LOUIS VAN NIEKERK (1935-2023)

Louis van Niekerk was ’n bekende Afrikaanse televisie-, rolprent- en teaterakteur en teaterregisseur.

Hy is op 27 Junie 1935 gebore en het op twaalfjarige ouderdom reeds begin om toneel te speel toe hy in Babs Laker se verhoogstuk Ek onthou vir Mammie opgetree het. Hy was ’n vryskutakteur totdat hy in 1965 by die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) aangesluit het. Met sy diep stem en sterk verhoogpersoonlikheid het hy hier diep spore getrap. Onder sy bekendste rolle was Dogoman in PG du Plessis se Nag van Legio, Giel in Siener in die suburbs en Mattewis in die verhoogproduksie en televisiereeks van Mikro se Mattewis en Meraai. In 1975 het hy saam met Marius Weyers en Sandra Prinsloo in Francois Swart se Afrikaanse produksie van Othello gespeel.

Van Niekerk was omstreeks 1978 TRUK se toneelhoof en in die 1980’s het hy TRUK se artistieke hoof geword. Hy het die regie van ongeveer 25 toneelstukke behartig en oor die verloop van 33 jaar was hy betrokke by meer as 200 produksies vir TRUK. Hiervoor het hy vier merietetoekennings ontvang. Onder die talle verhoogproduksies waarvan hy die regisseur was, was Kanna hy kô hys toe, Die dabgoek van Anne Frank, Chris Barnard se verhoogstuk Die swanesang en die Afrikaanse produksie van Die Koopman van Venesië van William Shakespeare.

In 1990 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom met ’n erepenning vereer, en in 2005 het hy die Afrikoon-toekenning van die ATKV gekry vir sy lewenslange bydrae tot teater. In 2012 het hy die Fiesta-prys gekry vir sy lewenslange bydrae tot teater.

Hy was dalk minder bekend as televisieakteur maar het nogtans rolle in reeks soos Amalia, Die vierde kabinet, Agter elke man, Hartland, Zero tolerance en Grondbaronne vertolk. Teen die einde van sy lewe het hy die rol van Festus Koekemoer teenoor Rina Nienaber in Getroud met rugby vertolk; hierdie rol het hom aan ’n jonger geslag televisiekykers bekendgestel. Die rolprente waarin hy gespeel het, was The fourth Reich, Elsa se geheim en Mandela: Long walk to freedom. Hy was tot einde Augustus 2009 die toesighoudende vervaardiger van Egoli, waarna hy voorsitter van die Teaterbystandsfonds was. Hy was getroud met Lettie Scheepers, wat reeds in 1983 oorlede is.

Hy is op 7 Februarie 2023 in die ouderdom van 87 jaar aan kanker oorlede.

Daantjie Badenhorst