JOHAN VAN DER MERWE (1936-2022)
Generaal Johan van der Merwe was die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie van 1990 tot 1995.
Johan Velde van der Merwe is op 25 Augustus 1936 in Ermelo gebore en het aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Hy het hom in 1953 by die Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit en sy BIuris-graad verwerf.
Hy het sy basiese opleiding geniet en in 1961 is hy na Standerton uitgeplaas waar hy verantwoordelik was vir die administrasie van die nuwe hoofkwartier. Hy het van 1963 tot 1966 in ’n administratiewe rol by die Veiligheidshoofkwartier gewerk. Van 1966 tot 1970 was hy in bevel van ’n grenspos op die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho. In 1970 is hy uitgeplaas na die Veiligheidstak in Bloemfontein en op die ou einde was hy in bevel van die hele Vrystaat. Hy het blykbaar probeer om die onluste in die Vrystaat wat op dié wat in 1976 in Soweto gevolg het, te keer omdat hy ’n noue verhouding met die ouers van die leerlinge gehad het. Van 1979 af was hy in die destydse Suidwes-Afrika; hy het vertel dat hy “byna onbeperkte mag” gehad het omdat hy die administrateur-generaal se volle samewerking geniet het. Hy het verder vertel dat hy sy tyd in Namibië “vir niks ter wêreld wou verruil nie.”
In 1983 is hy na Pretoria uitgeplaas; hy het van die tweede-in-bevel van die Veiligheidstak tot by die Hoof van Veiligheid gevorder, totdat hy eers adjunk-kommissaris geword het en in 1990 as kommissaris aangestel is. In 1985 het hy ’n verslag aan die destydse Minister van Polisie, mnr. Louis le Grange, gestuur om verdere magte te versoek maar mnr. Le Grange het hom tereggewys en sy versoek geweier. Volgens genl. Van der Merwe is die regering se reaksie op die opkoms van die UDF (United Democratic Front) gekniehalter deur verskeie faktore, naamlik dat gearresteerdes die reg gehad het om hul getuienis voor die hof te kry, informante kon maklik geïdentifiseer word en kinders wat aan die onrus deelgeneem het, kon nie sommer aangehou word nie. Hy het destyds gesê dat die doel van die Veiligheidstak was om Suid-Afrika se mense te beskerm en wet en orde te handhaaf.
Ondanks die regeringsverandering van 1994 het genl. Van der Merwe kommissaris gebly, maar in 1995 het minister Sidney Mufamadi druk op hom uitgeoefen om as kommissaris te bedank. Hy is daarvan beskuldig dat hy die ondersoeke na ander offisiere en die bedrywighede van die destydse “Derde Mag” belemmer het. Hy en ander Veiligheidspolisielede het suksesvol by die Waarheids- en-Versoeningskommissie aansoek gedoen om amnestie weens verskeie wandade. In 2007 is hy en oudminister Adriaan Vlok skuldig bevind aan die poging om eerwaarde Frank Chikane om die lewe te bring en hy is opgeskorte gevangenisstraf opgelê. In 2016 het hy geëis dat oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma, asook oudminister Mac Maharaj, van moord aangekla word.
Hy is op 27 Augustus 2022 in die ouderdom van 86 jaar oorlede, een dag nadat hy en sy vrou hul 61ste huweliksherdenking gevier het. Hy het kort tevore eers ’n beroerte en daarna ’n hartaanval gehad en is oorlede terwyl hy besig was met rehabilitasie. Hy word oorleef deur sy vrou, drie seuns, ’n dogter, nege kleinkinders en ses agterkleinkinders.
deur Daantjie Badenhorst