PAUL EILERS (1945-2019)
Die legendariese Afrikaanse akteur, rolprentregisseur en omroeper Paul Eilers is op 28 Junie 2019 in die ouderdom van 74 jaar oorlede.
Eilers, wat in 1945 op die Vrystaatse dorp Boshof gebore is en in Kimberley gematrikuleer het, het in 1963 by die Johan Fourie-toneelgeselskap aangesluit, waar hy as akteur, verhoogbestuurder en regisseur gewerk het. Onder die verhoogstukke waarin hy te sien was, was Putsonderwater, Siener in die suburbs, Mattewis en Meraai en Die laaste van die takhare. In 1972 het Paul hom by die SAUK aangesluit, onder meer as nuusleser en omroeper, en van 1981 op ’n vryskutbasis gewerk.
Hy het in 1970 sy rolpentdebuut in Die drie Van der Merwes gemaak, en in 1976 was hy te sien in Dokter Dokter en Willem, wat in die eerste jaar van televisie in Suid-Afrika vrygestel is. In dieselfde jaar het hy die rol van Altman in die rolprent Die rebel vertolk. In 1981 het hy die rol van generaal Christiaan de Wet in die televisierolprent Die vrede van Vereeniging vertolk. Hy sal veral vir twee televisierolle onthou word, naamlik Polka in die uiters suksesvolle gevangenisdramareeks Vyfster en die geharde nuusredakteur Adam Gerber in Sonkring, waar hy onder meer teenoor Anna-Mart van der Merwe gespeel het. In een episode van PG du Plessis se Koöperasiestories was hy te sien as die gladdebek-afslaer Sampie Geel. Sy laaste rol op televisie was in die reeks Amalia, waarin hy die rol van Sampie Lourens vertolk het. Intussen het hy in rolprente soos Dada en die flower, The angel, the bicycle and the Chinaman’s finger en Oh shucks I’m gatvol verskyn.
Paul het in 2011 sy debuut as rolprentregisseur met Roepman gemaak. Dié rolprent, met John-Henry Opperman in die hoofrol, was uiters omstrede maar ’n groot lokettreffer. Hy het dit opgevolg met ’n rolprent wat gegrond is op die toneelstuk Stuur groete aan Mannetjies Roux, na aanleiding van Laurika Rauch se trefferliedjie. Onder die akteurs wat daarin te sien was, was Ian Roberts, Anna-Mart van der Merwe, Steffie le Roux, Lizelle de Klerk asook Laurika Rauch self. Tussenin was hy die regisseur van Verraaiers, wat tydens die Anglo-Boereoorlog afgespeel het. Gys de Villiers, Deon Lotz, Carel Trichardt, Stian Bam, Rika Sennett, Altus Theart en Ivan Zimmerman was onder die akteurs wat hierin te sien was. Paul se enigste rolprent as uitvoerende regisseur was Musiek vir die agtergrond, met John-Henry Opperman, Brümilda van Rensburg en Ian Roberts in die hoofrolle.
Paul se laaste rol was as At in Dominee Tienie, wat in 2019 in teaters gedraai het.
Daantjie Badenhorst