LOUIS LUYT (1932-2013)

Dr. Louis Luyt was ’n Suid-Afrikaanse sakemagnaat, rugbyadministrateur en politikus.

Oswald Louis Petrus Poley Luyt is op 18 Junie 1932 op Britstown in die Noord-Kaap gebore, en het sy stiefpa se van aangeneem nadat sy ma haar huwelik met sy pa weens beweerde veelwywery ongeldig laat verklaar het. Hy was die tweede van nege kinders en het in armoede grootgeword. Hy het aanvanklik as ’n spoorwegklerk gewerk.

Hy het as rugbyspeler naam gemaak toe hy eers kaptein van die Vrystaatse span was en daarna as slot vir die Transvaalse provinsiale span uitgedraf het. In 1976 het hy The Citizen, ’n Engelstalige koerant wat die Nasionale Party-regering ondersteun het, gestig. Dit het later bekend geword dat die stigting van die koerant gestig is met geld wat afkomstig was van ’n geheime fonds van die Departement van Inligting. Luyt het ’n aantal klassieke motors besit en in 1976 het die koerant die Suid-Afrikaanse Grand Prix geborg. Hy het mettertyd ontken dat hy enigsins van die geheime befondsing bewus was. Die destydse eerste minister, adv. John Vorster, het besluit dat drastiese maatreëls nodig was om die beeld van die regering onder Engelssprekende Suid-Afrikaners ’n hupstoot te gee. Die fondse sou aanvanklik gebruik word om dr. Luyt in staat te stel om die liberale dagblad Rand Daily Mail te koop, maar toe dit misluk het, is The Citizen gestig. Rand Daily Mail het dit alles oopgevlek, en dit het die einde van Vorster se termyn as eerste minister beteken. Die destydse sekretaris van inligting, dr. Eschel Rhoodie, wat aan die hoof van hierdie projek gestaan het, het dr. Luyt, wat dit ongeskonde oorleef het, beskryf as die “oneerlikste man wat ek nog ooit ontmoet het.” Daarna het hy Triomf-kunsmis gestig en sy eie bier, Luyt Lager, bekendgestel en nadat albei hierdie ondernemings misluk het, onder meer omdat hy met Suid-Afrikaanse Brouerye gebots het, het hy beheer van die Ellispark-rugbystadion oorgeneem. Hy het ’n ooreenkoms met die mediamagnaat Rupert Murdoch aangegaan om Super Rugby en die Drienasies-toernooi tussen Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland aan die gang te kry. Te midde van sportisolasie het hy die “Nieu-Seelandse Kavaliers” se toer deur Suid-Afrika gereël. Hy is nooit gevra om by die Broederbond aan te sluit nie, en sy verhouding met die Afrikaner-”establishment” was nie baie goed nie omdat hulle hom as “onopgevoed” beskou het.

Hy was deel van die afvaardiging wat in 1988 met die ANC, wat toe nog verbied was, in Lusaka vergader het, en hoewel hy goed met sommige van die leiers oor die weg gekom het, het die vooroordele van sy geslag van Afrikanermans baie sterk na vore gekom. Hierdie ontmoeting was ’n poging om Suid-Afrika se hertoelating tot Suid-Afrikaanse rugby te bespoedig. Net die vorige jaar het hy oudpresident PW Botha gekritiseer omdat Botha nie stemreg aan swart mense wou gee nie. Max du Preez, die stigter van Vrye Weekblad, het dr. Luyt beskryf as iemand wat die indruk geskep het dat hy in niks anders as homself en die mag van geld geglo het nie en die Afrikaner-“establishment” gehaat het. Nogtans het hy, soos Du Preez dit gestel het, hom by hulle geskaar soos dit hom gepas het

In 1995 het Suid-Afrika vir die eerste keer aan die Rugbywêreldbeker deelgeneem en die toernooi aangebied en gewen. Dr. Luyt was op daardie stadium die president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie nadat hy in 1989 die president van die Transvaalse Rugbyvoetbalunie geword het. Hy het die Transvaalse Rugbyvoetbalunie van finansiële ondergang en middelmatigheid gered en die unie ’n krag in plaaslike rugby gemaak. Hy is egter van boelietaktiek, nepotisme en outokratiese administrasie beskuldig en in 1992 het hy swaarde met die ANC gekruis toe slegs die Afrikaanse deel van die nasionale lied in ’n toetswedstryd teen die All Blacks op Ellispark gespeel is. Nogtans het hy ’n belangrike rol in die Springbokke se hertoelating tot internasionale rugby gespeel. Daarby is hy daarvan beskuldig dat hy niks gedoen het om die rasseprofiel van Suid-Afrikaanse rugby te verander soos wat dr. Ali Bacher met krieket gedoen het nie.

Tydens die amptelike funksie wat vir die Springbokke en Nieu-Seeland gereël is na afloop van die 1995-eindstryd, het hy gesê dat die Springbokke ook die toernooie in 1987 en 1991 sou gewen het as hulle toegelaat is om deel te neem. Die All Blacks het die funksie uit protes teen hierdie stelling verlaat. Tydens dieselfde funksie het hy die Walliese skeidsregter Derek Bevan openbaar bedank vir die manier waarop Bevan die halfeindstryd tussen die Springbokke en Frankryk gehanteer het. Bevan het ’n drie wat in die doodsnikke van die wedstryd deur die Franse slot Abdelatif Benazzi gedruk is, nie toegeken nie. In daardie jare was daar nog geen televisieskeidsregters nie, maar stadige aksie het gewys dat Benazzi wel die bal gedruk het. Indien die drie toegeken sou word, sou die Springbokke die wedstryd verloor het en Frankryk sou die eindstryd gehaal het. Dr. Luyt het Bevan na die verhoog toe geroep om ’n goue horlosie aan hom te oorhandig. Dit het gemaak dat mense in hul massas uitgestap het, en dat Bevan self die funksie verlaat het sonder om die horlosie te aanvaar.

In 1998 het bewerings van rassisme in rugby gemaak dat dr. Luyt voor ’n presidensiële kommissie van ondersoek moes verskyn, maar hy het volstrek geweier en ’n hofsaak, waarby oudpresident Nelson Mandela betrek is, aanhangig gemaak. Die Hooggeregshof het in dr. Luyt se guns beslis maar die saak is na die Konstitusionele Hof verwys en die hof het in Mandela se guns beslis. Mandela het dr. Luyt as ’n deernislose diktator beskryf en volgens Du Preez was hy ’n sosiopaat.

Dit, asook aanklagte van finansiële wanbestuur, het gemaak dat dr. Luyt as president van die Rugbyraad bedank het en ’n politieke party, bekend as die Federale Alliansie, gestig. Hy was van 1999 af ’n parlementslid vir hierdie party totdat die Federale Alliansie met die Demokratiese Party saamgesmelt het en die Demokratiese Alliansie gestig het. Die Demokratiese Alliansie het egter hul bande met hom verbreek en dr. Luyt het gereageer deur hom by die Vryheidsfront Plus aan te sluit.

Hy is op 1 Februarie 2013 in die ouderdom van tagtig jaar by sy huis in Ballito aan die KwaZulu-Natalse Noordkus aan ’n hartaanval oorlede.

Daantjie Badenhorst