MIEMS DE BRUYN (1922-2010)

Diegene wat die beginjare van Suid-Afrikaanse televisie beleef het, onthou seker Nommer asseblief, wat in die laat 1970’s en vroeë 1980’s op die kassie was.

Een van die gewildste karakters uit hierdie reeks was tant Kriekie de Waal, wat vertolk is deur die aktrise Miems de Bruyn. Sy is op 6 Mei 1922 gebore en het aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. In 1970 het sy die rol van Dada in Daan Retief se rolprentweergawe van Staal Burger vertolk en haar eerste televisierol was dié van Sarie Wiese in Net ’n bietjie liefde in 1977. Twee jaar later het haar rol as tant Kriekie in Nommer asseblief gevolg. Daarna was sy te sien in die dramareeks Het van Verlangekraal , die sitkom Ma-Plotters , waarin sy, soos in Nommer asseblief, teenoor Alex Heyns gespeel het, asook Oos/Wes , Jackpot en Iemand om lief te hê. Haar laaste televisierol was dié van die moeilike tannie Ans Rademan in 7de Laan. Daar was ook twee rolprente wat op die Nommer asseblief-televisiereeks gevolg het, naamlik Nommer asseblief-die rolprent en Verkeerde nommer. In 2003 het sy en Al Debbo die hoofrolle vertolk in die musiekvideo van Steve Hofmeyr se trefferliedjie Pampoen. Sy was getroud en het vier dogters gehad.

Miems is op 14 April 2010 in die ouderdom van 87 jaar aan maagkanker oorlede en ’n erepenning vir rolprentkuns is ’n paar maande later postuum aan haar toegeken.

deur Daantjie Badenhorst