KORT GESKIEDENIS VAN PRETORIA SE OOSFORT
Die oorblyfsels van die grootste vesting wat die Britte tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 gebou het, kan vandag nog by Strubenkop in die voorstad Lynnwood in Pretoria gesien word.
Dit is vandag ’n natuurreservaat wat deur die Stad Tshwane bestuur word, maar behalwe vir die oorblyfsels van die fort is daar nie veel op die koppie oor nie. Daarom word daar geglo dat die reservaat geproklameer is om dit wat van die vesting oorgebly het, te bewaar.
Daar is al baie geskryf oor die Anglo-Boereoorlog. Nadat die Britse magte Pretoria op 5 Junie 1900 beset het, het hulle versterkte wagposte oor die hele Suid-Afrika opgerig; die belangrikste oogmerk was om spoorlyne en ander roetes te beskerm en die Boere se vryheid van beweging te beperk. Veral die spoorlyne was van groot belang aangesien die Boere dit ook beskerm het terwyl hulle in beheer daarvan was.

Herstel van ‘n brug tydens die Anglo-Boereoorlog
Teen Januarie 1901 is baie klein blokhuise, wat eintlik klein vestings was, opgerig. Dit is gewoonlik van sinkplate gemaak en omdat hulle vooraf vervaardig is, kon hulle maklik binne ’n kort tyd opgerig word. Van Maart 1901 af is die blokhuise op ander strategiese plekke, onder meer hoofroetes, geplaas. Teen Januarie 1902 is die oprigting daarvan voltooi; daar is bereken dat altesaam 8000 blokhuise op die ou einde oor ’n afstand van omtrent 6000 km opgerig is.
Vir die Britse magte was dit veral belangrik om Pretoria te beskerm nadat hulle die stad beset het. Daarom dat daar bykomende vestings in Pretoria opgerig is. Daar was reeds vier forte wat die Boere reeds voor die oorlog opgerig het, naamlik Fort Schanskop, Fort Klapperkop, Fort Wonderboompoort en Fort Daspoortrand. Om die stad in ’n heeltemal versterkte vesting te verander, het die Britte hul eie vestings opgerig. Sover vasgestel kon word, is meer as ’n honderd blokhuise met klip en messelwerk en sinkplate opgerig. Sommige van hulle het was van geskiedkundige waarde en het oorleef, maar ander het nie.

Die blokhuisstelsel in Suid-Afrika van 1900-1902
Die vesting op Strubenkop was een van dié wat wel oorleef het. Dit staan soms as Eastern Redoubt bekend, maar die naam Oosfort word meer gereeld gebruik. Dit is in teenstelling met Wesfort, die Britte se naam van Fort Daspoortrand, wat aan die westekant van Pretoria geleë is. Soos die naam aangedui het, was die Oosfort aan die oostekant van wat Pretoria in 1900 was.
Strubenkop was van strategiese belang om die stad van die ooste af te beskerm. Dit is reeds in die Boere se strategie voor die oorlog aangedui aangesien hulle ’n fort daar wou oprig. Dit het egter nooit ’n werklikheid geword nie. Selfs jare voor die tyd, tydens die Anglo-Transvaal-oorlog wat van 1880 tot 1881 geduur het, het die Britte, wat toe in beheer van Pretoria was, die ligging as seinstasie en uitkykpunt gebruik.
Die Oosfort was die grootste vesting wat die Britte in Pretoria opgerig het; die ander was net blokhuise. Dit is uit klip gebou en het ’n dak van geriffelde yster gehad. Dele van die mure is ook van sinkplaat, met skuiwergate, gemaak. Vanuit die dagboeke van die Britse soldate is dit bekend dat die King’s Own Scottish Borderers by die oprigting van die fort, tussen 15 Junie en 19 Julie 1900 betrokke was. Dit is opgerig onder toesig van kapt. HB Jones van die no.1-Lugballonafdeling van die Koninklike Ingenieurs. Nadat die fort voltooi is, het die vrywilligerkompanie van die 2de Hampshire-regiment dit beman. Dit is met ’n vyfduim-vlootkanon bewapen.

Ammunisie gevind by Oosfort
Die fort is tans besig om argeologiese navorsing te ondergaan. Een keer per jaar sluit skoolleerders en studente hulle by die navorsingspan aan om die mure en ander verwante artefakte op te grawe. Dit maak dit moontlik om vas te stel watter dele funksioneel was en om ’n idee van die leefstyl van die soldate wat daar gestasioneer was, te kry.
(Hierdie artikel, geskryf deur prof. Anton van Vollenhoven, het in Engels op The Heritage Portal verskyn en is deur Daantjie Badenhorst vertaal.)