JAN ENGELEN (1946-2018)

Jan Engelen was ’n bekende akteur, draaiboekskrywer en regisseur.

Hy is op 7 Junie 1946 in die Belgiese stad Antwerp gebore; sy pa was die akteur en regisseur Fred Engelen en sy ma die aktrise Tine Balder. Hoewel hy in België gebore is, het hy op Stellenbosch grootgeword en ook daar studeer.

In 1972 het hy en Marko van der Colff saam by die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) begin werk en in ’n aantal produksies saamgewerk. Die eerste daarvan was The Fantastics, waarin hy die liedjie “Try to remember” gesing het. Hy het later ook saam met akteurs soos Eckard Rabe, Tobie Cronjé, Nigel Vermaas, Frantz Dobrowsky en Will Bernard gewerk. Hulle het die Transvaalse platteland deurkruis, en selfs in die destydse operasionele gebied opgetree.

Max Frisch se toneelstuk “Andorra” het gevolg; hierin het Jan, Marko en Zack du Plessis die rolle van drie rowwe manne vertolk. In hierdie stuk was daar ’n gevegstoneel en Jan se kennis van die skermkuns het hier handig te pas gekom. Daarna het “Babbelkous en bruidegom” gevolg en Jan se ma het die teks uit Frans vertaal. Anna Neethling-Pohl het dit “verafrikaans” en haar suster, Truida Louw, was die regisseur van die verhoogstuk. Weer eens was Jan deel van die rolverdeling; op die ou einde is dit meer as ’n honderd keer opgevoer. Die eerste opvoerings was in die Breytenbach-teater, toe in die Alexander-teater in Johannesburg, die hele Transvaalse platteland en die Playhouse in Durban, waarna dit weer in die Breytenbach-teater opgevoer is.

Jan was egter ook ’n televisie- en rolprentakteur. In 1980 was hy die draaiboekskrywer en regisseur van die televisiereeks Trompie en die Boksombende wat oorspronklik deur Topsy Smith geskep is. In die rolprent Liewe hemel Genis, gebaseer op PG du Plessis se bekende Koöperasiestories, het hy die rol van Pole gespeel en in Moeggeploeg, wat in 2013 uitgesaai is, het hy die rol van Zoutevis vertolk en in ’n Paw paw vir my darling was hy Saltie Sprinkelgras. Hy was ook die regisseur van die televisiereeks Roep van die visarend, wat in 1982 uitgesaai is.

Hy was getroud met die aktrise Mariette Ferreira, wat onder meer in rolprente soos Die sersant en die Tiger Moth, Ter wille van Christine en Wat maak oom Kallie daar? te sien was, asook televisiereekse soos Sebastiaan Senior en Die binnekring. Na hulle egskeiding was hy getroud met nog ’n aktrise, Amor Tredoux, wat in onder meer Hoekie vir eensames, Die Mannheim-sage en die rolprent Die wonderwerker te sien was.

Jan is op 9 Mei 2018 in die ouderdom van 71 jaar aan kanker oorlede.

deur Daantjie Badenhorst