JIMMY ABBOTT (1959-2021)
Die voormalige swaargewigbokser Jimmy Abbot is op 21 Maart 2021 aan hartversaking oorlede.
Hy is op 11 Mei 1959 gebore en het sukses as amateurbokser behaal. Hy het die amateurtitel in 1976 en 1977 gewen, en het die Suid-Afrikaanse amateurboksvereniging se merietekleure asook ’n Springbokbaadjie ontvang.
Hy het sy debuut as beroepsbokser op 2 Junie 1978 gemaak en sewe gevegte in sy eerste jaar gewen. Hy het dit die volgende jaar met nóg sewe oorwinnings opgevolg. Die hoogtepunt van sy beroepsloopbaan het op 3 Augustus 1980 op die Ellispark-tennisstadion in Johannesburg plaasgevind. Sy teenstander was Kallie Knoetze, wat toe reeds ’n ervare swaargewig was. Abbott het Knoetze in die eerste ronde van hierdie geveg deur die kryt se toue geslaan en die grootste oorwinning van sy loopbaan behaal. Sy laaste beroepsgeveg was op 14 Maart 1983, en op daardie stadium het hy reeds 139 kg geweeg. Hy het in 26 beroepsgevegte negentien oorwinnings behaal, sestien daarvan met uitklophoue. Hy het vyf gevegte verloor en twee het gelykop geëindig. Hy is self nooit in ’n geveg uitgeslaan nie.
Abbott het daarna tot die rofstoeikryt toegetree maar weinig sukses behaal. Buite die bokskryt was hy veral bekend vir ’n toneel in sy goeie vriend Leon Schuster se rolprent Oh shucks it’s Schuster. Schuster het hom soos ’n Indiër vermom en ’n byeenkoms van die Afrikaner Weerstandsbeweging in Boksburg gaan ontwrig. Abbott was nie beïndruk nie en het Schuster aangerand sonder om te weet wie hy eintlik was.
Abbott het, nadat hy as bokser uitgetree het, met sy gewig gesukkel, en op ’n stadium 400 kg geweeg. Hy was ’n getroue ondersteuner van die Transvaalse rugbyspan, wat vandag as die Leeus bekendstaan, en het nooit ’n wedstryd op Ellispark misgeloop nie. Hy het twee sitplekke op dié stadion volgesit.
Hy is in Desember 1995 as pastoor ingehuldig en het sy eie bediening, Jimmy Abbott Ministries, op die been gebring. Hy het drie hartaanvalle en ’n beroerte oorleef en na sy beroerte moes hy van voor af leer praat.
Vroeër vanjaar het Abbott aan kykNET se werklikheidsprogram Slank deelgeneem en ’n episode van nog ’n kykNET-program, Kwêla, waartydens die aanbieder, Hannes van Wyk, aan huis by hom gekuier het, is die week voor sy dood uitgesaai.
Op 21 Maart is paramedici na sy huis in Heidelberg, Gauteng, ontbied om bystand aan hom te verleen nadat hy gesukkel het om asem te haal. Hy is daardie aand om 20:40 aan hartversaking oorlede.
deur Daantjie Badenhorst