MARIKE DE KLERK (1937-2001)
… die alleenpad …
Toe hulle haar liggaam op daardie oggend van 5 Desember 2001 in haar woonstel vind, is die beentjies in haar nek gebreek en die wrede vingermerke om haar keel dui daarop dat sy gewurg is. ’n Skerp vleismes is in haar rug gesteek en die patoloog sou later verklaar dat hy nie met sekerheid kon sê of sy ook verkrag is nie. Die moordenaar is Luyanda Mbowisa – ’n veiligheidswag by die kompleks in Dolphin Beach waar sy gewoon het.
En op ’n vreemde manier word Marike de Klerk op daardie oggend ’n sinnebeeld van die Suid-Afrika wat haar man help skep het, en waarteen sy haar enduit alleen verset het.
Marike Willemse is gebore op 29 Maart 1937 in ’n stoere Afrikanerfamilie. Haar pa, Wilhelm, is ’n akademikus en professor in Sosiale Patologie en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Dis ’n polities bewuste gesin en wanneer Marike haar skoolloopbaan voltooi en inskryf by die Potchefstroomse Universiteit vir CHO vir ’n B-graad in Handel en Ekonomie, raak sy nou betrokke in die Nasionale Party op kampus. Inderdaad staan haar kop self politiek toe. Jare later sou ’n konserwatiewe Duitse koerant sê: “Sy sou ’n beter president gewees het as hy.”
Maar dan ontmoet sy die regstudent, Frederik de Klerk. Hy is vyf jaar ouer as sy en is ’n gewilde man op kampus. Ook hy kom uit ’n stoere Nasionale Party-familie – sy pa is die bekende Jan de Klerk, wat later senator en minister sou word.
Marike voltooi haar studies en in 1959 trou sy en FW. Die grootste hartseer van hulle huwelikslewe is die feit dat daar nie kinders kan wees nie. Hulle neem dus drie kinders aan: Jan, Willem en Susan.
Met beide se koppe wat in die rigting van die politiek staan, besluit Marike om haar toe te spits op haar huishouding en liewer haar volle gewig in te gooi agter FW se politieke loopbaan. Sy is tree vir tree van die pad agter hom en na tien jaar van getroude lewe word hy Parlementslid vir Vereeniging. Die De Klerks is bekend as baie konserwatief en wanneer John Vorster hom in 1978 in die kabinet opneem as Minister van Onderwys, pas FW die beleid van rasse-segregasie by skole en universiteite streng toe. En daarmee is die blitsige politieke opgang op ’n einde. Hy bly in die een of ander mindere Ministersportefeulje dwarsdeur die John Vorster- en PW Botha-era.
In hierdie jare maak Marike die kinders groot en voer haar pligte as Ministersvrou getrou uit. Sy lê die beginsels waarmee sy en FW grootgeword het ook by die kinders vas en met haar vlymskerp verstand adviseer sy hom gereeld oor sy werk.
Die enigste keer in hierdie tyd waar Marike in die kollig beland, is in 1983 toe sy oor die Kleurlingbevolking opmerk: “Hulle is ’n negatiewe groep mense, non-personae. Hulle is die mense wat oorgebly het nadat die volkere uitgesorteer is. Die oorskietmense.” Hieroor loop sy onder skerp kritiek deur.
1989 is die jaar waarin alles verander. Na maandelange konflik en stryd in die kabinet konsolideer FW sy posisie en neem die amp oor by PW Botha. Marike neem haar voor om ’n waardige presidentsvrou te wees, en sy besef dat dit ’n veeleisende taak gaan wees om Elize Botha se skoene vol te staan – die mense van Suid-Afrika is gewoond aan die formidabele, sagmoedige en innemende tannie Elize, vir hulle is die fyn, donkerkop Marike met die senuweeagtige glimlaggie vreemd, want hulle weet nie van haar seer nie.
Die probleem is dat die eerste krake in haar huwelik begin wys. FW praat nie meer met haar oor sy werk nie. En wanneer hy vaagweg praat oor veranderinge wat nodig is, stem sy saam. Argaïese gebruike soos die swart hoed wat ministers moet ophê by ’n Parlementsopening dateer nog uit die dae van Hertzog en Malan en daarmee doen FW weg. Dis veranderinge waarmee sy kan saamleef, maar sy het geen vermoede van presies hoe ver hy die “veranderinge” sal voer nie.
Die 2 Februarie 1990-toespraak waarin hy die ANC ontban, Mandela onvoorwaardelik vrylaat en skerp wegswenk van die pad van Suid-Afrika sedert 1948, tref haar net so onverwags as die res van Suid-Afrika. Hy lig haar eers kort voor die sessie in van wat hy beplan om aan te kondig. Sy sit met ’n strak uitdrukking op haar gesig tussen die ministersvroue op die galery.
Hiervandaan dryf FW al hoe verder van haar af weg. Sy probeer haar bes, maar wanneer sy begin vermoed dat daar ’n verhouding bestaan tussen hom en die vrou van die Griekse miljoenêr, Tony Georgiadis, begin haar wêreld verkrummel. Dit is vir haar ’n vernedering dat sy kabinet weet van die verhouding, selfs die opposisie dra kennis daarvan. Clive Derby-Lewis wou lankal die inligting gebruik, maar dr. Andries Treurnicht keer hom: “Dis nie die KP se styl nie, Clive,” sê die waardige ou opposisieleier.
Marike se huwelik word een opvolging van bittere rusies na die ander. Wanneer sy by FW kla omdat Mandela hom nie met genoegsame respek behandel nie, verdedig hy Mandela se kant. Marike veg teen depressie en besoek skoonheidskonsultante om haar te help met grimeringswenke om die donker kringe onder haar oë weg te steek. Wanneer sy in die openbaar verskyn, en dit is nou gereeld met die oë van die wêreld op Suid-Afrika, steek sy haar oë weg agter groot donkerbrille en sy glimlag selde.
“Marike het senuweeprobleme,” word daar agter bakhande gefluister by Parlementêre geleenthede. En in plaas daarvan dat sy simpatie kry, kyk hulle haar veroordelend aan. Juis nou dat FW die steun van sy vrou nodig het, is sy nie daar vir hom nie. Maar FW het vir haar ’n vreemdeling geword. Die skaduwee van Mandela val donker oor haar huwelik.
In 1991 tref nog ’n slag haar. Die media maak bekend dat Willem, die jongste seun, in ’n verhouding betrokke is met Erica Adams – die dogter van ’n Kleurlingpolitikus. Haar uitspraak van 1983 word weer opgerakel. Marike pleit by FW om in te tree, die verhouding is totaal en al teen alles waarin sy glo. Maar ook hierin kry sy geen ondersteuning nie, sy moet self Kaap toe vlieg om die kwessie te probeer uitsorteer.
In die aanloop tot die verkiesing moet sy nog ’n vernedering sluk. Die ooreenkoms is dat sy en FW na die verkiesing in Libertas sal aanbly en dat Mandela en Winnie die Presidensie sal betrek. Uit die bloute word sy telefonies daarvan ingelig dat die ANC nie daarvoor te vinde is nie, Mandela moet in Libertas gaan bly en sy moet na die Presidensie trek. Dis vir haar ’n harde slag, want sy het van Libertas ’n plek gemaak waar sy veilig voel. FW wil nie eers daaroor praat nie. Maar skaars het sy vrede gemaak daarmee of sy word ingelig dat ook die Presidensie vir die ANC se gebruik opgeëis word. Sy moet oortrek na die ou administrateurswoning, Overvaal. Overvaal was lank in onbruik en is gedeeltelik vervalle. Sy eis dat restourasiewerk gedoen word, en Mandela laat weet dat hy die plek self sal besoek om te sien presies wat nodig is. Dit is vir haar ’n ontsettende vernedering dat Mandela besluit hoe haar huis moet lyk en wat sy nodig het. Sy is per slot van sake die Presidentsvrou! En weer kry sy geen ondersteuning van FW nie.
Uiteindelik kom die dag waarop sy besluit dat sy nie verder deel sal hê aan die konsert nie. By die presidensiële inhuldiging dra sy weer haar donker bril en staar strak voor haar uit. Sy was sewe jaar oud toe die Nasionale Party aan bewind gekom het, ’n student toe die Republiek gekom het … en as 53-jarige presidentsvrou moet sy toekyk hoedat alles waarin sy ’n leeftyd lank geglo het voor haar oë tot niet gaan. En dit aan die hand van haar eie man.
Wanneer Mandela na die inhuldiging die onthaalvertrekke van die Uniegebou binnestap, staan almal op en begin hande klap. Almal behalwe sy, want in hierdie oomblik besluit sy dat die wêreld moet sien: Dit is FW se pad, dit is nie meer haar pad nie. Sy bly sit. “Marike, staan op! Jy is onbeskof!” sis een van die Parlementariërs. Maar sy gluur hom bloot aan en bly onversetlik in haar plek sit sonder om die minste erkenning aan die Mandelas se binnekoms te gee.
Marike besef dat die breuk tussen haar en FW nooit weer geheel kan word nie. Oor die volgende 18 maande dryf hulle verder en verder uitmekaar totdat hy op 14 Februarie 1996 bekend maak dat hy van plan is om na 37 jaar van haar te skei. Daar is ’n ander vrou in sy lewe. Marike, ter wille van die kinders, pleit nog ’n keer: “As jy anders besluit sal ek jou vir alles vergewe, tot 70 maal 7 keer.” Daarop kyk hy weg van haar en sê: “My besluit is finaal, Marike. Hou op hoop. Ek gaan nou.”
Presies ’n week na die egskeiding trou hy met Elita Georgiadis.
Marike gooi nie tou op nie. Sy stig die Womens’ Outreach Foundation om vroue in landelike gebiede op te hef. Sy reis na Amerika om opvoedkundige prosesse te ondersoek vir haar WOF. In Genève ontvang sy die Vroue vir Vrede-toekenning vir haar werk onder landelike vroue. En sy bly in die nuus vanweë haar deurlopende kritiek oor die ANC-regering vanweë hulle korrupsie. Uiteindelik reageer die ANC met ’n sterk bewoorde persverklaring waarin hulle haar bestempel as : “… ’n verbitterde vrou wat nie kan vrede maak daarmee dat sy bloot ’n voormalige presidentsvrou is nie …”
Wanneer president Mandela in 1995 al die vroue van voormalige premiers, presidente en leiers uit die “Struggle” vir ’n tuinparty by Tuynhuis nooi, is Susan Strijdom, Tinie Vorster, Elize Botha, Marga Diederichs en Marietjie Viljoen (vrou van oud-president Marais Viljoen) almal daar. Net twee is nie teenwoordig nie. Uit Orania laat weet tant Betsie Verwoerd dat sy vanweë haar gevorderde ouderdom opsien na die reis, maar dat die president welkom is om haar op Orania te besoek. Die ander een is Marike. In ’n hoflike briefie wys sy, veelseggend, sonder opgawe van redes die uitnodiging van die hand.
In 1998 skryf sy haar outobiografie: “’n Reis deur somer en winter”, maar nogmaals moet sy die vernedering daarvan sluk dat FW deur ’n hofbevel toestemming kry om die hoofstuk oor sy verhouding met Elita te sensor. Sy skryf ook: “’n Plek waar die son weer skyn” waarin sy oopkop praat oor haar pad na herstel na die egskeiding. En in 2000 ontmoet sy die sakeman Johan Koekemoer. Dit lyk asof die son uiteindelik tog weer vir haar skyn.
Maar dis van korte duur. Koekemoer word gelikwideer, die verhouding verbrokkel en Marike beland in ’n senuweekliniek in Pretoria.
Teen die winter van 2001 het sy genoegsaam herstel om terug te keer na Bloubergstrand waar sy ’n wooneenheid besit. Sy is uiteindelik gereed om haar lewe te hervat, en sy is gretig om haar planne tot uitvoer te bring. Sy het nooit haar beginsels prysgegee nie, haar verset was ’n alleenverset, en het nie ’n invloed gehad nie. Maar sy het haar verset, want sy moes. Sy was dit verskuldig aan haar herkoms, haar opvoeding, haar voorgangers.
Sy kon nie die werk van tant Siena Kruger, Nonnie de la Rey, Tibbie Steyn, Annie Botha, Ouma Isie Smuts, tant Mynie Hertzog, Maria Malan, Susan Strijdom, Betsie Verwoerd, Tinie Vorster en Elize Botha netso tot niet laat gaan nie. En sy het vrede in die wete dat sy haar bes gedoen het. Haar werk was uiteindelik klaar. In die nuwe jaar sal sy weer begin …
En toe kom die nag van 4 Desember …
deur Daniël Lötter