KLAAS STEYTLER (1922-1998)

Klaas Steytler was ’n Afrikaanse skrywer wat met getroud was met die skryfster Elsa Joubert.

Nicolaas Georg Steytler is op 20 April 1922 op Ladybrand in die Oos-Vrystaat gebore. Sy pa, Frederick Albert Steytler was ’n skoolinspekteur. Hy is vernoem na sy oom, minister Klasie Havenga, wat minister van finansies in die Hertzog-kabinet was. In 1939 het hy aan die Hoërskool Harrismith gematrikuleer, waarna hy sy BCom-graad in die regte aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf het. Hy het egter besluit om nie sy LLB-graad te voltooi nie. Hy het eerder twee jaar lank in Johannesburg gewerk om geld te spaar om terug te keer universiteit toe. In 1945 het hy aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer, waar hy sy BA-graad verwerf het. Hier het hy die skryfster Elsa Joubert, met wie hy later getroud is, ontmoet. In 1946 het hy ’n joernalis by Die Vaderland in Johannesburg geword, en daarna het hy twee jaar lank in die Kanadese stad Montreal in die personeel van die Internasionale Lugvervoergenootskap gewerk. In 1950 is hy en Elsa getroud; die jaar nadat hy in Europa by haar aangesluit het en etlike maande saam met haar met rugsakke deur Europa getoer het. Drie kinders is uit die huwelik gebore, naamlik ’n seun, Nico, en twee dogters, Elsabé en Henriëtte. Nadat hulle in 1956 na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy hom as joernalis in Johannesburg gevestig, eers by Die Vaderland en toe by Die Transvaler, vir wie hy die gewilde daaglikse rubriek “Panorama” geskryf het.

In 1963 is hy as Transvaalse redakteur van Die Huisgenoot aangestel, en in twee jaar later het hy die hoofredakteur van dié tydskrif geword. Dit het beteken dat hulle na Kaapstad verhuis het en hulle in Oranjezicht gevestig het. In 1971 het hy ’n betrekking as uitgewer en redakteur van nie-fiksie by Tafelberg-uitgewers aanvaar en van 1973 af het hy op ’n vryskutbasis gewerk. Sy belangstellings was musiek, mitologie, die teater en letterkunde.

In 1967 is hy en Elsa na Duitsland genooi en hulle het in Berlyn tuisgegaan, van waar hulle Oos-Europa sou besoek. Hulle het egter ’n dringende telegram uit Suid-Afrika wat hulle daarteen gewaarsku het, ontvang. Die Russiese spioen Yuri Loginov is in Suid-Afrika in hegtenis geneem en enige verhandelbare Suid-Afrikaners kon gevange geneem word met die oog op ’n ruilooreenkoms. Hy en Elsa het in Johannesburg die Excelsior-groep saam met Jan Rabie, Abraham de Vries en Rita Elferink gestig. Hierdie groep het kultuuraande oor rassegrense heen aangebied. Hy was in die 1970’s ’n tyd lank op die sensuurraad onder leiding van Jannie Kruger, maar hy het op die ou einde bedank. Vanaf die stigting van die Afrikaanse Skrywersgilde in 1975 was hy en Elsa lede daarvan.

Toe dit in die vroeë 1980’s bekend geword het dat die Kaaplandse Biblioteekdiens gereeld groot hoeveelhede boeke laat verpulp het, het hy saam met Jan Rabie gereël dat hierdie boeke, tesame met onverkoopte tydskrifte, eerder aan swart en bruin skole geskenk moes word om Afrikaans te bevorder. Nadat hy op ’n vryskutbasis begin werk het, het hy gereeld saam met Elsa op vele reise gegaan, onder meer na Mosambiek en Indonesië.

In sy tyd by Die Vaderland het hy ’n vervolgverhaal wat daagliks in hierdie koerant verskyn het, geskryf, maar sy eerste boek, Man in die spieël, was ’n speurverhaal wat hy onder die skuilnaam NG Steytler, sy voorletters en van, geskryf het. Dit het in die winter in ’n klein Karoodorpie afgespeel en toe ’n moord daar plaasgevind het, was almal wat in die hotel op die dorp tuisgegaan het, verdagtes. Soos wat hy later meer ernstig begin skryf het, het hy die skuilnaam Jan Harmse gebruik. Sy eerste boek onder hierdie naam was die misdaadkomedie Zap Zap – in Seepunt gaan dit plesierig, wat satiries na Suid-Afrikaners se leefwyses en gewoontes gekyk het. Nóg ’n werk wat onder die naam Jan Harmse verskyn het, was Die wonderwerke van Judas Iskariot, wat Bybelse verhale allegories aangewend het. Dit het drie kort novelles, gebaseer op Christus se wondergenesings, bevat, en hierdeur is menslike swakhede ontbloot; veral die mens se onvermoë om God te dien en op die regte manier te reageer na Goddelike ingryping.

Die eerste roman wat hy onder sy eie naam gepubliseer het, was Die leeukuil, wat die verhaal vertel het van ’n pa wat na ses jaar uit die tronk vrygelaat is en sy 13-jarige seun sonder sy vrou se medewete op ’n uitstappie op die seun se verjaardag na Hillbrow geneem het sonder om van die seun se diabetes en die noodsaaklikheid van medisyne bewus te wees. Op die ou einde is die seun oorlede en die pa is weer tot gevangenisstraf gevonnis, hierdie keer drie jaar. In die slothoofstukke was die seun se ouers steeds wêrelde van mekaar af al het hulle mekaar by die seun se graf ontmoet. Hierdie boek is ook aan skole voorgeskryf.

Steytler is op 27 Augustus 1998 in die ouderdom van 76 jaar aan kanker oorlede. Op daardie stadium was sy roman, Ons oorlog, nog nie heeltemal voltooi nie, maar Elsa en sy seun Nico het dit versorg en uitgegee. Benewens sy eie werk het hy Elsa se bekende roman Ons wag op die kaptein, in Engels vertaal onder die titel To die at sunset.

deur Daantjie Badenhorst