JAN BREYTENBACH (1932-2024)
Kolonel Jan Breytenbach was die stigter en eerste bevelvoerder van 1 Verkenningsregiment (ook bekend as die Recces), 32 Bataljon en 44 Valskermbrigade.
Hy is op 14 Julie 1932 gebore en sy militêre loopbaan het in 1950 begin toe hy hom by die Leërgimnasium aangesluit het. Drie jaar later het hy die Eresabel ontvang. Daarna was hy deel van die Royal Navy Fleet Air Arm, en nadat hy hom by die Pantserkorps aangesluit het, het hy in 1956 operasionele ervaring tydens die Suezkrisis opgedoen. Terwyl hy oorsee was, het hy sy vrou Rosalind ontmoet.
In 1961 het hy hom weer by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit en kort daarna een van die eerste kursusse by 1 Valskermbataljon voltooi. In 1971 het hy 1 Verkenningsregiment gestig. Dié eenheid het later van Oudtshoorn na Durban verskuif. In 1975 was hy die leier van Operasie Savannah, die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se koverte ingryping in die Angolese Burgeroorlog. Die oorblyfsels hiervan het die berugte 32 Bataljon geword. Hy het in 1977 die Stafkollege-kursus bygewoon waarna hy tot die rang van kolonel bevorder is. Op 4 Mei 1978 het hy die SAW-valskermaanval op Cassinga in Angola gelei.
Hy het ’n senior stafoffisier by die Noord-Transvaalse Bevelstruktuur geword en van 24 September 1980 tot 31 Desember 1982 was hy bevelvoerder van 44 Valskermbrigade. Hy het daarna die SAW Guerrillaskool gestig en was bevelvoerder daarvan tot met sy aftrede in 1987. Daarna het hy ’n aantal boeke oor die Weermag en natuurbewaring geskryf.
Hy was die broer van die digter en skrywer Breyten Breytenbach; maar hoewel hulle broers was, het hul politieke oortuigings hemelsbreed verskil. Sy ander broer was die oorlogskorrespondent en fotograaf Cloete Breytenbach wat in 2019 oorlede is en Beeld se fotoredakteur aan die beginjare van dié Afrikaanse koerant was.
Kol. Breytenbach is op 16 Junie 2024 in die ouderdom van 91 jaar oorlede. Hy word oorleef deur sy vrou, ’n seun, ’n dogter en twee kleinkinders.
Daantjie Badenhorst