HENNIE AUCAMP (1934-2014)

Hennie Aucamp was ’n bekroonde digter en skrywer wat hoofsaaklik kortverhale geskryf het.

Hy is op 20 Januarie 1934 op die Oos-Kaapse dorp Dordrecht gebore en het op die plaas Rust-mijn-ziel op die Stormberg-hoogland in die distrik Jamestown grootgeword. Van sub A af het hy op die dorp skoolgegaan en in die koshuis gewoon. Sy laerskoolonderwyseres het hom aangemoedig om versies te skryf en sy het dit vir die tydskrif Die jongspan ingestuur toe hy nog net elf jaar oud was. Hy het in 1951 aan die Hoërskool Jamestown, waar Jan Rabie ’n tyd lank ’n onderwyser was, gematrikuleer. Vanaf 1952 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, waar hy die BA-graad in 1955, die BA-honneiursgraad in 1956, die Hoër Onderwysdiploma in 1957 en die MA-graad (met lof) in 1958 behaal het. Vir laasgenoemde graad het hy die poësie van Ernst van Heerden bestudeer. In 1959 en 1960 het hy tien maande lank deur Europa getoer en kennis gemaak met die goue era van teater; veral in Londen, waar hy klassieke werke te siene gekry het. Daarna was hy tydelik lektor in opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en later ook Kaapstad, waarna hy by die Lüchoff-skool vir Kleurlinge in sy tuisdorp Jamestown, asook op Cradock en in Rondebosch skoolgehou het. Van Oktober 1963 tot Junie 1964 het hy aan die Universiteit van Leuven in België in die letterkunde gestudeer.

Sedert die middel van 1964 was hy dosent en sedert 1983 departementshoof in opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het jare lank in die Molenvliet-woonstelkompleks gewoon en die digter Lina Spies was een van sy bure. In 1974 het hy die DEd-graad met lof aan dié universiteit verwerf met sy proefskrif getiteld “’n Ondersoek na die doeltreffendheid van die eksterne eksaminering van voorgeskrewe letterkunde vir Afrikaans Hoër in die Kaaplandse Senior Sertifikaat.” Vir die Taalfees-program wat in 1975 in Paarl aangebied is, het hy ’n program getiteld Om Boer te wees, saamgestel. Hierdie program het ’n beeld gebied van ’n boer soos vervat in die Afrikaner se letterkunde en preliterêre erfgoed. In 1978 het hy ’n beurs ontvang om oorsee te gaan studeer; hy gaan studeer in New York aan die Teachers College en aan Columbia University waar hy spesialiteitskursusse in The writing of drama, Professional and Ecudational Writing en Popular Fiction gevolg het. Aan die begin van 1982 het hy ’n kabarettoer na Nederland en Duitsland onderneem. In 1986 is hy as medeprofessor en hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel en in 1993 het hy as hoogleraar afgetree.

Hierna het hy na Tamboerskloof in Kaapstad verhuis en hom voltyds aan sy skryfwerk gewy. In hierdie tyd het hy ’n knievervanging ondergaan, en dit het sy mobiliteit bemoeilik. Hy was tot 2006 besonder aktief as resensent van nuwe boeke vir verskeie koerante en tydskrifte. In April 2011 het hy ’n beroerteaanval gehad, en hoewel hy herstel het, kon hy nie meer bestuur nie, met die gevolg dat hy gedwing is om sy motor te verkoop. Toe ’n motoris oor sy regtervoet gery het, is sy mobiliteit nog verder bemoeilik en hy moes noodgedwonge sy woonstel in Tamboerskloof ontruim omdat hy nie meer trappe kon klim nie. Daar was ook gebrekkige koördinasie in sy regterhand en sy geheue is tot só ‘n mate aangetas dat dit vir hom al hoe moeiliker geword het om te skryf.

Hy het sy hele lewe lank nooit van ’n tikmasjien of rekenaar gebruik gemaak nie en alles met die hand geskryf. Hy het daarom altyd op tiksters staatgemaak om sy skryfwerk persklaar te kry. Hy was dwarsdeur sy lewe ook ’n ywerige korrespondent wat briewe van baie van die leidende persoonlikhede in Suid-Afrika en die buiteland ontvang het, en ook gereeld aan hulle geskryf het.

As letterkundige, opvoedkundige en veelsydige skrywer het hy oor ’n breë spektrum gepubliseer, onder meer kortverhale, essays, toneel- en kabaretstukke, lirieke, aforismes, dagboeke, gedigte en resensies. Reeds in standerd twee (vandag se graad vier) is sy gedigte in die tydskrif Die jongspan gepubliseer en sy eerste verhaal is in sy matriekjaar in Die Huisgenoot geplaas. Van sy veertiende jaar af het hy gereeld dagboek gehou, en uittreksels daaruit is uitgegee in bundels soos Gekaapte tyd, Allersiele en Skuinslig. In Bly te kenne het hy persoonlike huldeblyke geskryf aan mense wat ’n invloed op sy lewe gehad het, onder meer WA de Klerk, Audrey Blignault, M.E.R, dr. Con de Villiers, Anna Neethling-Pohl, Stephan Bouwer en Uys Krige.

Mits dese wil ek vir jou sê, met die titel uit Boerneef se gedig “Die berggans het ’n veer laat val”, was ’n keur uit sy briewe aan verskeie van die leidende figure in die Suid-Afrikaanse kultuurlewe. Dit het ’n inleidende oorsig oor sy lewe en werk bevat, tesame met ’n omvattende persoonsregister. Omtrent al die bekende figure in die Afrikaanse letterkunde, teater en beeldende kunste van daardie tyd het hierin voorgekom, en waar briewe nie aan hulle gerig is nie, is daar met waardering na hulle verwys.

Hennie Aucamp is op 20 Maart 2014 in die ouderdom van tagtig jaar in sy woonstel in Kloofstraat in Kaapstad oorlede.

deur Daantjie Badenhorst