JULIE STRIJDOM (1944-2024)

Die bekende Afrikaanse aktrise Julie Strijdom is op 16 Maart 2024 oorlede, vier maande voordat sy haar tagtigste verjaardag sou vier.

Haar eerste verskyning op Suid-Afrikaanse televisie was in Net ’n bietjie liefde, wat uitgesaai is net nadat televisie na Suid-Afrika gekom het. Onder die akteurs wat saam met haar in die rolverdeling was, was Dana Niehaus, Esmé Euvrard, Dulcie van den Bergh, Bettie Kemp en Friedrich Stark.

In 1978 het sy haar eerste verskyning in ’n rolprent gemaak toe sy saam met Danie Joubert, Rina Nienaber, Elma Potgieter, Leonie Ross, Klaas de Boer en Pierre de Wet in Nicolene te sien was. Daarna was sy gereeld op televisie en in rolprente te sien, onder meer in die televisiereekse Die siel van die mier, 1922, Kampus, Skoolplaas-stories en Dreunkrans.

In 1994 het sy die rol van Martha Botes in die komedierolprent Lipstiek disptiek vertolk, en in 2009 was sy in die rol van Tannie Poggenpoel in Hond se dinges te sien. Twee rolprente waarin sy gespeel het, is in 2014 uitgereik, naamlik Knysna en Vrou soek boer, waarin sy onderskeidelik die rolle van Lady Di Roos en Tannie Olga vertolk het. Haar laaste verskyning in ’n rolprent was in die kykNET-storiefilm Bus 7070, wat in 2021 vrygestel is.

Sy het vir die laaste keer haar verskyning op televisie gemaak toe sy die rol van tannie Breggie in die kykNET-sepie Binnelanders vertolk het. Sy was ook vroeër jare ’n regisseur by die SAUK.

Sy is drie weke voor haar dood met nierversaking in die hospitaal opgeneem.

Daantjie Badenhorst