die Heidelberg-kamp redelik welgesteld was; teen November het Poynton se winkel £ 500 per maand verdien deur onder meer geblikte salm, sardientjies, botter, vet, goue stroop en gepreserveerde gemmer te verkoop. Die winkeleienaar sou ook konsertinas in voorraad wou hou, maar die Direkteur van Burgerlike Voorrade het dit verbied. Teen Julie het behoeftige gesinne materiaal en naaldwerkbenodigdhede ontvang om hul eie klere te maak. Dit was uiters noodsaaklik aangesien sommige gesinne in vodde klere by die kamp opgedaag het. Die mans in die kamp het beddens vervaardig; ’n groot voordeel in koue weer. In Julie 1901 is mnr. A. Strydom, een van die kampbewoners, as predikant aangestel om begrafnisdienste te lei.

Dit het ongelukkig noodsaaklik geword omdat Heidelberg nie die maselsepidemie wat die land getref het, vrygespring het nie. Dr. Franks het ook ander probleme opgemerk. Hy het gekla dat die kamp ’n ellendige affêre was en ’n beroep gedoen dat die ossewaens verwyder moes word. Hy het die gebrek aan ’n kampmatrone gekritiseer, asook die gebrek aan enige vorm van inspeksie. Dit het duidelik geblyk uit die toestand van die tente hoewel hy erken het dat dit skoon was.

Toe masels in Julie 1901 toegeslaan het, was die epidemie ernstig, maar die sterftesyfer was nie so hoog soos in ander kampe nie. Die mediese offisier het berig dat daar slegs 38 sterftes onder die 728 gevalle was. Dr. Ralston het die epidemie egter nie juis as ernstig beskou nie en hy het die sterftes aan die onkunde en gebrek aan aandag van die ouers toegeskryf.

Soos gewoonlik het die dokters die manier waarop ouers hul kinders verpleeg het, gekritiseer en gemeen dat ouers hul kinders verwaarloos het. Dr. Ralston het aan dr. Franks gesê dat daar ’n sekere fatalisme, naamlik “dat dit God se wil is”, as verskoning voorgehou is om by ’n siek kind te sit en nie ’n vinger te verroer om kos of medikasie soos deur die dokter voorgeskryf, te voorsien nie. Dit was ’n algemene punt van kritiek en was dalk te wyte aan die apatie wat ’n uitvloeisel van wanvoeding en depressie was. Ds. Lückhoff het egter, soos in die geval van die Bethulie-kamp, geglo dat fatalisme ’n rol gespeel het. Die dokters was dalk ook geskok deur die toestand van die kinders, aangesien ’n aantal gevalle van die aaklige cancrum oris voorgekom het. Dit het selfs voorgekom by ’n kind wat van kommando af aangekom het. Die mediese offisier het ook berig dat middeloorontsteking ’n algemene verskynsel was.

Die algemene indruk was dat Heidelberg ’n goeie kamp was, soos die feit dat die aantal sterfgevalle minder as die Transvaalse gemiddeld was, bevestig. Siektes het egter nog lank voorgekom en dit het gelyk asof daar in November 1901 ’n oplewing van kindersiektes was. Dit was dalk nie tifuskoors nie, aangesien volwassenes nie geraak is nie.

Die maselsepidemie was ’n rukkie lank ernstig, die tweede piek van die epidemie het saamgeval met die piek van die epidemie dwarsdeur Transvaal. Die derde piek van kindersterftes was nie van soveel statistiese belang nie aangesien dit ’n klein hoeveelheid sterftes in ’n klein bevolking verteenwoordig het.

Die tipe orde wat die Britse magte wou gehad het, is geleidelik ingestel; ’n kampmatrone is aangestel en daar is daaglikse inspeksies op die tente uitgevoer. Daarby is ’n skoenmaker aangestel om stewels vir die armlastiges te maak. Omtrent dertig of veertig polisiemanne was aan diens om orde te handhaaf en te verseker dat niemand die kamp sonder toestemming sou binnekom nie. Toilette met dakke en betonvloere is opgerig en ’n hospitaal is gebou in die plek van die markiestente wat steeds deur die swart arbeiders gebruik is. Teen Mei 1902 is die geriewe uitgebrei met twee tennisbane, twee sokkervelde en ’n kroukiebaan.

Die groot probleem teen die einde van die jaar was aanhoudende diarree, wat dalk veroorsaak is deur besoedelde water wat nie gekook is nie. Die mediese offisier het ook gekla dat die ouers onverskillig was deurdat hulle nie hul kinders droog aangetrek het nadat hulle in die reën gespeel het nie, met die gevolg dat die kinders longontsteking opgedoen het. Toe die nuwe mediese offisier, dr. H Crook, van Johannesburg af aangekom het, het hy enteriese koors as ’n konstante probleem geïdentifiseer. Hy kon nie vasstel hoekom nie; die kamp was skoon en die water was suiwer. Hy het die water egter weggestuur vir ontleding. Binne ’n maand het die siekte egter begin uitsterf. Hy het meer aktiewe maatreëls begin oorweeg om siektes te voorkom; 60% van die kinders onder die ouderdom van twaalf is nooit tevore ingeënt nie en volgens hom moes die saak dringend reggestel word. Dit het egter voorgekom asof die inentings nooit plaasgevind het nie. Die gebruiklike, minder ernstige, kindersiektes het in 1902 hul verskyning gemaak; onder meer waterpokkies en masels, terwyl witseerkeel ook sporadies voorgekom het.

Dr. Franks het die opvoeding van kinders in die kamp gekritiseer, hoofsaaklik omdat ’n Kaapse Afrikaner, mnr. Lingher, die skool behartig het. Die skoolkampe onder Britse beheer was baie meer bevredigend, het hy gemeen en die beste hiervan is deur ’n Skot behartig. Vir hom was dit raadsaam dat alle hoofde en minstens die helfte van die personeel, van Britse herkoms moes wees, met inagneming van die belangrikheid van opvoeding in die toekoms van Suid-Afrika. Ondanks Franks se aanval op die integriteit van plaaslike onderwys het dit gelyk asof Lingher hard gewerk het; hy het ’n aandskool vir volwassenes begin en hoewel dit nie juis groot was nie, het dit voorgekom asof die mans wat dit bygewoon het, bereid was om te leer.

Die aankondiging van vrede het tot groot vreugde gelei. Daar is ’n piekniek in die kloof vir die kinders gehou, met oorgenoeg koek en mineraalwater vir almal terwyl ’n ete vir die ouer mense en die personeel van die kamp gehou is. Saans is hulle met ’n grammofoon vermaak en Allison het trots berig dat die koning teen die einde toegejuig is. Daar is ’n paar dae later ’n sportdag gehou; daar was ’n dans vir die volwassenes terwyl ’n ete vir die personeel van die kamp gegee is.

Die repatriasie van inwoners het in Julie 1902 begin, en 239 gesinne het die kamp in daardie tyd verlaat. Die inwoners wou by die huis kom voordat die saaiseisoen sou begin. Die aantal gesinne wat die kamp verlaat het, het in die volgende paar maande afgeneem, Allison het gemeen dit was veral weens ’n gebrek aan saad en voorraad. Daar was genoeg voorraad, maar die inwoners het nie die middele gehad om dit te koop nie. Teen November was hy al hoe meer op sy senuwees vir hulle onthalwe omdat die saaiseisoen besig was om vinnig verby te gaan. Ander inwoners het nie grond besit nie, en het die kamp slegs verlaat nadat die grondvestigingsraad hulle van grond voorsien het. Aangesien November die laaste maand was waaroor daar verslag gedoen is, is die kamp waarskynlik in daardie maand gesluit.

Daantjie Badenhorst