ORANJERIVIERSTASIE-KONSENTRASIEKAMP
Ligging: Op die plaas Doornbult, distrik Hopetown
Koördinate: -29.6788891,24.2049271
Hierdie kamp het bestaan van April 1901 tot November 1902 met ongeveer 238 sterftes. Die eerste terrein was in ’n holte sonder dreinering en die nuwe kamp moes verder suid, weg van die stasie en rivier af opgerig word. Dit moes inderhaas gebeur voor die Britse Dameskomitee se beplande besoek teen einde Augustus. Met die aankoms van die Dameskomitee op 29 Augustus 1901, was reeds meer as 1300 wit mense en ’n groot getal swart mense in die kamp gehuisves. Doornbult was die enigste kamp waar swart kindersterftes saam met die wit sterftes aangeteken is en waar die name van sekere individue aan grafte gekoppel kon word.