NYLSTROOM-KONSENTRASIEKAMP
Ligging: Ou munisipale begraafplaas
Koördinate: -24.6964679,28.4113504
Met die stigting van die Nylstroom-konsentrasiekamp het die meeste mense redelik informeel in die dorp se huise, kerke en tronke gewoon.
Ander het in tente tussen die huise gewoon en baie inwoners het met hul eie tente by die kamp aangekom. Tussen die kamp en die spoorlyn was daar ’n digte houtbos; gevolglik het die dorp en die kamp nie ’n blokhuis gehad nie. Ses Zoeloes wat die kamp opgepas het deur die ingang en uitgang te bewaak, het die kamp gepatrolleer.
As gevolg van die digte houtbos, was dit moontlik dat die burgers die kamp van tyd tot tyd ongesiens kon besoek. Om “orde” in die kamp te handhaaf, is ’n “Burgher Police” aangestel en bewapen. Hierdie polisie is aangestel uit mans wat reeds in die kamp was. Laastens is drie Engelse soldate aangestel om te verseker dat soldate nie die kamp sou binnekom nie. Ligte uit was om 21:00. Die Dopperkerk en die NG Kerk-pastorie is onderskeidelik as skool vir die kinders en as hospitaal ingerig. Aan die einde van die dorp was die begraafplaas, waar honderde inwoners van die konsentrasiekamp mettertyd hul laaste rusplek sou vind.
Gedurende September 1901 is die kamp verskuif; die huidige terrein van die Laerskool Eendracht is waar die kamp destyds was. Superintendent Duncan het die tente in die nuwe kamp in netjiese rye laat opslaan. In November 1901 het 1275 mense in die tente gewoon en 577 in die dorp; dit was altesaam 1852 mense.
Soos die ander konsentrasiekampe het die Nylstroom-kamp ’n hospitaal gehad, maar die Boeremense was altyd skrikkerig daarvoor aangesien daar soveel van hul mense daar gesterf het. Eers in Oktober 1901 is daar gemeld dat die mense minder bang vir die hospitaal was. In hierdie hospitaal was daar ’n matrone terwyl vyf Boeredogters ook daar gewerk het.
Soos in die meeste ander kampe is rantsoene vanaf ’n venstertjie van ’n gebou ontvang. Vleis was skaars en selfs al was dit beskikbaar, was die gehalte daarvan bedenklik. Die slagplek was net buite die kamp geleë. Hoewel swart bediendes toegelaat is, het hulle geen rantsoene ontvang nie en die gesin by wie hulle aan diens was, moes die bediendes uit hul eie rantsoene versorg.
Daar is goeie voorsiening vir vullisverwydering gemaak. Drie steenhouers is rondom die kamp gebou en deur die middel van die kamp was daar ysterdromme wat twee keer per dag leeggemaak is.
Die mans in die kamp het hout gekap teen vergoeding van ’n sjieling en ses pennies per dag, asook ’n pond vleis. Die hout wat deur ongeveer vyftig man gekap is, is per trein na Pretoria vervoer; van daar af is dit ook na die ander konsentrasiekampe vervoer. Aangesien daar geen tekort aan hout was nie, is kiste in die kamp gemaak en ’n gedeelte van die tronk is as lykshuis gebruik.
Vir die dogters was daar kleremaaklesse om hulle besig te hou terwyl een skoenmaker die seuns opgelei het om skoene te maak. Daar was egter ’n tekort aan leer.
Die trant en sarkastiese opmerkings van die verslag van die geneesheer, dr. Kendal Franks, het die indruk gelaat dat hy nie juis veel van die Boeremense gedink het nie. Hy het genoem dat 62 mense in die tronk gewoon het en dat dit oorbevolk en slordig was. Hy het die volgende opmerking gemaak oor die biltong wat in die tronk opgehang is: “In the passages and the rooms themselves were strings stretched from wall to wall, over which pieces of meat were slung to dry and formed their favourite biltong. It was difficult to move about without striking against these hanging bits of meat.” Verder het dr. Franks gesê dat die tente slordig was en dat die tente van die arm mense in die algemeen nie in ’n goeie toestand was nie.
Die kampsuperintendent, kapt. Henry Cooke, het gemeld dat die meeste gesinne gehawend, vuil en uiters swak geklee by die kamp aangekom het. Hy het hierop uitgebrei deur te noem dat dit veral die geval was onder families wie se mans nog op kommando was en wat nog self in die veld was. Dr. Franks het gemeld dat hulle nie klere en lewensmiddele gehad het nie. Toe hy deur die boeke van die plaaslike winkeltjie, Poynton’s Store, gegaan het, het hy gevind dat die inwoners klere, kampnoodsaaklikhede, kookware en “luxuries” eerder as kos gekoop het. Hy het egter nie gesê wat hierdie “luxuries” was nie. Dit het egter bevestig dat die mense wat in die kamp aangekom het, agter die kommando’s en weg van die Engelse getrek het.
Hoewel dr. Franks gemeld het dat die mense van die distrik arm was, het hy ook genoem dat die Poynton Brothers-winkel goed geld gemaak het. Daar is genoem dat die winkel tussen £ 700 en £ 1300 per maand gemaak het; ’n redelik winsgewende bedrag vir daardie tyd.
Ten opsigte van die geestelike bearbeiding van die inwoners het kerkdienste, gelei deur ’n diaken van die NG-Kerk, eers in Oktober 1901 begin hoewel daar drie kerke op die dorp was. Dit is egter nie duidelik of die predikante aktiewe militêre diens verrig het en daarom nie in staat was om eredienste te lei nie.
Op grond van die bevinding van die Ladies’ Commission dat dit ’n malaria- en koorsgebied was, is daar in Maart 1902 besluit om die inwoners na Irene naby Pretoria te verskuif. Hierdie nuwe inkomelinge is suid van die bestaande kamp, oorkant die Hennopsrivier, geplaas. Daar is hulle in ’n afsonderlike begraafplaas begrawe, maar later is hulle opgegrawe en in ’n massabegraafplaas in die Irene-kamp se hoofbegraafplaas herbegrawe.
deur Daantjie Badenhorst
Klik hier om te sien of daar van jou familie hier begrawe is.