HEILBRON-KONSENTRASIEKAMP
Ligging: Munisipale begraafplaas, Hallstraat
Koördinate:
Die Heilbron-distrik het die ongemaklikheid van die Britse teenwoordigheid gevoel kort nadat die dorp op 7 Junie 1900 ingeneem is. Soos in Winburg, is leë huise deur die soldate geplunder en voedsel is ingeperk vir gesinne wie mans op kommando gehad het. Namate die Boere-aktiwiteit toegeneem het, moes die distrikte ontruim word. Frankfort is deur die Britte afgebrand en hierdie mense moes ook ’n heenkome vind. Die mense is in leë wonings in Heilbron gehuisves en was soms ongemaklik oorvol. Eers nadat die dorp oorvol geword het, is tente opgerig. Hierdie kamp het bestaan van Februarie 1901 tot Januarie 1903 met ongeveer 1106 sterftes.