LOUIS VAN RENSBURG (1944-2012)

As daar een Afrikaanse sanger en liedjieskrywer was wat in die 1980’s en 1990’s sinoniem met Afrikaanse televisie-en-rolprentmusiek was, was dit Louis van Rensburg.

Louis Wilfred Janse van Rensburg is op 31 Julie 1944 in Johannesburg gebore en het op ’n jong ouderdom geleer om kitaar en mondfluitjie te speel. Nadat hy as musiekopsteller by die SAUK aangestel is, het hy saam met Koos du Plessis, Anneli van Rooyen, Laurika Rauch en Jannie du Toit betrokke geraak by die ontwikkeling van Afrikaanse musiek en gedigte van onder meer Boerneef, C Louis Leipoldt en George Weideman getoonset. In 1981 het sy eerste album, Katvoet, verskyn; dit het ’n aantal treffers opgelewer soos “Hier by jou” en “Jy naby my”, waarvoor Fanus Rautenbach die woorde geskryf het, asook toonsettings van die gedigte “Voshaarnooi” van Boerneef en “Bella boklam” van George Weideman. Daarna het hy hom hoofsaaklik op televisie-en-rolprentmusiek toegespits en die temamusiek van onder meer Bosveldwinkel, Bosveldhotel, Van gister en eergister en Kinders van die Sabbatsee gekomponeer.

Sy groot deurbraak het in 1987 gekom toe hy saam met Richard van der Westhuizen aan die klankbaan van die uiters suksesvolle televisiereeks Ballade vir ’n enkeling gewerk het. “Voshaarnooi”, asook twee ander snitte vanaf sy debuutalbum naamlik “Een alleen” en “Tuiskoms”, is by die klankbaan ingesluit, saam met twee nuwe snitte, “Kraai jou kraai” en “My karretjie se venster”. “Voshaarnooi” het, ses jaar nadat dit oorspronklik uitgereik is, só gewild geword dat dit die titelsnit van sy volgende langspeelplaat vir die destyds nuutgestigte platemaatskappy Select Musiek geword het. Hierop het hy met verskeie musiekgenres geëksperimenteer en nie al die snitte was ewe toeganklik vir die publiek nie. Onder die snitte wat wel radiolugtyd gekry het, was “Ek kan jou onthou”, “Ek en jy” en “Kom almal sing nou”. Hierna was hy verantwoordelik vir die temamusiek vir die suksesvolle televisiereeks Arende, waarin Ian Roberts en Gavin van den Berg onder meer hoofrolle vertolk het.

Die eerste album van Louis wat op CD uitgereik is, was My musiek in 1992. Die nuwe treffers op die album was “Pa werk Ma werk”, asook Afrikaanse liedjies, met die wysies van “Kinders van die wind” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, en lirieke waarin hy hulde gebring het aan Afrikaanse kunstenaars. Twee instrumentale snitte is ook uitgereik, naamlik “Grofsmid” en “Oliekolonie”; laasgenoemde was sy opname van ’n snit waarmee die Boet van Wyk Orkes ’n treffer gehad het. Sy ander treffers soos “Hier by jou”, “Jy naby my”, “Voshaarnooi” en “Een alleen” is ook op hierdie album ingesluit. Die tweede reeks van Ballade vir ’n enkeling het in 1993 verskyn en weer eens was Louis medeverantwoordelik vir die klankbaan. Daarna het ’n album met die musiek uit Arende, wat hy gekomponeer en gespeel het, gevolg. Sy nuwe treffer vanaf hierdie klankbaan was “Kom en hou my vas”. Die laaste album wat in sy leeftyd op CD uitgereik is, was Jy mag maar, met die titelsnit, “Jammer Meneer” en “Wie is jy” as treffersnitte.

Toe die gewilde sepie 7de Laan in 2000 die lig gesien het, was Louis weer eens verantwoordelik vir die temamusiek; hy het dit gekomponeer en die Soweto String Quartet het dit gespeel. Benewens sy kommersiële albums het Louis ook verskeie transkripsieopnames vir die SAUK gemaak.

Louis is op 9 September 2012 in die ouderdom van 68 jaar oorlede. In ’n huldeblyk vir LitNet het Richard van der Westhuizen, wat die klankbaan van Ballade vir ’n enkeling saam met hom behartig het, hom as ’n beskeie en besonder begaafde mens beskryf, deels konserwatief en deels wild en ongebonde. Sy treffers “Bella boklam” en “Voshaarnooi” is in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit.

Daantjie Badenhorst