JACQUES LOOTS (1925-1991)
Wie onthou nog die beswaarde Genis van PG du Plessis se gewilde televisiereeks Koöperasiestories?
Jacques Loots het onsterflike roem verwerf met sy vertolking van daardie rol, maar hy het voor die tyd en sedertdien ’n paar ander groot rolle in rolprente en op televisie vertolk. Hy is op 24 Oktober 1925 gebore en het op Koster in Noordwes grootgeword. Hy het sy BEd (Honneurs) aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege verwerf. Hy het later as joernalis by Die Transvaler gewerk, met die latere Eerste Minister, dr. HF Verwoerd as redakteur. In Kenia was hy as onderwyser ’n tyd lank betrokke by ’n Afrikaanse skool wat die leerplan van die Transvaalse Onderwysdepartement gevolg het. Hy was van 1967 tot 1969 ’n lektor by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK het hy die regie vir verskeie radiodramas behartig.
Toe hy sewe jaar oud was, het ’n toneelgeselskap op Koster gesoek na ’n seuntjie wat in ’n toneelstuk moes optree. Jacques het die rol gekry en die toneelgogga het hom dadelik gebyt. Hy was daarna die heeltyd as akteur in verhoogproduksies betrokke, hetsy deeltyds of voltyds. Op die verhoog was hy te sien in Putsonderwater van Bartho Smit, Germanicus van NP van Wyk Louw, Ampie van Jochem van Bruggen, Send for Dolly, ’n Engelse vertaling van ’n Seder val in Waterkloof van PG du Plessis, asook Charly se tante.
Sedert die 1960’s was hy in verskeie rolprente te sien, onder meer Die kandidaat en Jannie tot siens waarvan Jans Rautenbach die regisseur was, asook Lied in my hart, met Gé Korsten in die hoofrol, Dirkie, Elsa se geheim en Kooitjie Emmer. Dit is egter sy rol as Genis in Koöperasiestories en as die oupa in Willie Esterhuizen se komediereeks Orkney snork nie wat hy volksbesit geword het. Die sukses van Koöperasiestories het tot ’n vollengte-rolprent, naamlik Liewe hemel Genis gelei, en hy was ook in die eerste Orkney snork nie-rolprent te sien. In sy latere jare was hy eienaar en bestuurder van Die boekwinkel, ’n koffie-en-boekwinkel op die Vrystaatse dorp Bethulie.
Hy het ook in die 1940’s begin om erotiese gedigte onder die skuilnaam Ella Meyer te skryf, en toe hy die oorspronklike manuskrip, getiteld Eenhoring, aan ’n uitgewer voorgelê het vir publikasie, het ’n keurder dit as “loutere pornografie” beskryf. Dit is eers omtrent twintig jaar later gepubliseer, maar geredigeer om by die norme van die tyd aan te pas. Hierdie bundel het nie veel aandag getrek nie. Hy het egter meer sukses met vertaalwerk behaal, onder meer met Vernon Sylaine se komedie As long as they are happy, wat hy onder die naam Doller as kop-af vertaal het. Terwyl hy ’n lektor was, het hy die bundel Radiodramas, wat onder meer dramas van verskeie skrywers asook sy eie stuk getiteld “Wat behels mikrofoontoetse?”, bevat het. Nog ’n bundel wat hy saamgestel het, was Ses kortverhale vir die radio.
Hy is op 3 Oktober 1991 , drie weke voordat hy sy 66ste verjaardag sou vier, oorlede. Hoewel hy lank siek was weens emfiseem het ’n embolus in die long sy dood veroorsaak.
deur Daantjie Badenhorst