HENNIE MAAS (1942-2024)
Hennie Maas, wat jare lank die program Sterre en planete op RSG aangebied het, is op 3 April 2024 in die ouderdom van 82 jaar aan kanker oorlede.
Hy is in 1942 in Pretoria gebore en nadat hy aan die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) gematrikuleer het, het hy aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy het in 1964 as ’n klerk in die staatsdiens gewerk en vertroud geraak met gesofistikeerde opnametoerusting deur onder andere meer troues af te neem. Hy het in 1965 by die SAUK aangesluit as aanbiedingsassistent en twee jaar later is hy na Pretoria verplaas. Hy het verskeie bekendes soos Danie Smuts, Gerhard Viviers, Jan Spies en Pieter de Bruyn leer ken. In 1968 het hy hom by die streeknuuskantoor aangesluit.
In Desember 1969 het hy na Nederland vertrek en drie jaar lank by Radio Nederland Wêreldomroep in Hilversum as omroeper gewerk. Radio Nederland het onder meer Afrikaanse programme op sy kortgolfsender uitgesaai. Op daardie stadium was hy in ’n verhouding met Ingrid Raubenheimer, wat hy ontmoet het toe prof. Anna Neethling-Pohl dramaklasse by die SAUK aangebied het. Kort na sy aankoms het hulle per pos verloof geraak en hy het in Desember 1970 na Suid-Afrika teruggevlieg vir hul huweliksbevestiging wat op 12 Desember 1970 in die Ooskerk in Pretoria plaasgevind het. Daarna het hulle teruggekeer na Nederland, waar hulle in Bussum naby Hilversum gewoon het. Hy het sy werk by Wêreldomroep as interessant maar uitdagend beskryf en gou agtergekom dat radio-omroepers nie dieselfde status in Nederland as in Suid-Afrika geniet het nie. Hulle het soveel as moontlik deur Europa gereis en hoofsaaklik gekampeer. Een van die onderhoude wat hy as ’n hoogtepunt beskou het, was dié met die Duitse orkesleier James Last.
Toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het, is hy as nuusbulletinskrywer by die SAUK in Johannesburg aangestel en in 1973 is hy as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK aangestel nadat hy ‘n omroeperstoets geslaag het. Hy het by die span omroepers onder leiding van Morkel van Tonder aangesluit en onder meer saam met Nic Swanepoel, Sarel Myburgh, Johannes van der Walt, Gerhard Viviers en Daniël Kirstein gewerk. In hierdie tyd is die aktualiteitsprogram Monitor, wat weeksoggende uitgesaai is, gebore. Aanvanklik was dit onder die vaandel van die programdiens eerder as die nuusdiens en hy het heelwat insette gelewer. Hy het in 1978 ’n pos as skakelbeampte by Sentrachem aanvaar, maar die SAUK het hom in 1983 gevra om terug te keer. Aangesien hy in daardie tyd heimlik terug na die radio verlang het, het hy die geleentheid aangegryp. Die Pretoria-kantoor van die SAUK het van Minnaarstraat na Weavind park verskuif .
In dieselfde jaar het hy die organiseerder van Afrikaanse en Engelse programme in Pretoria geword, en later was hy die bestuurder van aktualiteit en sport by RSG. In 1995 het hy na Pretoria teruggekeer as bestuurder en toe die kantoor in Weavind Park gesluit het, het hy spesialisomroeper by RSG geword.
Hy het in 2005 afgetree, maar Sterre en planete steeds op ’n vryskutbasis aangebied totdat sy gesondheid hom verhinder het om dit verder te doen. Die program staan nou onder leiding van Willie Koorts. Hy was medeskrywer van die boek Sterre en planete wat in 2017 by Naledi-uitgewers verskyn het.
Vandat hy kon onthou, het hy ’n liefde vir musiek gehad, en sy eerste kennismaking was toe hy klavierlesse by Hettie Smit geneem het. Dit het nie lank geduur nie, maar toe hy die trompet en die tenoortuba in Affies se blaasorkes gespeel het, het dit vir hom al hoe belangriker geword. Tydens sy jare as omroeper het hy talle musiekreekse en hoorbeelde aangebied.
Sterre en planete is rondom die eeuwending gebore omdat hy altyd ’n gematigde belangstelling in die hemelruim gehad het. Net voor die nuusbulletin om 21:00 op ’n Donderdagaand is daar ’n kwartier beskikbaar waarin daar hoofsaaklik musiek gespeel is. Hy het besluit om vyf minute daarvan te gebruik deur mense te vertel watter hemelliggame daardie betrokke aand te sien was. Hy het die hulp van Louis Barendse, ’n amateur-sterrekundige, ingeroep en die res is geskiedenis. Die Facebook-groep van hierdie program bestaan reeds uit meer as 20 000 lede.
Afgesien van Sterre en planete het hy na sy aftrede ook by RSG Landbou betrokke geraak en opnames van kore en simfonieorkeste gemaak. Die ervaring wat hy met hoorbeelde opgedoen het, het daartoe gelei dat hy video’s begin maak het. Hy het ’n tuisateljee ingerig waarin hy sy radioprogramme opgeneem het en later het dit ’n videoateljee geword. Daarby het hy ’n videokanaal op YouTube gestig, waarop hy en ’n goeie vriend van hom, Claude Möller, oor verskeie onderwerpe gesels het. Hierop verskyn onder meer ’n video-onderhoud met die Nederlandse sanger Herman van Veen.
Hy word oorleef deur sy vrou Ingrid en sy seun Chris.
deur Daantjie Badenhorst