MARGOT LUYT (1948-2021)

Die bekende aktrise, radiopersoonlikheid en stemkunstenaar Margot Luyt is in die ouderdom van 73 jaar oorlede nadat sy lank ’n stryd teen Parkinson-siekte gevoer het.

Luyt, wat sedert 1978 by die radiostasie Radio Sonder Grense, destyds die Afrikaanse radiodiens van die SAUK, betrokke was, het programme soos Kortom en Vers en klank aangebied. In dieselfde jaar het sy haar eerste televisierol in die reeks TJ7, die laaste reeks waarin Wena Naudé te sien was voordat sy oorlede is, vertolk, en daarna het rolle in Die avonture van Joachim Verwey, Gazette, Geraldina die Tweede en laastens Sara se geheim gevolg. Onder die rolprente waarin sy te sien was, was Die spook van Donkergat, Nicolene en Uitvlucht.

Haar rol van die bitter tant Marie in Sara se geheim het gevolg kort nadat sy die nuus gekry het dat Parkinson-siekte by haar gediagnoseer is. Dit het haar sig aangetas en sy het naderhand gesukkel om te lees. Sy het erken dat angsaanvalle en depressie ’n deel daarvan was. Haar lewensmaat van meer as twee dekades, Graham Clarke, leef saam met inkluissindroom, ’n toestand wat al jou bewegingsfunksies aantas en jou lam laat al funksioneer jou brein perfek. Hy was egter die een wat haar moed gegee het terwyl sy wou gaan lê. Hy het in 2019 verdrink toe hy by ’n kanaal by Century City in Kaapstad in die water beland het. Hoewel haar karakter in Sara se geheim ’n absolute rassis was, het haar werklike lewe dit glad nie weerspieël nie, want in 1986 het sy ’n bruin kind, Jacky, soos haar eie grootgemaak en haar aangeneem toe wetgewing aanneming oor die kleurgrens moontlik gemaak het. Jacky se biologiese ma kon nie vir haar sorg nie en Margot is gevra om na haar om te sien. Sy het egter erken dat dit vir haar ’n groot uitdaging was weens apartheid. Sy het intussen ook ’n ouma van drie kleinkinders geword, naamlik die agtjarige Stephan en die tweeling Mari-Ella en Isabella, wat omtrent drie jaar oud is.

Sy het verskeie Artes-toekennings vir haar werk ontvang, en sy is, saam met Nic de Jager, verlede jaar vir hul lewenslange bydraes tot Suid-Afrikaanse radio vereer.

Volgens Albé Grobbelaar, wat in die vroeë 1980’s saam met haar by die SAUK se kantore in Seepunt, Kaapstad, gewerk het, was sy een van die reuse van radio in Suid-Afrika en hy het eindelose respek vir haar gehad.

deur Daantjie Badenhorst